Jacques Ellul, professor in geskiedenis en sosiologie, het
bekend geraak as een van die bekendste skrywers wat in die twintigste eeu die
Bybel se boodskap van nie-gewelddadigheid beklemtoon het. Hy is ook bekend vir
die manier waarop hy uitgewys het dat tegnologie ‘n tirannie geword het met ‘n
sterk houvas op mense.
Wat ek nie geweet het nie, is dat hy ‘n gereformeerde was,
baie aktief in die Franse Gereformeerde kerk en dat hy in die tweede
wêreld-oorlog in die Franse Verset aktief was en baie Jode se lewens gered het
– soveel so dat hy as ‘n Regverdige onder die Nasies vereer is. Ook opvallend was sy bewondering vir
Kierkegaard en Barth – veral oor Barth se deelname aan die Duitse verset. Hy
het min geduld met progressiewe of fundamentalistiese teoloë gehad.
Ellul het oor die Bybelse boodskap geen twyfel gehad nie: dit
is ‘n boodskap wat politieke mag verwerp het. Vir hom is die boodskap treffend
op te som in die woord anargie: die bybel verwerp mag, die staat, ideologie en
allerhande magsgrepe.
Hoe meer ek kyk wat politici in ons wêreld aanvang, hoe meer
simpatie het ek vir hierdie siening….
Meer aangrypend vir my is die manier waarop hy waarsku teen
blindheid wat idealisme by ‘n mens veroorsaak. Mense wat teen oorlog gekant is
en hulle verset teen die staat se oorlogsugtigheid, bewonder die vyande van die
staat wat weier om aan oorlog deel te neem. Hulle ondersteun en bewonder daarom
hierdie mense wat hulle so aktief teen die staat verset. Maar in die proses
sien hulle nie hierdie vyande van die staat se ware karakter raak nie. Dikwels
is dit die vyande van die staat wat, sodra hulle die kans kry, net so
gewelddadig sal wees as die staat teen wie se geweld hulle hul verset. Kyk
maar, skryf hy, hoe het die Nazi’s in Duitsland vir die armes in die bresse
getree en toe word die Nazi’s self erge geweldenaars.
‘n Mens moet nooit die verborge geweld in mense miskyk nie.
Oppas vir ‘n idealisering. Moenie te gou die kritici van geweld steun nie. Dit
is juis hierdie kritici wat in hulle self ‘n groot klomp geweld het. Dit is
Ellul se punt.
‘n Goeie een.
Geweld, het Ellul, bly beklemtoon, pas nie by die Christendom
nie omdat dit in spanning staan met Goddelike liefde.
Wat my egter opval toe ek meer oor Ellul lees, is ‘n heel
spesiale ervaring wat hy gehad het. Hy het wel in ‘n godsdienstige gesin groot
geword met ‘n godsdienstige ma wat haar godsdiens ernstig opgeneem het, maar as
‘n jong seun was godsdiens vir hom nie belangrik nie. Sy pa wou ook nie gehad
het sy ma moes hom beïnvloed nie. Nietemin het hy van tyd tot tyd die Bybel
gelees.
Toe hy 20 jaar oud was, in 1932, het Ellul verklaar dat hy ‘n
Christen wil wees. Drie jaar vantevore het hy ‘n unieke ervaring gehad wat hom
oortuig het dat hy gelowig wil wees. Hy was besig om Goethe se Faust te vertaal
en was alleen in ‘n huis in Blanquefort in Frankryk waar hy vakansie saam met
vriende gehou het.
Skielik, sonder dat hy iets gehoor of gesien het, het hy
gevoel asof hy in die teenwoordigheid van iets oorweldigends en wonderbaarlik
was. Dit het deel van die sentrum van sy bestaan geword.
Dit was ‘n sterk, selfs brutale ervaring wat so skielik
gebeur het dat hy op sy fiets gespring en weggevlug het. Hy het besef dat dit
die teenwoordigheid van God was wat hy ervaar het. Maar hoewel hy geweet het
dat God met hom gepraat het, wou hy nie toelaat dat God hom besit nie. Hy wou
nie, het hy geskryf, deur ‘n ander beheer word nie.
Daardie oomblik het in hom bly groei totdat hy drie jaar
later finaal sy geloof bely het. Weer het iets besonders met hom gebeur: hy was
22 jaar ou en was besig om Romeine 8 te lees. Toe, eensklaps, het hy met ‘n
sekere "brutaliteit" tot bekering gekom, soos hy dit beskryf. Hy het ewe skielik heel anders na alle
dinge gekyk, met ‘n perspektief wat bo die geskiedenis uitgestyg het.
Toe hy vir sy ma daarvan vertel het, het sy lakonies opgemerk
dat dit haar nie verbaas nie omdat sy elke aand sedert sy geboorte daarvoor
gebid het.
Die interessante is dat Ellul self nie veel hieroor wou praat nie.
Toe hy op ‘n keer daaroor uitgevra is, het hy die minimum te sê gehad daaroor.
Dit maak daardie ervaring soveel oortuigender en
indrukwekkend.
Gereformeerd, 'n belydende Christen, 'n ervaring van God se onverklaarbare aanraking en ingestel teen geweld...
Dit maak sin.