Monday, September 23, 2013

Die vrede in 'n mens en die vrede van God: oor onderskeiding


Jean Vanier, wat LÁrche begin het, skryf in sy boek Community and Growth dat hy verbaas is hoe moeilik dit vir mense is om God se wil vir hul lewens te onderskei.

Deur die geskiedenis het mense besluite geneem deur op wettiese voorskrifte te let. Hulle het objektiewe maatstawwe gehad wat hulle gebruik het. ‘n Mens moes maar net hierdie wette gehoorsaam.

Vanier skryf hoe hy agterkom dat mense al hoe meer subjektiewe maatstawwe aanlê om te onderskei en om besluite te neem. Hulle kyk veral na hulle emosies. As hulle sleg voel of bekommerd is, dink mense dit beteken dat hulle ontrou aan God se wil is. As ‘n mens goed voel, redeneer hulle, dan leef ‘n mens binne God se wil.

Op die manier skuif die klem al hoe meer weg vanaf objektiewe maatstawwe na innerlike ervarings.

Hiervoor moet ‘n mens oplet. As mense goed voel en innerlik met vrede gevul is, beteken dit nie noodwendig dat ‘n mens die vrede van God het wat alle verstand te bowe gaan nie. Dit kan bloot net beteken dat ‘n mens jouself bluf of dat jy in ‘n droomwêreld lewe. Daarom gebeur dit maklik dat ‘n mens ontnugter word wanneer ‘n mens dan met die harde werklikheid gekonfronteer word en jou innerlike vrede van jou weggeneem word.

Trouens, skryf Vanier, soms moet ‘n mens jou innerlike, emosionele vrede verloor om in egte vrede te leef. Die vrede van God groei soms juis uit moeilike omstandighede, uit vernederende ervarings of wanneer ‘n mens met persoonlike probleme saamleef. Die vrede van God is ‘n geskenk aan mense wat uit ‘n mens se binneste opkom en wat soek om ander mense te dien. Dit is hierdie vrede wat ‘n mens krag gee om jou kruis te dra.

‘n Mens moet dus versigtig wees om jou gevoelens van vrede met God se vrede te verwar.

Met ander mense kan dit gebeur dat hulle so tob oor klein dingetjies dat hulle nie meer hulle roeping raaksien om vir ander om te gee nie. En, sluit hy af, ‘n mens ontdek dikwels jou roeping as jy hoor hoe ander mense na jou roep.

Daar sit dus, besef ek toe ek die gedeelte lees, in ‘n mens se verhouding met ander mense ‘n belangrike aanwysing van ‘n mens se roeping. En dit het ‘n objektiewe karakter: om God se wil vir ‘n mens se lewe te ontdek, moet ‘n mens sensitief wees vir ‘n mens se verhouding met ander, met dit wat buite jouself lê.

Lank gelede is dit al só gestel: wie sy lewe soek, sal dit verloor. En wie sy lewe verloor, sal dit vind.
  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive