Tuesday, August 06, 2013

Nader aan jouself: oor spiritualiteit en kuns




Nouwen het sy bekende boek oor die verlore seun geskryf nadat hy heel onverwags op 'n dag die skildery gesien het wat Rembrandt oor die gelykenis van Lukas 15 gemaak het. 

Hy skryf hoe spesiaal die ervaring was. Hy het die skildery die eerste keer in die kantoor van 'n vriendin gesien: "Onverwags" val sy oog daarop. Hy kon sy "oë nie daarvan afhou nie" en was "betower" deur wat hy gesien.

Die skildery, skryf hy spesifiek, het hom iewers in sy hart geraak waar hy nog nooit voorheen geraak het nie.  

Hy het nooit kon dink, begin hy hierdie bekende boek, watter uitgebreide geestelike avontuur die skildery in sy lewe aan die gang sou sit nie.

En deur hom en veral deur sy boek het vele mense oor die wêreld sy avontuur met hom gedeel en selfs bewus geword van wat spiritualiteit is.

Spiritualiteit gaan oor innerlike aanraking, ervaring en omvorming.  Dit kan kom deur lees van die Bybel, luister na 'n preek, ervaring van 'n lied of 'n spesiale ritueel.

Of dit kan gebeur wanneer 'n mens na 'n skildery kyk, 'n boek lees of iets moois sien.

In 'n onlangse Speling word 'n hele volume van die tydskrif bestee aan hoe beeldende kuns 'n mens kan "besiel." 

Terwyl 'n skildery soos Rembrandt s'n oor die verlore seun 'n hele geestelike avontuur aan die gang kan sit, hoef dit nie altyd net uitdruklike godsdienstige kuns te wees wat 'n mens aanraak en verander nie.

Deesdae is dit juis die meer verborge vorme van kuns wat mense aangryp, skryf die redakteure van Speling. Dit is waar dat party kunsstukke vir 'n kyker vertel van geestelike ervaringe van die kunstenaar wat boeiend en selfs aangrypend kan wees. Maar daar is ook gevalle waar die godsdienstige boodskap nie so vanselfsprekend is nie, maar wat tog 'n mens geestelik aanraak. In so 'n geval gee 'n mens selfs meer aandag om die dieper insigte te kan ervaar.

Soms, skryf hulle, kan dit selfs gebeur dat 'n mens 'n stuk kuns sien wat die skrywer nie noodwendig as godsdienstig kuns gemaak het nie. Maar mense kan daarna kyk met groot aandag omdat dit hulle aanraak en verander. 'n Kunstuk is immers nie net wat die maker daarvan maak nie, maar ook wat die kyker daaroor beleef. Deur die aanraking dink die kyker na, word sy/haar belangstelling verder geprikkel en word daar in sy of haar verbeelding verskillende insigte gevorm - heel anders as wat 'n skrywer ooit kon droom.

Maar die wonderlike van hierdie proses is dat die kyker in die ervaring gebring word tot 'n dieper ervaring van hom/haarself. 'n Mens ontdek iets van jouself wat jy vroeër nie van jouself herken of geweet of beleef het nie. Jy kom "nader aan jouself", skryf die redakteure. Dit maak iets in 'n mens los: jy word geprikkel om dieper na te dink, jy word geskok, jy word nuuskierig, onrustig of dalk selfs stil. Jy word dalk ook kwaad, maar dit kan ook gebeur dat jy glimlag - of innerlike vrede ervaar, of opgewonde raak omdat jy besef dat jy 'n ervaring het wat jou lewe in 'n nuwe rigting stuur.

Kuns kan 'n mens se lewe aanraak en 'n geestelike ervaring word.

Blog Archive