Thursday, August 29, 2013

Wraak neem.

'n Mens moet bereid wees om die gevolge van jou dade te dra. 

Dit is kenmerkend van onvolwassenheid wanneer 'n mens dit nog nie insien nie.

Dit sien 'n mens nou weer met Sirië: wanneer 'n land op 'n gruwelike manier sy burgers met chemiese wapens aanval, maak dit sin dat daardie land verantwoordelik gehou word en selfs gestraf word. Dieselfde geld vir iemand wat steel, roof en moor. 

Die vraag is net: hoe straf 'n mens persone wat onverantwoordelik en misdadig opgetree het? 

Dit is 'n teken van 'n land se beskawingspeil hoe gevangenes beoordeel word. In vele lande word daarop gefokus om gevangenes deur hul verbly in die tronk steeds weer in hul menswaardigheid te bevestig en te laat groei. Dit is lank reeds in beskaafde lande gevestigde beleid dat 'n mens iemand straf op 'n manier wat daardie persoon help om verantwoordelikheid te aanvaar vir wat hulle doen. Straf moet dus iemand hervorm en ophef. In vele tronke sal 'n mens dus sien hoe gevangenes gehelp word om ambagte te leer, verder te studeer en aan aktiwiteite deel te neem wat van hulle beter mense maak. Daarom mag gevangenes stem, moet hulle kans kry om te kan oefen en om sekere voorregte te geniet. Dit is waarom gevangenes wat terminaal siek is, vrygelaat word. Dit is, word al hoe meer besef, al erg genoeg dat iemand se vryheid drasties ingeperk word. 

Die gemeenskap laat iemand tronkstraf uitdien as straf - om so 'n persoon te laat besef dat 'n kriminele gedrag nie geduld word nie. Maar die straf is steeds weer tot beswil van die persoon. 

Dit bly daarom altyd weer 'n skok om te hoor hoe mense hul tronke sien as plekke van weerwraak waar iemand so sleg as moontlik behandel moet word vir wat hulle gedoen het.

Ek lees 'n sin in 'n berig oor die gevolge van tronkstraf op mense wat my die afgelope paar dae bybly:  tronkstraf is nie bedoel om wraak te neem nie.

Mense dink nie aan gevangenes wat as ou, bejaarde en uiters siek mense in die tronk sit nie. Mense wat nie meer helder is nie, wat aan Alzheimers lei, wat nie meer kan loop nie, of wat nie meer vir hulleself kan sorg nie. Hulle weet dikwels nie meer waar of selfs wie hulle is nie. Hulle het lank nie meer die vermoë om kriminele dade te pleeg nie. En tog bly hulle in tronke aan om hul vonnis uit te dien. 

Hulle leef in tronke waar hul versorging minimaal is. Om na hulle te kyk kos meer tyd en geld as om hulle uit ontferming vry te laat. 

Ons sien dit elke dag in vele tehuise vir ouer mense: hulle lê op beddens of sit op hulle rystoele met uitdrukkingslose gesigte, sonder belangstelling in hulle omgewing, sonder om ander te herken, sonder om vir hulleself te kan versorg. 'n Mens kan jou nouliks indink dat sulke mense ook in tronke aangehou word bloot net omdat hulle 'n sekere klomp jare gevonnis is. Hoe sinvol is dit dat sulke mense in tronke moet bly? 





No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive