Saturday, August 31, 2013

Oor die avontuur van geestelike oefeninge.


Om stiltetyd te hou is in 'n protestantse konteks 'n belangrike geestelike oefening. Dit is 'n tyd wat mense in die oggend en in die aand hou wanneer 'n mens 'n bybelteks of geestelike boek lees en dan bid.

Hierdie geestelike oefening kan heel bepland gedoen word: mense kan sistematies deur die bybel lees. Of aan die hand van 'n geestelike werk 'n bybelboek of 'n tema deurwerk.

'n Ander manier is om spontaan 'n teks te neem. Deur die oefening van lectio divina, of geestelike lees, kan 'n mens dan die teks deurlees en op 'n frase of 'n woord fokus. Hierdie woord word uitgelig en bedink: 'n mens kan die woord iewers neerskryf, teken, op 'n stukkie hout uitkerf, op 'n doek verf en dan vir 'n paar dae saam met jou dra of iewers neersit waar 'n mens dit kan raaksien.

Tog verloop die lees van 'n teks nie altyd so vas  en gedissiplineerd nie.

'n Mens kan 'n bybelteks lees bloot net vir die vreugde daarvan en dan heel spontaan deur die teks geboei word. Boeke soos Spreuke, teksgedeeltes soos 1 Korintiërs 13, die bergrede en gelykenisse van Jesus lees 'n mens nooit dieselfde nie. In een teks kan 'n mens verskeie dinge raaksien. Een oomblik val dit 'n mens by die lees van die gelykenis van die verlore seun op dat die verlore seun "tot homself gekom" het. Dan weer lees 'n mens op 'n ander dag dieselfde gelykenis met verwondering oor die pa wat die seun spontaan gaan terug verwelkom en hom aanmekaar bly soen. Of, op 'n dag val dit 'n mens op dat die oudste seun "buite in die donker"  bly staan het.

Nooit lees 'n mens dieselfde teks op dieselfde manier nie.

Maar daar is 'n nog oper kant van die proses. 'n Mens lees die teks, herken 'n woord of frase daarin en sal dit bedink. Maar dit gebeur ook dat die teks iets met die leser doen.

Wanneer 'n mens lees van die oudste seun in die donker, kan dit allerhande ervarings by 'n mens oproep. Soms sal mense dink aan godsdiens wat 'n mens so maklik trots maak en wat 'n mens hard laat word teenoor ander wat nie so getrou en goed soos "goeie"  Christene is nie.  Die vromes het 'n inherente neiging om "trots" te wees op eie vroomheid ten koste van hulle wat tussen varke beland het.

Of 'n mens kan dink aan hoe vreugdeloos godsdiens kan word: om by die Vader te wees laat 'n mens maklik fokus op harde werk, op getrouheid of op gehoorsaamheid - die drang om te presteer sit vlak onder die oppervlakte van 'n gelowige lewe.  En in die proses verdwyn vreugde en feesviering van die toneel.

Hierdie ontdekking kan 'n mens aanspoor om jouself in te stel op 'n spiritualiteit wat bevrydend is.

Op so 'n manier kan die gelykenis 'n mens op 'n nuwe soektog stuur: Watter geestelike oefeninge kan 'n mens van die swaarheid en las van godsdiens bevry?  Die geestelike oefening van bybellees stuur 'n mens se lewe onverwags in 'n nuwe rigting.

En dit is 'n geheim van geestelike oefeninge: 'n mens kan soek daarna en daarmee begin, maar iewers kan dit 'n mens neem in 'n rigting wat jy nooit voorsien het nie. Geestelike oefeninge is dinamies, oop en dus 'n avontuur. 'n Mens is dus altyd oop daarvoor dat jy nie in kontrole is nie. Trouens, egte geestelike oefening reken juis daarmee dat dit in 'n mens se lewe 'n ruimte skep waarin 'n mens nooit self in beheer is nie.

Blog Archive