In Rapport is daar ‘n boeiende berig
oor ‘n lelike muur in voorstedelike Johannesburg waar ‘n jong man wat sy
doktorsgraad in argeologie aan die skryf is, saam met twee mede-kunstenaars ‘n
kunswerk geskilder het.
Hier is die berig wat vertel hoe hulle hulself in die skilderwerk verloor en hoe hulle daardeur die vaal en verdrietige omgewing wil transformeer:
In een dag het hulle die reuse skildery in al sy detail en veelkleurigheid klaar geskilder, vertel Linette Retief, die joernalis, met alles van die dikste buitelyn tot die fynste nuanse wat spreek van talent, absolute toewyding en aweregse humor. Voorbeelde van laasgenoemde is ’n haai wat grinnikend deur ’n golf bars en ’n seedrakie wat al jodelende uit die voorkop van ’n blasende, blou wind duik.
Die volgende paragraaf vang my oog:
Gegewe die spoed en vernuf waarmee die muurmusketiers werk, is hulle merkwaardig rustig. Dié kalmte, verduidelik hulle, spruit uit wedersydse sinergie en vertroue. “As ons ’n opdrag kry,” vertel Jared, “besluit ons saam min of meer op ’n tema.” En wanneer hulle by die perseel opdaag, neem suiwer inspirasie oor. Raymond noem dit kollektiewe intuïsie; Jared beskryf dit as visuele probleemoplossing; Byron sien dit as aktiewe meditasie wat jou verstand tot stilstand bring.
En dan veral die sin: "Al drie stem saam dit leer ’n mens van jouself en help jou groei."
"En hulle is dit roerend eens dit maak van die dikwels eensame, angstige stedelike omgewing ’n ietwat mooier plek."
Dit is 'n boeiende verhaal: kalmte, inspirasie, ekstase, om jouself te verloor in skeppende werk, om te groei, om te transformeer.
Klink baie bekend.