Daar
is 'n wye verskeidenheid van mense na wie mense met hul geestelike siektes en
sorge kan gaan: kliniese sielkundiges, pastorale sielkundiges of pastorale werkers,
psigiaters, beraders, predikante en, deesdae ook, geestelike begeleiers.
Geestelike
begeleiding (in Engels bekend as spiritual direction), is een van die oudste
geestelike praktyke in die kerklike lewe.
Deesdae
word ander name verkies - soos mistagogie (om ingelei te word in God se
verborge wil), geestelike vriendskap of geestelike betrokkenheid. Daarmee word
die gedagte vermy dat een persoon 'n ander een vertel wat om te doen.
Mistagogie
gebeur waar twee gelowige mense met mekaar 'n gesprek voer oor 'n saak wat een
van die twee kwel en wat hy of sy met 'n geesgenoot wil bespreek. Daardie
geesgenoot is iemand in wie hy of sy groot vertroue het as 'n persoon wat saam
met hom/haar die stem van die Heilige Gees kan hoor. Hulle praat ook met mekaar
as mense wat in 'n kerklike konteks saamleef. Saam besin hulle oor 'n onsekere
situasie in die lig van hul geloof in Christus, en veral in die lig van sy lewe
en sy werk.
Die
proses van geestelike is dus nie
"raad" wat iemand aan ander
kan "gee" nie.
Dit
is 'n veel dieper, selfs verborge proses. Daar was nog altyd een belangrike
dimensie aan geestelike begeleiding: dit was nie iets wat enige iemand kon doen
nie. Trouens, so uitsonderlik was geestelike begeleiding en soveel wysheid was
nodig, dat dit as 'n gawe van die Heilige Gees beskou is. Twee mense kom saam, in afsondering, om God
se wil te soek in tye van onsekerheid, vir die toekoms in 'n gees van gebed en
afwagting op God.
Soveel
is op die spel in hierdie situasie: iemand wat nadink oor watter rigting om in
te slaan met sy of haar lewe neem 'n ander in vertroue. Dit sou groot gevolge
en implikasies inhou. Die vertroulike gesprek moet gedoen word in die lig van
God se wil vir mense se lewens, maar ook met inagneming van beide persone se
karakter en gawes. Dit raak boonop nie net die twee mense wat bymekaar kom nie,
maar ook die kerklike gemeenskap en die familie waartoe hulle behoort.
Die
gesamentlike reis gaan dus om meer as net 'n sielkundige benadering. Juis
daarom gaan die reis om 'n ontmoeting van 'n geestelik ervare persoon as
mistagoog met 'n ander persoon teen die agtergrond van hul gemeenskaplike
geloof en hul kerklike verbondenheid, maar ook in 'n konteks van stilte, gebed
en afwagting.
Juis
daarom is onderskeiding (discernment) die mees kenmerkende aspek van die
mistagogiese proses. Dit is nie bloot 'n proses waar twee mense saamkom,
ontledings doen, self-ondersoek afhandel en dan besluite neem nie. Om te
onderskei is iets heel anders as om te besluit. 'n Mens onderskei in hoe 'n
mate iemand se lewe deel kan kry in God se verborge wil vir die wêreld en
gemeenskap.