Seker een van die mees effektiewe beelde in spiritualiteit is die beeld
van hout wat met vuur aan die brand gesteek word. Dit is ‘n beroemde ou beeld
wat vertel waarom die geestelike lewe gaan.
Vuur dring die hout binne en droog heel eers die nat hout van binne af
uit. Alle vogtigheid wat in die pad van die vuur staan en sy werking teenhou,
wat rook afgee en verstikkend is, word droog gebrand. Die droogbrand maak die
pad oop dat die vuur orals in die hout kan intrek.
Dit is nog lank nie al nie. Die vuur wat in die hout brand, begin om dit
weg te vreet. Al hoe meer sien ‘n mens hoe die hout heeltemal getransformeer
word. Dit word verkool en word swart, begin stukkies afbreek en raak
onaantreklik en lelik.
Maar dan begin die vuur die hout aan die brand steek as dit vanself begin vlamvat.
Die hout self word nou vuur. Dit lyk soos die vuur en brand met die krag en die
warmte van vuur. Lank nie meer is dit koud en hard nie. Weggebrand word die
swart hout nou ‘n ewebeeld van die vuur wat in die hout ingekom en dit verteer
het. Die hout word, ondenkbaar, self vuur.
Terwyl ek sit en lees aan hierdie veel-dimensionele beskrywing van die
beeld van hout en die implikasies daarvan vir die verstaan van spiritualiteit, val
my aandag veral op die hout wat swart, onaantreklik en lelik word.
Die vuur vreet aan ‘n mens se ou bestaan: wat voorheen vir jou belangrik
was, word deur die verterende teenwoordigheid van God, die heiligende Gees,
onbelangrik – selfs lelik. Transformasie doen dit aan ‘n mens: dit omvorm die
mooie tot die lelike. Dit wat soos ‘n helder son in mense se lewens vir hulle
geskyn het, word in die lig van God se helder vuur, tot as gebrand. Keer op
keer sien ‘n mens dit by die groot mistici: Franciskus wat sy rykdom en aansien
herken het vir die leegheid daarvan.
Dit is die “swartheid” van die ou bestaan wat my bybly: dit is nie dat ‘n
mens verby ‘n fase in jou lewe beweeg en nou in ‘n nuwer, beter fase ingaan
nie. Die swartheid impliseer die Umwertung aller Werte. Dit is Paulus se lewe
na die vlees en lewe na die Gees: iewers
begryp jy hoe radikaal die houvas van die tydelike bestaan op ‘n mens se lewe
is. Jy is ‘n slaaf van die donker bestaan.
Dit kos vuur om jou te reinig, tot die lewe te bring – om in te sien hoe
donker daardie eerste manier van lewe was. Só wil ‘n mens nie lewe nie.
Swart en donker ervaar ‘n mens dit. Die tronk van ‘n lewelose tyd. En dan,
daardie oneindige bevryding, die wete dat ‘n mens genadiglik die vuur ontvang
het. Wat op sy beurt vervulling en blydskap gee.