Sunday, September 22, 2013

Spyt oor vermorste jare

Berou oor 'n mens se verlede is nie ongewoon nie. Dikwels is mense jammer wanneer hulle terugkyk na hul lewe met 'n gevoel dat hulle dit nie ten beste gebruik het nie. Mense wat in 'n tronk beland, besef byvoorbeeld dat hulle, as hulle net anders geleef het, die trauma van daardie ervaring kon vermy het.

Mense wat 'n spesiale verhouding met God ervaar, praat  ook dikwels van hulle innerlike pyn oor jare wat gemors is.  Hulle het soveel sin in God se teenwoordigheid in hul lewens dat hulle spyt het oor die verlede toe hul lewe anders was.

Dit was jare, voel hulle, waarin hulle argeloos gelewe het, liefdeloos opgetree het, onverskillig was en op nuttelose gejaag verspil het.  Hoe intenser die nabyheid van God ervaar word, hoe intenser die rou oor die verspilde verlede.

Die spyt wat  hulle ervaar, laat hulle sleg voel. Jammerte  oorval hulle met al die negatiewe gevoelens wat dit oproep.

Net soos by alle ander mense, kan hierdie spyt en rou mense in 'n verlammende greep vashou.

Dit is in hierdie tyd dat gebed 'n belangrike instrument word waardeur hulle nuwe insigte ontwikkel. Anders kan 'n mens 'n slagoffer word van sulke depressiewe gedagtes en vasval in passiwiteit.

Vir geestelike leiers uit vroeëre tye was daar duidelike alternatiewe vir 'n verlammende spyt oor wat in 'n mens se verlede vermors is: In so 'n situasie word dit vir hulle tyd om na te dink oor wie die God is wat hul lewens nuut gemaak het. Gebed bring hulle in 'n gesindheid van hoop.

Daarom bid Teresa van Avila:

"God, bron van alle ontferming, ek roem u absolute mag. Terwyl ek terugdink aan al die vermorste jare wat verloop het, glo ek dat U, Here, in 'n enkele oomblik hierdie verlies in wins kan omkeer. Ek is misrabel, Here. Tog weet ek dat U alle dinge kan doen. Gee aan my die verlore tyd terug en gee vir my U genade - nie net nou nie, maar ook in die toekoms sodat ek uiteindelik met 'n bruidskleed voor u kan verskyn."

Vertroue op God vertel van die mens se innerlike verlange om meer as ooit tevore in elke oomblik naby aan God te bly leef.  So 'n gebed bring 'n mens net dieper in die nuut-ontdekte nabye teenwoordigheid van God.

Vermorste jare? In 'n sekere sin kan 'n mens so daaroor dink. Dit is tye, en tye wat verbygegaan het waarin 'n mens die geleenthede verloor het om dieper in 'n verhouding met God te groei.

Maar dan: die nuwe tyd by God word juis so intens beleef teen die agtergrond van die leë jare. Hoe sal 'n mens byvoorbeeld die reinheid van wit beleef sonder die donkerte van swart?  Dit is juis die leë jare wat vir 'n mens die tyd by God intens laat ervaar.

En, immers, die soewereine God wat mense roep tot 'n nuwe lewe, kan 'n mens in 'n kort tyd teruggee wat verlore gegaan het. Dubbeld, en nog meer.

Trouens, 'n mens sou kon sê dat die intense meelewing met God sodat 'n mens die hede ten volle uitleef, die enigste manier is om vir die foute van die verlede te vergoed.  Dit gebeur veral deurdat 'n mens nie die foute van die verlede herhaal nie.



Blog Archive