Dit gebeur met mense dat hulle op ‘n
stadium alles waarvoor hulle voorheen gelewe het, eenvoudig eenkant
toe skuif. Sommer so. Radikaal.
‘n Mens sien dit wanneer mense
afhanklik was van middele wat hulle lewens verwoes het. Op ‘n dag maak hulle ‘n totale ommekeer. Dan trap hulle uit uit die voetspore van verwoesting en loop
verbete ‘n nuwe lewe.
Maar ‘n mens merk dit ook soms by
mense wat ‘n ordentlike, goeie lewe lei. Op ‘n dag vra hulle waarvoor lewe
hulle die lewe waarmee hulle tot op daardie stadium besig was en waarin hulle
so baie belê het.
Hulle was gelukkig, tevrede, besig en
voorspoedig.
Maar op ‘n keer is dit vir hulle net
nie meer genoeg nie. Trouens – dit wat vir hulle so belangrik was, stuit hulle
teen die bors.
Hulle begin met teensin dink aan
hulle welaf, bevoorregte bestaan wat eintlik vir hulle leeg was. Alles wat so
belangrik was, word onbelangrik. Meer nog: hulle wil niks meer daarmee te doen
hê nie. Trouens: dit stuit hulle teen die bors.
Paulus skryf hieroor in Filippense
3:7-10.
Maar wat eers vir my 'n bate was,
beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou
alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in
waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik
sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees:
vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo.
Dit is mistiek: om nietiging te
ervaar, die nietigheid van jou groot eiewaan. En om vol te word van die
innerlike verlange om een te word met Christus, in wie die volle lewe te vind
is.
Wat het Paulus se kop laat draai? Sy
ontmoeting met Christus was die keerpunt. Sy groot bravade’s, sy godsdienstige
ywer, sy getrouheid aan die wet het in een oomblik vir hom soos ‘n sak vol
vullis geword – iets wat ‘n mens so gou as moontlik van ontslae wil raak oor die
onwelriekendheid daarvan.
Later sou hy aan die Korintiërs meer
hieroor skryf: dit slimmigheid van sy vroeëre bestaan lyk vir hom nou na domheid.
Wat vir hom indrukwekkend was, het vir hom ‘n verleentheid geword. En, onderstreep hy, so word Christene vanuit 'n wêreldse hoek gesien - waansinniges, dommes, idiote.
Dit is seker ook so, borduur hy voort. Want kyk waaraan hou Christene vas: aan die aanstootlike.
Juis dit wat vir hom as wetsgehoorsame Jood aanstoot gegee het – ‘n
kruis, dit word nou die diepste inhoud van sy lewe: om een te word met die
gekruisigde Christus wat alles prysgegee het. Dieselfde Christus wat selfs hemelse glorie nie hoog geag het nie. Hy het bloot net verlang om vir ander homself op te offer, slaaf te word, sodat hulle die nuwe lewe kan ontdek.
Net so, in die voetspore van Christus, wil Paulus ook sterf aan die ou dinge, sodat hy ten
alle koste een kan word met Christus en kan deel aan die ingesteldheid waarmee Christus
vir ander geleef het.
In Christus het hy die volheid
ontdek: dat ‘n mens se bestaan sy grond vind in diens, in jouself weggee, in
uitreiking na ander.
Dit is Filippense-mistiek: wanneer 'n mens jou rug draai op uiterlikhede en met 'n innerlike vryheid jou aan God oorgee.