Koptiese Christene in Egipte gaan deur moeilike tye met die huidge politieke instabiliteit. Van hulle kerke word afgebrand en Christene is soms in lewensgevaar.
Maar, as 'n mens versigtig navorsing doen, kom jy agter dit is lank nie 'n Christen-Moslem stryd nie. Die video hierbo moet 'n mens noukeurig luister: die aanvalle gebeur in afgeleë plekke waar daar min polisie-beskerming is. In vele gevalle is polisie angstig besig om te keer dat hulle stasies nie afgebrand word nie. Hulle kan in sekere gevalle niemand help nie.
Christene, dapper en uitgesproke, trek dus saam om hulle kerkgeboue te beskerm. Hulle is egter nie alleen nie. Ewe opvallend is dat Moslems op groot skaal betrokke is om kerke teen fanatici te beskerm. In hierdie video word dit pertinent genoem.
Die regering keer ook. Die militêre leiers het belowe dat hulle afgebrande kerke uit spesiale fondse sal laat herbou. Daar is dus duidelike sentimente onder politieke leiers om nie 'n kloof tussen Christene en Moslems te skep nie. Egipte kan nie verdere polarisering bekostig nie.
Maar ook individue reik na mekaar oor geloofsgrense uit. In een geval waar 'n klooster deur fanatici aangeval, gestroop en afgebrand is, het 'n Moslem-vrou aan drie van die vlugtende en angstige nonne veilige herberg in haar huis gegee.
Die gedagte dat Koptiese kerke afgebrand word, is traumaties: die Kopte behoort tot van die oudste kerklike tradisies in die wêreld. Hulle kosbare kerke het dikwels eeu-oue en onvervangbare kerklike kosbaarhede. Elke keer as ek so iets lees, kan ek nie anders as om vir hulle te bid nie.
Maar uit hierdie lyding staan die solidartiteit van die meeste Moslems met Christene in hul moeilike tye opvallend uit. Nie alle Moslems is fanatici en Christen-haters nie. Trouens, die meerderheid ken nie hierdie hatige optrede nie.
Aan die ander kant val dit net so sterk op watter bitsige en haatdraende kommentaar Christene teen Moslems kwytraak in die reaksie-kolomme van koerante wat berigte oor die afbrandings plaas. Ek kry soms die indruk dat Christene hulle net so fanaties in hul bitsighede en onwaarhede verlekker. 'n Mens kan nie anders as om 'n gevoel te kry dat hierdie mense iewers siek is en nie die basiese insigte van die Christendom verstaan nie.
Waarom is dit vir my so belangrik om hieroor te skryf? Al hoe meer mense verbind godsdiens met onderlinge twis, haat en onverdraagsaamheid. In die proses word godsdiens se slegte reputasie versterk. En dit terwyl juis godsdientige mense, soos nou in Egipte, in moeilike tye met groot dapperheid ontferming aan ander kan wys. Godsdiens het die potensiaal om 'n samelewing op 'n spesiale manier te versier en te versterk.
Dit moet die gesig van godsdiens wees: die uitreik na ander, wie hulle ook al is, ongelowiges, onbesnedenes, vroue, siekes en armes. Spiritualiteit beklemtoon immers: iemand wat deur God geraak is en vir God vereer, sal heiligmaking najaag waarin nie sy of haar eie belang 'n dryfveer is nie, maar juis die ontferming oor hulle wat vervolg en aangeval word. So iemand weet wat volmaaktheid is: om God se wil te doen, altyd en oral.
En daarmee is die vier kernwoorde van spiritualiteit ter sprake: verering van God, heiligheid, volmaaktheid en ontferming. So lyk godsdiens wat 'n hele samelewing kan verander.