Ek dink vandag na oor 'n opvallende opmerking van Meister Eckhart wat 'n mens om elke hoek en draai as 'n gewilde aanhaling raaklees: "God is tuis, dit is ons wat weggedwaal het."
Dit is 'n kriptiese aanhaling.
Die woorde is 'n toepassing van die boodskap van die Gelykenis van die Verlore Seun:
Mense gee pad van die plek waar hulle hoort. Hulle loop weg van hul tuiste.
En 'n universele ervaring is dat hulle uiteindelik ontdek hoe leeg hulle reis na "beter" plekke eindig. Alles wat al die jare opwindend klink, bring 'n mens eintlik op die ou end by die varkhok uit.
Die soektog na die opwindende lewe is 'n wilde gejaag, met 'n leƫ einde.
En al die tyd het hulle nooit besef waar hulle egte tuiste te vind is nie - die tuiste wat hulle agtergelaat het om beter te soek.
Die aanhaling vertel die universele boodskap van die menslike onvermoƫ om die verborge skat te herken. Die plek wat 'n mens eintlik vervulling gee, is te vanselfsprekend om te waardeer. Mense is so gewoond daaraan, dat hulle dit onderskat, minag en maklik prysgee.
Dit is juis op hierdie punt dat geestelike oefeninge belangrik word: elke oomblik van die menslike bestaan kan sy verborge skat opgee. Dit word 'n kwessie van oefening om dit te kan vind en te ontgin. Die mense se tuiste is nie buite hom- of haarself nie, maar in sy diepste innerlike waar God woon.
As 'n mens maar net innerlik kan tuiskom.
Ek lees vanmiddag van 'n gemeente waar die predikant as geestelike oefening vir mense leer om vyf tellings te wag voordat hulle op iets reageer.
Eers dink ek: dalk is dit 'n poging om mense te help dat hulle nie hul woede op ander uithaal nie.
Maar miskien is daar iets dieper: die vyf tellings kan dalk 'n ruimte skep waarin 'n mens jouself afvra watter goddelike geleentheid is daar om op die oomblik te reageer. Hoe sien en hoor 'n mens God raak in dit wat 'n mens ervaar. En hoe reageer 'n mens op so 'n manier dat 'n mens na God se wil optree?
Dit hoef nie te gebeur net waar mens jou 'n moeilike vraag vra nie. Dit kan 'n geestelike oefening in vele plekke wees - in gesprekke met mense, familie, vriende en met mede-werkers. Elke keer weer die berekende instelling, vyf tellings lank, om die oomblik ten volle te kan waardeer en benut met die oog op innerlike vervulling.
Terugkom huis toe is belangrik. Om te ontdek waar 'n mens tuishoort is al 'n eerste stap. Maar as 'n mens daar is, moet 'n mens nog uitvind hoe om as God se gesin te leef. En nie maar net weer weg te loop of as ouer broer nors en onvervuld in die donker te leef nie. Dit vra oefening. Maar dit bring 'n tuiskoms in innerlike vrede.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.