Monday, August 19, 2013

Hoe word 'n mens volmaak? Oor 'n kernmoment van spiritualiteit.



Efesiërs 1:4 het ‘n uitspraak vol roem en lof van God: “Geseënd is God wat mense uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor God in liefde te wees.” In Efesiërs 5:27 word dit nog sterker gestel:  “Christus het die gemeente deur die doop geheilig om die gemeente voor Hom te kan stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.”

Dit is boeiende woorde: ‘n gemeente word hier geteken as ‘n groep wat geen gebreke het nie. Nie ‘n vlek of ‘n rimpel “of sulke dinge nie.” “Heilig” en sonder gebrek is die geloofsgroep.

Die volmaaktheid is ‘n gawe en ‘n begeerte van God vir die lewe van hulle wat God lief het. Wie aan God behoort, is sonder gebrek en dus volmaak.  

Die siniese waarnemers kan hieroor maar net sardonies hul wenkbroue lig. Daar is geen groter skynheiligheid as binne die kerk nie, geen skerper tonge as die van vromes en hulle wat kerkbanke volsit nie. Die sondes van kerkgangers kompeteer goed met dié van buite-kerklikes. Dikwels kan ‘n mens die twee nie regtig van mekaar onderskei nie.

Hieroor is die Bybel vlymskerp duidelik.

Paulus skryf in Filippense 3:10 van sy begeerte na volmaaktheid: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood.”

Hy wil Christus ten alle koste leer “ken” en ‘n lewe van krag te lei. So het hy al in Filippense 3:8 geskryf. Dit is al insiggewende woorde: hy wens daarvoor. Hy het dit nog nie. Die bekende apostel.

Daarom voeg hy twee keer by, eers in 3:12 en dan in 3:13:

“Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie” en “ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie.”

Paulus ken dus feilbaarheid en gebrekkigheid. Hy het immers die lewe van die vlees met al die gebreke gekontrasteer met die lewe na die Gees in Galasiërs 5-6. Dit is gedeeltes wat vertel van hoe realisties hy oor die geestelike lewe dink. In Filippense 3 praat hy ook hieroor: “Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe” en “Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind” (19).

Die aardsgesindes onder die vromes.

Sy realisme is nog lank nie ‘n fatalisme nie. Daar is geen kompromie nie. Daarom skryf hy in Filippense 3:12 – 13 oor sy geestelike inspanning: “maar ek span my in om dit alles myne te maak” en herhaal weer: “ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.  Ek span my in om by die wenstreep te kom.”

Die kan ook nie anders nie. Want hierdie inspanning kan nie gekeer word nie. Dit wel in ‘n mens op.

Hy is helder dat hierdie inspanning, die geestelike oefeninge, deur ‘n goddelike krag gedryf word. Wat hom inspireer, skryf hy in Filippense 3:12 is “dat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het” en dat God hom  geroep het in Christus Jesus.” Die opstanding het ‘n krag in hom losgelaat wat hom lewenslank sou motiveer om die gawe van volmaaktheid wat God in hom geplant het en wat alles is wat die moeite werd is, na te jaag.

God skenk aan die mens volmaaktheid wat tot groot hoogtes motiveer. Die motivering is juis ook dat ‘n mens hierdie volmaaktheid deel kan word.

Die oomblik van insig kom wanneer Paulus in Filippense 3:14 praat van die “hemelse prys” wat ‘n mens behaal. Dit is nou as ‘n mens by die “wenstreep” aankom (Fil. 3:14). Volmaaktheid is dus iets wat ‘n mens reeds ontvang het, maar terselfdertyd ook iets waarheen ‘n mens op pad is.

Maar wat beteken hierdie volmaaktheid konkreet? Vir Paulus is volmaaktheid nie ‘n abstrakte waarheid of ‘n reeks van mooi karaktertrekke nie. Die burgers van die hemel, anders as die “aardsgesindes,” verwag “die Here Jesus Christus as Verlosser. Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees” (Fil.3:19-20).

Die geestelike reis, vol inspanning, sweet, stryd teen eie feilbaarheid en gebreke, bring die reisiger nader aan ‘n kragtige, volwasse verhouding waarin ‘n mens sal lyk soos wat Christus gelyk het: soos Christus wat homself gegee het vir ander deur lyding en dood heen. Soos Christus te lyk wat homself as ‘n kneg uitgegee het in diens van ander.

Volmaaktheid is om soos Christus te wees: die Een wat altyd ingestel is op die ander. Die Een wat in self-prysgawe die krag van God ontdek het. Volmaaktheid bring dan alles waaroor Filippense 4 skryf: blydskap (vers 4), inskiklikheid teenoor alle mense (vers 5), onbesorgheid (vers 6), die onpeilbare, verborge vrede van God (vers 7), die edele (vers 8), wat reg is, rein is, mooi is, prysenswaardig is (vers 8).

Vreemd genoeg: volmaaktheid bring vir Paulus ook mee dat ‘n mens jouself sal inoefen in hierdie dinge: dit is inspanning, dus, om bly, onselfsugtig, erkentelik, onbevrees en deugsaam te word. Wie hiervoor met spanning oefen en stry, sal die hemelse prys van God se intieme nabyheid in die lewe van Christus ervaar. 


Blog Archive