In
spiritualiteit word dikwels gepraat van daardie eerste fase van geestelike
verrukking en opwinding. Dit is 'n tyd van entoesiasme, blydskap en opwinding.
Mense beleef met verwondering al die seëninge wat in die fase so veelvuldig oor
hulle pad kom. Dit is 'n goeie tyd waarin hulle verstom staan oor al die vrugte
van geloof.
Hulle
voel naby aan God te oor al die sukses-stories wat hulle beleef en die vreugde
wat hul lewens goed en mooi maak. God
voel hulle, oorlaai hulle met seëninge, beantwoord hulle gebede en is oral te
ervaar.
Onvermydelik
gebeur dit dan op 'n dag dat dinge verkeerd loop. Die glans is af wanneer dinge
nie meer so goed en mooi loop nie. Dit beïnvloed hulle geloofslewe. Mense voel
hullle bid "teen die plafon vas."
Die entoesiasme word minder. Hulle kan nie meer bid nie.
Wie
nie dan wegval nie, ontdek een of ander tyd dat daar sin is in die onverwagte
teenspoed. Dit gebeur, ontdek hulle dikwels, om van hulle beter mense te maak.
Die nuwe fase in hul geestelike lewe vorm hulle en maak hulle tot beter mense.
Hulle
ontdek nou dat hulle in die nuwe fase dat die geestelike reis 'n proses is
waarin 'n mens gedurig nuut gevorm word. En dit kan ook deur teleurstelling en
pyn gebeur. Daarom word dit 'n fase om nie aan dinge vas te hou nie en om te
besef dat seëninge van gebedsverhoring 'n las kan word: 'n mens stel naderhand
net belang in wat jy uit jou verhouding met God kan kry. Wanneer dit opdroog,
daar dor tye kom, is dit 'n manier waarop God 'n mens wil lei om verder te
groei en geestelik sterker te word. Dit kom dus deur verby alles te kyk wat nie
om God self gaan nie, maar wat 'n mens eerder verlei om op God se gawes
konsentreer.
Maar
dan kom die derde fase in hierdie groot patroon wanneer dinge nie net verkeerd
loop nie, maar mense verder begin voel asof God nie meer in hul lewens
teenwoordig is nie. Hul blik op God word verduister. Dit is die tyd van God se
weggaan.
Hier
ook ontdek die soekende mens dat sy geestelike reis op 'n nuwe manier
ontwikkel. Al hoe meer bring die nuwe fase 'n groter volwassenheid deurdat 'n
mens besef die aandag val lank nie meer op die eie behoeftes nie. Dit word nie
meer 'n kwessie van wat 'n mens self ervaar nie of watter opwinding in jou eie
lewe is nie. Langsamerhand weet hulle dat God inderdaad op 'n ander manier in
hul lewens teenwoordig is.
Gebed
neem 'n nuwe vorm aan: 'n mens bid, so vertel die wyses, om te kan vry word, om
die ego prys te gee. En dit bring 'n nuwe vryheid met 'n dieper, deurleefde
vreugde: wat saak maak, is om deel te wees van die groter skepping en familie
van God en al die sin wat dit aan die lewe gee. 'n Mens leer om God op 'n ander manier en in
'n nuwe verhouding te ontdek.