Tuesday, August 13, 2013

Dors by 'n oase in die woestyn.


Spiritualiteit word op baie maniere verduidelik: Dit gaan in 'n mens se soeke na sin nie om "dinge" wat 'n mens soek nie, of prestasies wat 'n mens wil bereik nie. Asof 'n mens besig is met leerstellinge of met objekte. Dit gaan eerder om 'n mens se geestelike lewensavontuur. Of ander praat van 'n lewenskuns:  hoe om so te leef dat 'n mens sin in jou lewe ervaar. Of 'n mens kan ook steeds weer nadink oor verhoudinge wat transformatief moet wees.

'n Mens kan ure bestee aan sulke verduidelikings in 'n poging om te verstaan wat is dit waarmee 'n mens besig is wanneer jy nadink oor spiritualiteit.

Asof dit 'n mens vaster sal anker in die behoeftes en begeertes waaraan jy dink, werk en verlang. En 'n mens sal intrek in 'n verhouding waarna jy vurig soek.

Uit hierdie verlange word ook 'n ander gedrewenheid gebore: hoe vorder 'n mens op die geestelike reis? Hoe word 'n mens vervuld en vind 'n mens sin? Watter pad moet 'n mens loop, watter reëls kan 'n mens toepas en watter praktyke kan 'n mens inoefen?

Daaarom is daar byvoorbeeld so 'n groeiende belangstelling in Ignatius se Geestelike Oefeninge.

'n Mens kan 'n leeftyd so deurbring: op soek na verstaan, na metodes. Asof al hierdie metodes 'n mens te staan bring voor wat die diepste sin van alles uitmaak.

Dan kyk 'n mens so vas op die verstaan en al die maniere of "tegnieke" wat moet kan werk, dat 'n mens die Verborge en die Misterie nie raaksien en beleef nie.

Dit is soos iemand in die woestyn wat na 'n oase sit en kyk. En nooit die koel water van die lewe drink en inneem nie. Die groot dors, die behoefte en begeertes, word nie geles nie - so besig is 'n mens om te konsentreer op jou dors en op wat water alles kan doen. Jy sien die oase, die bron, die skepgoed. Jy is by alles wat jou dors kan les. Maar jou hand is nie in die water nie. Die moeilikste is daardie blindheid: dit alles betekendat 'n mens in werklikheid die koelte van lewensenergie en krag nie herken nie. 


Blog Archive