Juan de Valdes Leal het in die middel van die sewentiende eeu hierdie Pieta geskilder. Die Pieta was 'n gewilde motief in die kunsgeskiedenis. Die beroemdste voorbeeld is Michelangelo se weergawe in die St Petrus Kerk in die Vatikaan.
In Chicago se kunsmuseum laat die skildery my stilstaan.
Die Pieta beeld Maria uit wat die liggaam van Christus vashou nadat sy liggaam van die kruis afgehaal is. In sommige gevalle het kunstenaars ander figure bygevoeg wanneer hulle die toneel geskilder het. Sulke skilderye het as Klaaglied bekend gestaan.
Leal was veral bekend vir die manier waarop hy lig op sy figure laat val het. Ook in hierdie skildery val die lig in 'n boeiende spel op die gesig van Maria, maar veral op die lewelose, bebloede liggaam van Christus.
Die kleed waarin die liggaam van Christus is, is 'n sagte, sagte wit wat konstrasteer met die doodskleur van sy liggaam.
Maria se uitgestrekte arm, in 'n seënende gebaar, beklemtoon die leweloosheid van Christus se liggaam. Hy is dood, sê die arm wat verschrompeld hang, die kruismerk onmiskenbaar daarop.
Dikwels het kunstenaars veel van die bloed gemaak. Ook in die skildery sien 'n mens dit. Maar die ligspel trek veral die aandag. Dit bring die doodsheid van die liggaam na vore.
Die kyker weet: hy het die hoogste prys betaal. Die sagte lig en die sagte wit kleed kan niks van die verskrikking daarvan wegneem nie.