Geestelike oefeninge maak nie van iemand ‘n meer
indrukwekkende gelowige of selfs ‘n goeie mens nie. Sulke oefeninge word eerder
deur mense gedoen wat op soek is om in hul geloofslewe te groei tot groter
volwassenheid en heelheid, wat reeds hul geloof as ‘n omvormende krag ervaar en
wat die sin van ‘n lewe in gehoorsaamheid aan God vind.
‘n Mens kan geestelike oefening as ‘n intensiewe bemoeienis
om nog dieper in jou geloof te groei, onderskei van sekere kernsake of van deugde.
Om lief te hê is ‘n eienskap, ‘n noodsaaklikheid en ‘n deug. Mense wat omgee
vir ander en soek om liefdesbande aan te knoop en te verdiep, is toegewyde, deugsame
mense. Hulle soek byvoorbeeld om regverdig, nederig, ordelik, sorgsaam,
ontfermend, eerlik, betroubaar, opreg, getrou of sober te wees.
Hoe belangrik hierdie kernsake is, word duidelik wanneer ‘n
mens na die teenoorgestelde daarvan kyk. ‘n Samelewing val uitmekaar wanneer
mense nie meer ‘n lewe van toewyding en deugsaamheid soek nie. Hulle is nie
regverdig nie, maar geneig tot korrupsie. Hulle raak arrogant en ag nederigheid
nie. Hulle is selfsugtig en voel min vir ander. Hulle is onbetroubaar en ‘n
mens kan nie meer op hulle reken nie. Hulle is ontrou en gee nie om om hulle
woord te breek nie. Hulle is uitspattig, dink dit is laf om lekker gesuip te
wees en verlekker hulle in hul lewens van oordaad en luuksheid.
Hierdie dinge is dus noodsaaklik vir ‘n gemeenskap en vir ‘n
mens se geloof. Dit kan nou, verder, ‘n belangrike geestelike oefening word om
‘n mens se lewe te toets aan die hand van die vraag hoe ‘n mens in hierdie kernsake
en deugde ingroei.
Tog is dit nie die begin en einde van alles om geestelike
oefening te doen nie. Gelowige mense kan sekerlik sonder geestelike oefeninge
klaarkom. ‘n Mens hoef nie heeldag stiltetyd te hou nie. Om jou uit jou
omgewing te onttrek vir ‘n afsonderingsgeleentheid kan waardevol wees, maar
daarsonder val ‘n mens se geestelike lewe nie noodwendig uitmekaar nie. Om te
vas, kan geestelike groei bring. Minder televisie kyk, byvoorbeeld, kan ‘n
manier van vas word wat ‘n mens vry van verslawing aan vermaak maak. Om op te
hou rook met al die stryd wat dit inhou, kan ‘n belangrike geestelike oefening
word waardeur ‘n mens jou liggaam skoonmaak en weghou van ‘n gewoonte wat ‘n
gesondheidsgevaar is. Maar vas bly ‘n opsie, ‘n moontlikheid, soms selfs ‘n
aantreklike geleentheid, al is dit nie te vergelyk met ‘n kernsaak soos liefde
en regverdigheid nie – dinge waarsonder geloof nie kan bestaan nie.
Met sulke kernsake en eienskappe soos liefde, ontferming,
regverdigheid en eerlikheid is dit dus anders. Hulle kan ‘n mens nie as ‘n
opsie beskou nie. ‘n Mens se lewe doen skade op waar ‘n mens dit verwaarloos.
En tog, benewens die inspanning om eerlik, regverdig,
liefdevol en ontfermend te wees, kan ‘n mens jou deur allerhande liggaamlike
oefeninge verder in hierdie noodsaaklikhede inoefen. Deur vas, gebed,
afsondering, rituele, sakramente, Bybelstudie en vele ander oefeninge kan ‘n
mens dieper in die liefde groei, liewer vir die waarheid word en al hoe meer
omgee vir ander.
Geestelike oefeninge waardeur ‘n mens konkreet jouself
inoefen om sterker in jou geloof te groei, is nie ‘n doel in sigself nie. Hulle
doel lê juis buite hulself: om ‘n mens se verhouding met God sterker te maak en
om uiteindelik God se stem en nabyheid noukeuriger en beter as ooit te beleef.
Om ‘n mens af te sonder, om te vas, om te bid, om die Bybel te lees en om die
sakramente te gebruik wil ‘n mens steeds meer in die beeld van God vorm en ‘n
mens Christusgelykvormig maak. Dit wil ‘n mens bring om so liefdevol,
regverdig, betroubaar en ontferemend soos God te wees.
Die insig verryk ‘n mens se siening van geestelike oefeninge.
Gedurig kan ‘n mens by sulke oefeninge vra hoe hulle ‘n mens bring om die vrug
van die Gees (Gal.5-6) in ‘n mens se lewe te kan dra. En dit kan ‘n mens ook
waaksaam maak om nie geestelike oefeninge self belangrik te maak nie. So ‘n
veruiterliking kan dodelik vir gees en liggaam wees.
Geestelike oefeninge maak nie van ‘n mens ‘n goeie mens nie.
Hulle is bedoel om in ‘n mens se lewe ‘n steeds groter ruimte vir God se
inwoning te skep.