Sy was ‘n ongeskoolde werker wat, getrou, nie ‘n dag se werk gemis het nie. Oor jare het sy huis skoon gemaak, saam met haar werkgewer tee gedrink, rondom die etenstafel, familie groot gemaak, lewenservaringe gedeel en lewenswysheid uitgeruil.
Ons het haar ook op ‘n keer van naderby leer ken. Sy het met die huiswerk aangegaan soos sy gewoond was en nie soos ons noodwendig verkies het nie. Sy het saam aan tafel tee gedrink en saam-saam het ons spoedig ‘n stukkie van ons lewensreis ook met haar gedeel.
Sy was toe pas terug van haar eerste reis na Israel. Jare lank wou sy al gaan, maar die finansies was nie so oorvloedig dat sy net in ‘n vliegtuig kon klim en afsit na die Here se geboorteland nie.
Uiteindelik was dit so ver. Saam met haar landsburgers vlieg sy en saam met hulle klim sy op ‘n bus om die land plat te ry. Sy praat hulle taal, deel hulle kultuur, maar was van herkoms ‘n vreemdeling, ‘n buitestaander: haar wortels was eers in ‘n ander land met ‘n warm, gevoelvoller kultuur van emosies wys en vrome toewyding.
Nou reis sy met die serebrale, nugtere, kritiese en afstandelike landgenote. Deel van hulle, maar tog nie deel van hulle nie.
En toe kom hulle almal uiteindelik aan in Jerusalem. Dit was vir haar die hoogtepunt van die reis. ‘n Lewe lank het sy met die evangelies saamgeleef: sy het haar ingeleef in die voetspore van die Here. Met die hele hart en hartstogtelik. Nou, uiteindelik, naby die plek waar Hy gesterf het, het sy ook in haar meelewende gees naby aan Hom gekom, veral in sy donker laaste dae en sy oomblikke aan die kruis.
Dus, met intense emosies het sy die plek beleef wat die gids aan hulle as ‘n moontlike graf van Christus uitgewys het. Daar het sy gestaan, vol meelewing, haar gemoed wat oorloop. Sy kon eintlik nie praat nie, vertel sy ons. ‘n Vol gemoed.
Wat haar toe vang, vertel sy, was die onverskillige houding van haar landgenote. In haar oomblik van intense ervaring, het hulle praterig en vol beduie die plek volgestaan. Kil is die woord wat sy gebruik het om hul houding te beskryf.
Later het die gids na haar gekom en sy hand om haar skouers gesit. Dit val hom, Israeli, altyd op dat toergroepe van haar landgenote almal dieselfde reageer. Ongeërgd, praterig, afstandelik kykend.
Die pelgrimstog, ‘n eeu-oue geestelike oefening van mense wat soekend na dieper vervulling op resi gaan, was vir haar van groot belang. Jare lank het sy uitgesien om die plek waar Hy geleef het, gepraat het en uiteindelik alles gegee het te ervaar. En sy was nie teleurgestel nie. Die vertellings oor wat eeue terug gebeur het, het vir haar meer werklik geword. Sy kon in die plek met ‘n nuwe, ander begrip na die kruiswoorde luister, die brood en wyn proe, die helder son voor die verduistering beleef.
Juis daarom was die kilheid van haar mede-reisigers vir haar so opvallend.
Ek dink nog dikwels terug aan haar vertelling. Hoe moet ‘n mens daardie “kilheid” beoordeel wat sy ervaar het? Want, per slot van sake, was almal wat saam met haar gereis het, pelgrims wat ten spyte van uiterlikheid, tog ook wou reis, ook van naderby wou ervaar. Deur bloot te gaan, deur die land te besoek, gee hulle iets te kenne. En verskillende mense beleef dieselfde ervaring heel verskillend. Die een sal in trane aangegryp wees. Die volgende een sal probeer verstaan, ontleed, inligting insamel en die kloutjie van die hede by die oortjie van die verlede wil uitbring. Nog een sal waardering hê, tevrede om te kon gesien het en nugter daaroor kon praat.
Wie is ons, immers, om aan ander voor te skryf hoe hulle moet reageer?
Te veel het ek in my lewe gesien dat mense wat skynbaar onaangeraak is, dikwels nie weet hoe om hul innerlike ervaring te verwerk nie. En dit dan met ‘n ongeërgdheid probeer hanteer. ‘n Mens hoef nie trane in jou oë te hê as teken dat iets in jou losgekom het nie.
Immers, het ek oor jare heen haar landgenote, meestal sulke nugtere, realistiese mense, leer ken as mense wat intens omgee vir ander. En dit konkreet, sonder veel emosies wys. Dit is, het ek ook besef, so bietjie in die kultuur ingegee, nogal gevoed deur ‘n goeie skeutjie gereformeerdheid: nie te veel van ‘n ophef maak nie. Nie te emosioneel nie. Bly verstandig, maar ook betrokke.
Op die manier dink ek na oor geestelike oefeninge: pelgrimgstogte, soos baie ander oefeninge, gebed, vas, stiltetyd, bybellees, rituele, koorsang, musiek-maak, word deur vele mense beoefen. Maar elkeen doen dit op sy eie manier, gevoed deur wie hy of sy as mens is. Tussen geestelike oefening as tradisies en geestelike oefeninge van die individu is daar ‘n dinamiese verhouding: elke mens wat bid, doen dit op sy of haar manier. Elke mens wat op ‘n pelgrimstog gaan as ‘n soeke na vernuwing en geloofsversterking, sal dit anders beleef.
Soos Perrin skryf: ‘n oefening word pas eers geestelik wanneer dit deur ‘n lewende persoon oorgeneem en beoefen word. Die potensiaal in ‘n geestelike oefening word eers verwerklik wanneer dit met die potensiaal van die individu saamsmelt.
Dus: nie te vinnig rondkyk nie. Of meet nie. Of oordeel nie. Dit is bevrydend om te kan weet dat selfs ‘n oënskynlike kil mens dalk net op sy of haar ander manier reageer op ‘n aanraking.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.