Tuesday, September 24, 2013

Siende blind: wanneer mense sukkel om God se teenwoordigheid te ervaar


Hoe harder ‘n mens werk, hoe groter jou lewensgenot en jou belonings.

Veral in ‘n Afrikaanse konteks is ons trots op ons werkywer. Kinders wat hard leer en uitsonderlik in ‘n eksamen presteer, se name word uitgesonder en pryse word aan hulle uitgedeel. Atlete wat ure oefen en medalje’s insamel, se name is op almal se lippe.

Ons wil meer weet, meer leer, om sodoende groter hoogtes te bereik.

Hierdie ingesteldheid dra ons oor op godsdienstige gebied. En dit beïnvloed veral ook ons soeke na geestelike verdieping en groei op ‘n nadelige manier.

Leer my hoe om stil te wees, pleit ons by geestelike leiers, terwyl ons so besig en so aan die hardloop is.

Ons lees krampagtig boeke oor geestelike groei. Woon kampe by. Sit in Bybelstudies en praat daaroor. Hoe kan ons geestelik groei? Wat moet ons alles doen? Wie sal vir ons die beste leer?

Steeds weer ontglip die blydskap ons. Ons bly soekers wat nie weet hoe om in God se teenwoordigheid te ervaar nie.

Waar kan ‘n mens God vind?

Ondertussen skrei so ‘n houding teenoor alles wat met ons geloof te doen het. Dink maar aan die skepping. Lank voor daar mense was, het God die skepping tot stand gebring. En toe is mense ook geskep sodat God hulle kon laat deel daaraan. Die teenwoordigheid van God was van die begin af onmiskenbaar. Dit is die hart van geloof:  dat God alles begin, alles onderhou en voordurend in die midde van die skepping en menselewens woon.

Dit is wat mense glo: waar ons is, wie ons is, wat ons doen, is God teenwoordig as ‘n geskenk van God aan die mensdom.

‘n Mens leer nie om God se teenwoordigheid te ervaar nie. ‘n Mens hoef nie diepsinnig te wees, lank te studeer, aan die voete van wyse mense te sit nie.

God is in ‘n mens se lewe teenwoordig. Of ‘n mens dit nou weet of nie. En wie besonder vroom is, het nie groter toegang tot God as ander nie.

Niemand kan God se teenwoordigheid oproep nie.

‘n Mens kan alleen maar daarvan bewus raak.

Die gelowige reis beteken dat mense toeëien wat reeds daar vir hulle is.

Neem dit, dus. Ervaar dit. Rondom ‘n mens, oorvloediglik, ontdek die geloofsoog dit immers oor en oor: die oorweldigende goedheid, die oorvloed, al die seëninge, die liefdesavontuur, ‘n Mens hoef nie daarvoor te stry en te baklei nie. ‘n Mens hoef ook niemand te beskuldig dat hulle ‘n mens weghou daarvan om in God se teenwoordigheid te leef nie. Geen bitterheid nie. Niks vingerwysery nie. Geen skuld van ander uitwys nie. Neem dit, proe dit, sien dit, ervaar dit: God is daar - onvoorwaardelik, genadiglik en -  onverdiend.






No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive