Tuesday, September 03, 2013

Oral in die alledaagse lewe vind 'n mens vreugde.

“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees."  

Hierdie vers in Johannes 15:11 volg op Jesus se woorde oor die liefde wat hy met die dissipels deel.

Volkome blydskap - dit is waarna mense op soek is. 

Soms dink mense dat jy iewers blydskap moet gaan soek en dan sal die lewe gevul wees met vreugde.

Maar blydskap kom na mens dikwels op 'n heel ander en eenvoudige manier. Blydskap is, vanuit 'n spiritualiteitshoek gesien, juis nie iewers weggesteek nie, maar is deel van 'n mens se alledaagse, bestaande lewenservaring. Dit is reeds teenwoordig in 'n mens se gewone lewe en in die ervaring om te kan bestaan. Om te leef, eenvoudig net te wees, is reeds 'n bron van blydskap. Dit moet alleen maar ontdek en raakgesien word.

Vreugde kom veral na 'n mens deur die vreugde wat 'n mens het in die blydskap van ander mense oor wat hulle aan voorspoed en seëninge ervaar.  Vreugde kom wanneer mense  hulself op 'n onselfsugtige manier kan verloor in die spesiale oomblikke wat ander mense ervaar.

Wanneer 'n mens dit ontdek, ontsnap jy aan die greep van afguns. Dit neem 'n las weg, en laat 'n mens vry om die oomblikke saam met ander te waardeer. Die ander mens is nie meer iemand wie se lewe beny word nie of iemand wat beter af is nie. Hulle goeie tye is, onderstreep geestelike denkers, 'n simbool van die goedheid van die menslike lewe en bestaan.

Egte vreugde in ander se voorspoed bring juis meer as net vriendelike meelewing wat 'n mens met 'n verborge knorrigheid en teensinnig kwytraak.  Dit bring 'n stuk bevryding om net eenvoudig spontaan vir hulle ontwil bly te wees.

Maar om saam met ander bly te wees, bring meer as net bevryding. Dit bring ook geestelike groei tot meer volwassenheid en tot 'n lewe wat minder self-gerig is. 'n Mens ontdek hoe jou eie hart spontaan en sonder inspanning blydskap kan deel. Net omdat dit in ander mense se lewens voorkom, raak dit ook 'n mens se eie lewe aan. Die skepping, ontdek 'n mens, is gevul met goedheid wat ryklik oor almal uitgestort word.

Miskien word dit een van die belangrikste geestelike oefeninge wat 'n mens kan doen: om op te let hoe geseënd ander mense is, om vir hulle daarin te wys hoe bly 'n mens self daaroor is en om dan daardeur te ontdek hoe geseënd 'n mens se eie lewe word. Spiritualiteit gaan immers om gedeelde menslikheid: wat ander ervaar, spoel oor in 'n mens se eie bestaan en word 'n simbool van die volheid en goedheid van die lewe. 'n Mens se lewensreis word avontuurliker: vreugde is lank nie meer die gevolg van 'n rondgekrappery na die goeie dinge wat 'n mens net vir jouself ervaar en moet soek nie. Dit word gevind oral waar 'n mens kom en gaan, waar mense bly ontdek hoe goed dit is om te kan leef.

Blydskap is te vinde in die alledaagse - veel meer as wat 'n mens ooit verwag. En dit alles word gedryf deur die liefde: die verbintenis wat mense met mekaar het en wat gebou is op die goddelike liefde van omgee en diens.


Blog Archive