Keer op keer ontdek ‘n
mens hoe vindingryk en met watter verbeeldingskrag mense ontdek het dat hul
lewe, wat so vaal en doods geword het, deur dieper dinge verryk kan word. Op
baie maniere kan ‘n mens sterker, volwasser, gelukkiger en meer vervuld raak –
as jy maar net daarvoor kies. Dit is ‘n kwessie van besluite neem, van doen en
dan van intense betrokkenheid.
Ons leef te veel met ‘n
oorlewingsmentaliteit waardeur ons bloot deur die dag wil kom en daarom ‘n
ingeperkte idee het van alles wat ons gelukkig sal maak. Dit alles is deel van
ons lewe, al voel ‘n mens intuïtief
aan dat ‘n mens gelukkiger kan wees – ons weet nie net hoe nie.
Hier moet ‘n mens
dadelik byvoeg dat die “gelukkiger” nie die normale ding is wat mense as geluk
beskou nie.
Geestelike mense het
dikwels alles wat minder-bevoorregte mense graag wil hê omdat die minderbevoorregtes dink daardie
dinge sal hulle beter laat voel. Hulle het alles wat mooi is, hulle bly besig,
het ‘n gelukkige gesin en goeie werk.
Hulle ontdek mettertyd dat die
lewe uit veel meer bestaan as net hierdie “seëninge.” Soms vind hulle tot hulle ontnugtering uit dat hulle deur al hierdie dinge vasgevang word.
En dan begin hulle soek na die
diepere dinge.
En dit is hier waar ek
al meer verbaas staan oor die baie, baie geestelike oefeninge waarmee mense op
soek na vervulling is. Juis omdat hulle besef het dat al die dinge wat ‘n mens
kan begeer wat jou nie werklik vervuld laat nie, juis daarom soek hulle met
drif en verlange na wat ‘n mens werklik ‘n outentieke lewe laat lei. En in die drif ontdek hulle hoeveel dinge 'n mens innerlik vervuld kan maak.
Neem nou maar sommige
van die orde’s in die Rooms-Katolieke tradisie: in sulke orde’s kry ‘n mens al
‘n gevorderde geestelike lewe, want hier kom ‘n groep mense saam om as
gemeenskap geestelik te groei. Dit is mense wat al reeds ‘n keuse gemaak het om
nie vir hulle self te leef nie, maar om God saam met ander in ‘n gereguleerde,
patroonmatige bestaan te soek. Hulle het ‘n ent weg gevorder, maar hulle soek
na dieper vervulling.
Hulle leef dus in
afsondering: elke lid van die orde kry ‘n woonplek, ‘n sel, of ‘n bed. Hier
volg hulle ‘n ritueel en vaste gebruike. Hulle eet saam. Soms in totale stilte,
terwyl iemand uit die Skrif of uit die werk van ‘n spiritualiteitsskrywer
voorlees. Hulle neem deel aan die nagmaal, het ‘n vaste gebede-program, deel
hulle besittings, het ‘n geestelike vriend met wie hulle hul geestelike reis
kan deel en van wie hulle ondersteuning kry. Bieg, vas, gebede, sakramente,
rituele, harde werk, gemeenskaplikheid en vele ander geestelike oefeninge help
hulle om van ou gewoontes ontslae te raak, om hulle vir God oop te stel en om
in die teenwoordigheid van God te kom. Hulle kloosterlewe word verryk deur vele
praktyke wat hulle help om ‘n ruimte binne te gaan waar hulle die goddelike van
nader ervaar.
Dit klink swaar. En dit
is seker so dat hier baie “inspanning” is. Tog kan daar aan ‘n kloosterlewe ook
die uitsonderlik eenvoudige en direkte ervarings wees. Ek herinner my‘n toneel
uit The Great Silence oor die strenge lewe in die Franse Trappiste Klooster.
Die priesters leef ‘n baie presiese en veeleisende bestaan van stilte. Vir
hulle is die leefwyse ‘n lewenskeuse wat sin maak.
Maar op ‘n dag gaan
hulle uit in die natuur. Dan, wys die rolprent, lag hulle, hardloop hulle rond,
praat hulle uitbundig en stap sommer net rond.
Dit bly my altyd by: gereeld, deel van hul lewenspatroon, het hierdie monnikke hul spontane uitstappies in die natuur gehad. 'n Gewoonheid.
En dit kan ook ‘n
geestelike oefening wees: om sommer net in God se skepping te wees. Miskien is
dit ‘n geestelike oefening wat in ons tyd meer en meer gesoek kan word. Ons is
vasgeklem en vasgevang in ons kantore en huise. Ons besef nie hoe wonderskoon
ons planeet is nie. Ons kyk graag, al hoe meer, na natuurvideo’s, na wildtuine
en wilde diere. Maar ons beleef min daarvan. Daar is te veel afstand tussen ons
en die aarde, God se skepping. Of daar is te veel minagting, misbruik en mishandeling wanneer mense die skepping soos 'n vuilgoeddrom besoedel of uitbuit soos 'n stuk vleis wat verorber moet word.
In ons tyd waarin ons
liggaamlikheid as ‘n gawe beskou en veel waardering het vir wat ons gesond
maak, is dit nodig om die goedheid van liggaam en van skepping te leer ken en
‘n mens in te oefen om die skepping te eer en ons liggame met versigtigheid en met verstandigheid te geniet.
Ek het die
allerpragtigste foto’s van Keukenhof wat ek op ‘n keer besoek het. Op my
besondere helder rekenaarsskerm langs my woordverwerker, wys die foto’s keer op
keer as agtergrond.
En die merkwaardige is vir my watter detail ‘n mens raaksien wat jy nie
merk wanneer jy deur die tuin vol tulpe self loop nie. Dit is asof jy kniel langs die blom en dit van nader sien soos nog nooit tevore nie.
Dit word vir my ‘n
geestelike oefening waarmee ek die skoonheid van die skepping kan vier om na
hierdie foto’s te kyk – ter wille van hulle self, maar ook ter voorbereiding
van wat ‘n mens gereeld moet doen: om met ‘n akute sin vir waarneming elke keer
weer in die oop natuur raak te kyk. Soos iemand in ‘n mediaberig van die week
skryf: gaan kyk na die blomme in Namakwaland. Maar kniel tussen die blomme en
kyk van naby. Kyk, kyk en nogmaals kyk –
digby, van alle kante, met afwagting. Dit is wanneer ‘n mens besef skoonheid is
juis skoonheid omdat dit so uitbundig oordadig kan wees: selfs die eenvoudigste
blom, ‘n tulp met ‘n blaar of twee word ‘n skatkis van skoonheid. Wat jy van 'n afstand skaars raaksien, word deur nabyheid 'n geestelike ervaring.
‘n Mens is sommer net
daar, in God se tuin, in ‘n liefdesomhelsing, bewus van die intimiteit wat
moontlik is, van hoe die natuur ons van oneindigheid wil vertel. Amper soos
Kierkegaard wat aan die kus van Denemarke ‘n bankie op ‘n koppie gehad het om,
soos hy vertel het, uit te kyk oor die uitgestrekte oseaan tot in die oneindige horison wat hom keer op keer aan die
oneindigheid van God herinner en oorweldig het.
‘n Mens se vaal lewe kan
deur eenvoud, deur ‘n oefening in die natuur, ‘n geestelike ervaring word – oor
die rykdom van die omgewing, oor die direktheid en oombliklikheid van ‘n mens
se ervaring, asof ‘n liefdesomhelsing wat, intiem, anker-oomblikke in jou
bestaan word.
Dit alles gebeur nie
sommer net nie. ‘n Mens moet jou inoefen daarin.