Sunday, September 01, 2013

Selfs 'n vertaling van die Bybel kan 'n onreg pleeg...


Ons wêreld is nie minder oppervlakkig en vulgêr as in die tye van ons voorgeslagte nie. Elke oomblik weer, dwarsdeur alle tye, is daar 'n intense stryd teen vlakheid aan die gang.

Deur die eeue heen het denkende mense gesoek om van maklike kits-denke bevry te word en om deur te dring na die dieper dinge. 

Kyk maar na die boek Spreuke. Op elke bladsy loop 'n mens daar dik stukke lewenswysheid raak. Uit ervaring van vele word aan die leser vertel wat regtig saak maak en wat nie. En die onderliggende teks is die intense soeke na wat 'n lewe vervullend maak. En in dieselfde boek lees 'n mens gedurigdeur van die "ander", van mense wat argeloos leef, rigtingloos en sonder belangstelling vir grense en vir 'n etiese lewe.

Dit is egter nie so maklik om te onderskei tussen wat vlak is en die dieper dinge nie. 'n Mens kan Shakespeare op 'n vulgêre manier bespreek. Net so ook die Bybel. Die massa-mark vir godsdienstige boeke is die duidelikste bewys van hoe die Bybel in die hande van sommiges vermink en gedregadeer word.

Maar, vervlakking kan soms subtieler wees:  in die vertalingswetenskap was daar vir 'n lang tyd 'n wetenskaplike benadering wat daarop gefokus het om die Bybel in verstaanbare formaat te vertaal. Die riglyn was: 'n skoolkind, hier om en by graad 10, moet die teks kan verstaan. Die betekenis moet dus duidelik gemaak word. En toe kry ons die 1983 vertaling.

Dit is sekerlik waar: skoolkinders moet ook die Bybel kan verstaan.

Tog is daar ook vrae wat 'n mens moet stel: die Bybel is in vele opsigte 'n teks met uiters subtiele nuanses, gevorm deur geslagte en dekades van gebruik in godsdienstige gemeenskappe waarin lewenswysheid in sy mees deurdringende sin van die woord die raamwerk was waarin hierdie tekse gekonsipeer is. Die Bybel is 'n klassieke teks wat bestaan uit boeke wat vele kerke die wêreld oor leer ken het as spesiaal, met 'n unieke karakter en met 'n tydlose formaat. Vir hulle was, weet ons te goed, elke woord gelaai met betekenis - direk, maar ook verborge en mistiek.

Dit het onder ander meegebring dat die Bybel vir mense 'n estetiese kwaliteit het wat dit nie sonder rede een van die mees invloedryke tekste gemaak het nie. Dink maar as een van vele voorbeelde aan die gelykenis van die verlore seun, wat in sy tydloosheid, dieptestrukture van die menslike denke onthul waarvan die impak nooit uitgeput raak nie.

Dit is 'n besondere kuns om die estetiese waarde van die Bybel te behou: daarvoor moet sy vorm en oppervlakte-struktuur steeds weer met sensitiwiteit benader word.

Dit is nie verniet dat Totius, die digter, die woord-kunstenaar aan die kerk en die gemeenskap onvoorstelbaar mooi vertalings van die Bybelse teks nagelaat het nie.

Hy, die digter, het die estetiese kwaliteit van die Bybel tot sy reg laat kom.

Ek lees dus in vandag se Rapport 'n essay van Leon Rousseau wat hieroor skryf en vertel van die impak wat die 1933 vertaling van die Bybel in Afrikaans op hom gehad het.  Hy vertel hoedat gedeeltes 'n mens soos 'n vuishou slaan wanneer jy dit lees of jou roer in die eenvoud en digterlikheid daarvan.

Bloot die taal wat 'n mens praat, gee jou al weg. Maar lees liewers die volgende artikel versigtig: daar sit 'n verskriklike aanklag verskuild in die terughoudende opmerkings.




Drie digters, twee skrywers en ’n teoloog...
Leon Rousseau.


Waar anders kry jy één boek met soveel goeie ­Afrikaanse letterkunde as in die 1933-Bybelvertaling, wonder Leon Rousseau.


Nie heeltemal heiden, Moor of Mohammedaan nie, maar dan ten minste almal vir wie die Afrikaanse taal en kultuur kosbaar is, kan vandag saam dankie sê vir een van die heel belangrikste dinge wat in die afgelope 350 jaar in verband daarmee gebeur het.

Ek bedoel die plegtige ontvangs van die eerste volwaardige Bybelvertaling op 27 Augustus 1933, net mooi 80 jaar gelede.

Ek was op daardie dag 30 maande oud, en ek raai ek het toe al frases uit die Nederlandse Statenbijbel van 1637 by my ouers gehoor. Die Statenbijbel was die vertaling wat Van Riebeeck saam met hom gebring het en die een waarmee my ouers en hul voorouers grootgeword het, in 1933 al byna 300 jaar.

Die 1933-vertaling het ’n ou tradisie gevolg. Soos die King James- vertaling van 1611, die Statenbijbel van 1637 (net 15 jaar voor die volkstigting) en soos Martin Luther se Duitse vertaling van die Nuwe Testament in 1521 is dit gegrond op die Textus Receptus, wat eeue lank as die standaard-teks beskou is.

Dertig jaar voor 1933 was daar nog groot verset teen die vertaling van Gods woord in ’n plat kombuistaal soos Afrikaans. Dié verset is tot groot hoogte afgebreek deur Afrikaanse digters en skrywers soos Eugène Marais, Leipoldt, Totius, Jan Celliers en ander wat bewys het Afrikaans is tot fyn segging in staat.

Tog was daar by baie mense steeds ’n sterk gevoel dat niks die Statenbijbel kon – en moes – vervang nie. Om dié rede is baie van die bekendste frases uit die Statenbijbel in die 1933-vertaling behou, ’n besluit wat ongetwyfeld bydra tot die poëtiese indruk wat groot gedeeltes van die vertaling wek.

Selfs toe ’n ligte hersiening van die 1933-teks 20 jaar later verskyn het, is ou vorme soos “maagd” en “herder”, wat in die 1933-vertaling “jongmeisie” en “skaapwagter” geword het, teruggesit – myns insiens ’n stap in die regte rigting.

Ek noem dit ’n stap in die regte rigting omdat ’n volwaardige taal plek behoort te hê vir sowel die omgangsafrikaans van die daaglikse lewe as vir ’n Bybelse Afrikaans. Dit is bekend dat groot kunswerke wat in diens van die geloof geskep is – kunswerke soos die Sixtynse kapel, die katedraal van Rouen, die King James-vertaling en die kantates van Bach – statuur en majesteit aan die geloof verleen en dit só versterk.

’n Wonderlike voorbeeld hiervan is die passasie uit Lukas, ’n teks uit die 1953-vertaling wat ek jare lank elke Oukersaand vir my gesin voorgelees het. Tot vandag kan ek dit nie sonder ontroering lees nie: “En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.”

Afrikaans is egter nie net deur die 1933-vertaling en sy voorganger, die Statenbijbel, beïnvloed nie, maar ook deur die Luther­bibel van 1534 en die King James van 1611. In die 17de eeu en later was daar aan die Kaap ewe of byna ewe veel Duitssprekende as Nederlandssprekende amptenare.

Die Duitsers was toe al meer as ’n eeu onder die invloed van Luther se vertaling.

Vir die meeste was dit die enigste boek wat hulle geken het en dus ook hul enigste riglyn vir korrekte taalgebruik.

Tog sou mens nie sommer dink die naam van ons plant die kruidjie-roer-my nie(t) kom uit die Lutherbibel nie. Dit lyk nietemin so. Volgens die groot Duitse Bybelkenner Heinz Schäfer was die herrese Christus se woorde aan sy moeder in Joh. 20:17 “Rühre mich nicht an” (moenie aan my raak nie), die oorsprong van die Duitse uitdrukking “Rühr-mich-nicht-an” vir ’n liggeraakte mens. Dat dit aan die Kaap op ’n plant toegepas is en die naam van die plant toe weer op mense, lyk nie na ’n groot sprong nie.

Soos Shakespeare die geesteslewe van Afrikaners beïnvloed het, is dit ook deur die King James beïnvloed, maar op ’n ander manier. My hipotese is dat ons klinkende frases uit die King James bewus of onbewus in Afrikaans oorgesit het. So het ek grootgeword met die frase “deur ’n ­spieël duister” (“through a glass darkly” in die King James).

Die 1933-vertaling sê in 1 Kor. 13:12 egter niks van duister nie, maar “deur ’n spieël in ’n raaisel”, wat eintlik mooier is.

Op dieselfde wyse het die ­Statenbijbel saam met die King James moontlik ook gehelp om die uitdrukking “keer die ander wang” in Afrikaans te help bewaar.

Verreweg die grootste invloed op Afrikaans was egter die Statenbijbel en een van die deugde van die ’33-vertaling was dat dit talle, moontlik honderde eeue oue frases uit die Statenbijbel bevestig en bewaar het.

Toe ek gevra is om hierdie artikel te skryf, het ek notas wat ek vroeër gemaak het, geraadpleeg en in ongeveer 16 bladsye van Matteus in die 1933-vertaling ­lukraak afgekom op meer as 30 Bybelse idiome en/of segswyses wat algemeen in Afrikaans bekend is (16 bladsye, wat maar ongeveer 1,3% van die Bybel se stuk of 1 250 bladsye verteenwoordig!).

Om enkeles te noem:

Addergeslag (Matt. 3:7), Om die kaf van die koring te skei (Matt. 3:12);

Die mens kan van brood alleen nie lewe nie (4:4);

’n Lig het vir iemand opgegaan (4:16);

Die sout van die aarde (5:13);

Om jou lig onder ’n maatemmer te verberg (5:15);

Om hoog en laag te sweer (5:34);

Uit die bose (5:37);

Waar jou skat is, is jou hart (6:21);

Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad (6:34);

Met die maat waarmee jy meet, sal jy gemeet word (7:2);

Die balk in eie oog (7:3-5);

Om pêrels voor die swyne te werp (Matt 7:6; hoewel die woorde nie presies só in die 1933-weergawe voorkom nie);

Soek en jy sal vind (7:7);

Om jou huis op sand te bou (7:24-27);

’n Geween en ’n gekners van tande (8:12);

Om [’n plek se] stof van jou voete te skud (10:14); en

Om iets van die dakke af te verkondig (10:27).

Terwyl ek met Matteus besig was (al die voorbeelde hierbo kom daaruit), blaai ek toevallig na die Bybelboek wat dit voorafgaan, die weinig bekende profeet Maleagi, waarmee die Ou Testament afgesluit word. En op die laaste bladsy van Maleagi sien ek die eerste sin van sy kort slothoofstuk: “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ’n oond.”

Slaan daardie reël uit millennia gelede jou nie soos ’n vuishou nie?

Die teks vervolg:

“Dan sal al die vermeteles en almal wat goddelooshede doen, ’n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek... Maar vir hulle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.”

Op sulke prosa, op sulke poësie, kom jy dikwels af as jy deur die 1933-vertaling blaai.

Die Afrikaanse poësie word tereg hoog geskat, maar kry jy êrens in Afrikaans tussen die omslae van een boek literatuur van sowel die kwaliteit as die kwantiteit van die 1933-vertaling? Die hoogtepunte is te veel om aan te haal of selfs op te noem.

Ek wil niks teen latere Bybelvertalings sê nie; daarmee sou ek ewe veel bereik as wyle koning Knoet, wat die gety verbied het om in te kom.

Wat ek wel wonder, is of daar dalk plek is vir ’n hersiening van die 1933 deur ’n span bedrewe redigeerders wat die lomphede en die ergste vertaalfoute verwyder (want dié is daar ook), maar sorg dat die verhewe trant van die werk behou en selfs versterk word.

Blog Archive