Wednesday, September 04, 2013

Sorg dat jy mense net hierdie een ding skuld.


Vanaand is die onderhoud op Kyknet met Jaco Strydom by wie ver gevorderde kanker gediagnoseer is en wat nou behandel word as iemand wat in die laaste fase van die siekte is.

Die program fokus op sy ongekende energie. Hy is selfs as 'n baie siek man ‘n avonturier met ‘n lewensdrif wat menige een moeg sal maak net deur daarna kyk.

Vier jaar gelede het hy vir homself ‘n lysie gemaak van wat hy nog vir oulaas wil doen. Hy het byvoorbeeld met sy fiets al om Lesotho gereis en toe, onlangs, sy finale wens vervul om met ‘n fiets reg om Suid-Afrika te ry.

Die journalis vra hom uit oor sy emosies en reaksies op sy siekte. Nee, sê hy dadelik, hy is nie jammer vir homself nie. Hy kla nie eintlik nie. Hy is nie kwaad vir die Here nie en hy wil ook nie te filosofies oor sake praat nie.

Almal om hom en op die program is geroer deur sy inspirerende hantering van sy terminale siekte. Selfs die onderhoud-voerder sit met ‘n vol gemoed.

Dan vertel hy hoedat hy vrede gemaak het met die feit dat hy gaan sterf.  Hy het ook vir homself die bybelvers eie gemaak: wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê (Rom. 13:8).

Maar, en sy stem breek, die afgelope tyd het hy self afskeid van vele mense geneem wat voor hom gesterf het. En hy weet hoe voel dit om te moet leef sonder die nabyheid van mense vir wie jy lief is.

En dit is miskien al wat hom vir hom pynlik is: die feit dat sy geliefdes om hom sal ervaar wat hy ondervind wanneer hy sy dierbares mis. Dit is al wat hom pla: dat hulle hom gaan mis. 

'n Mens lees Romeine 13:8 nooit weer dieselfde nie.   



No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive