Friday, August 30, 2013

Kind of kneg.

Nicolaas Hofmeyr was aan die begin van die vorige eeu 'n professor van Stellenbosch wat groot invloed op studente en op die kerk gehad het.  Daar word vertel dat die professor gereeld elke week Bybelstudie-byeenkomste gehou het in 'n lokaal waar 'n mens lank voor die tyd moes wees as jy nog plek wou kry. Die bekende Hofmeyr-saal op Stellenbosch (Kerkstraat), is spesiaal gebou om plek te kry waar die weeklikse byeenkomste gehou kon word.

Ek lees tans 'n nuwe boek van Brummer waarin hy skryf oor Hofmeyr as een van die oorsponklikste en skerpsinnigste teoloë wat die N.G.Kerk ooit voortgebring het. Brummer het teologie as 'n liefdesverhouding gesien. Wat tel is nie of 'n mens al jou feite agter mekaar het nie, wat saak maak is of 'n mens in 'n liefdesverhouding met God leef.

Vir hom as teoloog was die hart van 'n mens se geloof die ervaring van kindskap. Hofmeyr vertel dat hy reeds as 16 of 17 jarige  'n spesiale ervaring gehad het dat hy 'n kind en erfgenaam van God was. Hy het nooit daaraan getwyfel nie. Maar hy het eers in sy veertigerjare begin besef wat dit beteken om 'n kind of erfgenaam van God te wees en hoe anders dit is as om 'n kneg van God te wees.

'n Kind, verduidelik hy, leef in 'n liefdesverhouding met sy Vader.  'n Mens verstaan wat dit beteken wanneer 'n mens die metafoor van "kind" vergelyk met die metafoor van "kneg." 'n Kneg werk vir 'n baas en het 'n ooreenkoms om 'n prestasie te lewer waarvoor hy vergoed word. Baas gebruik 'n slaaf of kneg om sekere take uit te voer. 

Galasiërs 4:7 kontrasteer hierdie twee metafore: "Daarom is jy nie meer 'n dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan is jy ook erfgenaam van God deur Christus."

Die verhouding tussen God en mens in die geloof is eerder soos 'n verhouding van 'n pa met 'n kind. Die kind is nie maar net iemand wat luister wat die baas wil hê nie. 'n Kind het dieselfde begeertes as sy pa. Wat vir die pa belangrik is, is ook vir die kind belangrik. Daarom is dit vir 'n kind so belangrik dat sy pa gelukkig sal wees. Net soos 'n pa graag wil sien dat sy kind gelukkig sal wees. 

Maar dit is Hofmeyr se verduidelik van hierdie liefdesverhouding wat my boei: Oor en weer is pa en kind deel van 'n verhouding waarin hulle mekaar vertrou en vir mekaar omgee. Hulle weet dat hulle in liefde aan mekaar verbonde is.  Hofmeyr praat van "wedersydse identifikasie." Vader en kind identifiseer in liefde met mekaar deur elkeen die belange van die ander sy eie te maak. Hulle is dus een in liefde omdat hulle belange een en dieselfde is. 

Maar Hofmeyr beklemtoon dat vader en kind ook van dieselfde wil is. Die kind dien die vader vrywillig. 'n Kind begeer om 'n pa se wil te doen. 

Daar is dus die allernouste band tussen vader en kind, tussen God en gelowige.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive