Thursday, September 05, 2013

Hy stel nie in 16 000 miljoen rand belang nie, net in sokker.



Die familie van die vinnige sokkerspeler toe hy sy nuwe werk begin waarvoor hy R16 000 miljoen rand betaal is.


In Spanje het Real Madrid die Britse sokkerspeler, Gareth Bale, oorgekoop teen die bedrag van 16 000 miljoen rand (sestienduisend miljoen rand).

Reeds op skool het hy, behalwe vir rugby, ook sokker gespeel. Hy was so goed dat die afrigter spesiale reëls moes skryf dat hy nie ‘n wedstryd totaal domineer nie. Daarom is hy nie toegelaat om met sy linkervoet te skop nie. Toe hy nog eintlik onder sestien was het hy sy onder agtien skoolspan gehelp om kampioenspan te word. Daarna was dit net roem wat op hom gewag het. Jaar na jaar is hy as een of ander speler van die jaar aangewys. Die bekende Spaanse koerant, El Mundo (die Wêreld) beskryf hom as iemand wat die hoogte en bou van ‘n 800 meter atleet soos Steve Ovett het, die versnelling en direktheid van ‘n rugbyvleuel soos Brian Habana en iemand wat draaiballe skop soos ‘n Brasiliaan. Ander vertel hoe asemrowend sy talent is, hoe daar nie ‘n swak plek in sy mondering is nie, dat hy absolute balbeheer het, dat hy so sterk soos ‘n os is en kan hardloop, dribbel en skiet. Maar word dan bygesê: “hy is ‘n fantastiese mens.” 

Dit is maar net die bedrag wat hulle betaal om hom te laat oorkom uit sy ou klub.

Dan betaal hulle vir Bale verder ‘n jaarlikse salaris van 90 miljoen rand.

Hy verdien dus elke maand byna 7.5 miljoen rand. Dit is nou afgesien van borgskappe…

7.5 miljoen rand per maand.

Dit is nou in Spanje wat in ‘n diep put van ekonomiese ellende is en waar een uit elke vier mense sonder werk sit.

In vandag se Trouw word verwys na die webwerf “What Bale Earns,” waar elke paar minute uitgewerk word wat Bale kan koop sedert hy by Real Madrid aangestel is.

Elke vier uur verdien hy wat ‘n werker teen die minimum-loon in ‘n jaar se tyd betaal word.  Met daardie geld kan 3 700 Spanjaarde ‘n werk teen die minimum-loon kry.

Hy is vier-en-twintig jaar oud.

Maar, ontdek ek vanaand: sy onderwyser het van hom geskryf toe hy in matriek was dat hy altyd sy mede-spelers ondersteun en aangemoedig het.

“Hy is die onselfsugtigste persoon wat ek ken.” Sy familie sê hy stel nie in geld belang nie. Hy wou altyd graag vir Real Madrid gespeel het. Alles draai vir hom om sokker. Hy hou om by sy familie in Wallis te wees en is met sy meisie van skooldae getroud. Op ‘n keer het sy afrigter hom ‘n paar dae afgegee en gesê hy moet gaan vakansie hou in die buiteland. Toe sit hy af Wallis toe om by sy familie te wees.

Dit is vir haar dat hy sy hande in ‘n hart-teken maak elke keer as hy ‘n doel geskop het.

En hy hou van Nando’s….

Mooi woorde vir ‘n merkwaardige sokkerspeler.

Maar 16 000 miljoen rand?






No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive