Thursday, August 22, 2013

Om jouself vir God te gesel?



Geestelike oefeninge kan soms met “geestelike” dinge soos gebed, afsondering en meditasie verbind word en dan word vergeet dat sulke oefening dikwels heel konkreet en liggaamlik is. Dit is duidelik byvoorbeeld wanneer ‘n mens vas – ‘n oefening wat sterk op die liggaam ingestel is of wanneer ‘n mens deur gebedskrale met jou hande fokus op gebede.

Maar selfs afsondering het te doen met ‘n mens se liggaam en met fisieke omstandighede, soos om jou fisiek in die natuur en in stilte terug te trek om innerlike balans te vind en van die geraas in jou lewe ontslae te raak.

Die konkrete en die liggaamlike word ook duidelik wanneer mense praat van geestelike oefeninge as die “dissiplinering” van ‘n mens se liggaam. Die woord klink nie altyd so goed op die oor nie. “Dissiplinering” kan negatief bedoel word asof die liggaam ‘n bron van kwaad is wat in die pad van geestelike volwassenheid staan wat ‘n mens onder bedwang moet kry. Des te meer omdat dissiplinering as woord ‘n perverse betekenis binne ‘n sado-masogistiese konteks het.

Dit is egter nie waaroor dissipline gaan nie, juis nie in ‘n geestelike konteks waar die liggaam as God se skepping bewonder en gevier word nie. Veral in ons tyd word beklemtoon dat die liggaam ‘n gesonde, belangrike gawe is wat ten volle gewaardeer en beleef word.

Die negatiewe siening van dissipline kom veral in sekere oefeninge na vore. ‘n Bekende voorbeeld is wanneer sommige mense hulleself gesel. Dit is ‘n baie ou vorm van geestelike oefening. Hoewel dit op ‘n stadium ‘n gewilde praktyk in kerke was, is dit later verbied en mense wat dit beoefen het is getug. Dit het veral sedert die tweede Vatikaanse konsilie in die Rooms-Katolieke kerk grootliks in onbruik geraak. Tog bly dit nog voortleef. In die Sistersiaanse orde is self-geseling dikwels as ‘n gereelde oefening op ‘n Vrydag gedoen. In sekere hoogs konserwatiewe ordes (soos die Opus Dei) slaan monnike tydens hulle stiltetyd vandag nog hulleself steeds met swepe op die rug. In 2010 het die self-geseling en vloer-slapery van Pous Johannes Paulus 2 mense geskok, toe Slawomir Oder dit in ‘n boek vir die eerste keer bekend gemaak het en dit wêreldwyd sensasionele nuus in die media was. 

Die voorstanders van die praktyke van geseling en self-opoffering het allerhande argumente om die positiewe aspekte daarvan uit te wys. Hulle sê dat dit nie sommer ‘n oefening is waarmee jy jouself stukkend slaan nie. Dit is veronderstel om nie wonde te veroorsaak of ‘n mens te laat bloei nie. Die simboliek van die oefening kom byvoorbeeld na vore al klaar in die manier waarop die gesel gemaak word. Spesiale swepe, latte of takke word daarvoor gevleg, die geseling vind byvoorbeeld op die rug plaas en dit word nou met gebed verbind. Die gesel is in vele gevalle nie bedoel om ‘n mens stukkend te slaan nie – daarom is die gesel self slegs knope wat in toue aan ‘n handstuk vasgemaak word. Soms word dit vir ‘n minuut of twee gedoen met ‘n sagte gesel wat ‘n mens ongemaklik laat voel, maar nie pyn veroorsaak nie. Hulle beklemtoon dat die geseling ‘n mens ongemak laat ervaar, maar nie jou liggaam vermink of seermaak nie. Dit moet ook nie letsels veroorsaak nie. In die meeste ordes was geseling voorts slegs moontlik in gesprek met ‘n geestelike begeleier wat besonder volwasse en sensitief is. Sulke geestelike oefening is ‘n private saak wat nie uitgestal word nie en wat nooit alleen, ter wille van bewondering of tot nadeel van jou liggaam gedoen mag word nie. Dit word ook nie gedoen om goed te voel nie.

Daar word nou verder geargumenteer dat mense hulle self gesel as teken van berou, omdat hulle die voorbeeld van Christus volg, hulle solidariteit met sy lyding beleef of omdat hulle ‘n intense stryd teen vleeslike begeertes voer. Ander weer beklemtoon dat dit ‘n manier is om heiligmaking na te jaag. Dit gaan vir hulle nie om ‘n prestasie nie, om ‘n goeie daad of om te doen wat reg is nie. Dit is ‘n manier waarop hulle lyding op ‘n simboliese wyse kan uitdruk en beleef. Verder glo mense ook dat ‘n mens se blootstelling aan lyding vir jou sensitief maak vir die lyding van ander mense en jou aanspoor om daarteen in opstand te kom.

‘n Mens hoef nie ver te gaan soek om uit te vind dat hierdie argumente groot opslae veroorsaak nie. Die meeste mense reageer ontsteld dat sulke stellings ‘n praktyk wil regverdig wat gevaarlik vir iemand se geestesgesondheid kan wees. Mense is gou om hierdie oefening te kritiseer, veral omdat hulle bekommerd is dat dit ‘n geestesafwyking kan wees en mense dit misbruik om hulle eie liggame op ‘n masogistiese manier te skend. Ander weer dink dat dit ‘n vorm van geweld is, waardeur ‘n mens die goedheid en skoonheid van jou liggaam ontken en skade aandoen. Nog ander wys daarop dat sulke oefeninge dikwels ‘n vorm van seksuele perversie is en kan veroorsaak.

Daar is goeie redes vir sulke argumente. Vele grusame voorbeelde kan genoem word waar mense inderdaad op ‘n perverse manier hul liggame in die naam van godsdiens vermink.

En tog, dit is nodig om te vra wat die onderliggende boodskap is wat deur die “sagte” weergawe van self-geseling gekommunikeer word. Wat wou godsdienstige mense, self bewus van die gevare, met die oefeninge sê?

Dit is sekerlik waar dat ‘n mens sekere inherente begeertes en drange het wat jou kan benadeel en skade veroorsaak. Dit is dikwels ‘n verleiding om ander mense te misbruik of selfs te mishandel. Ons liggaamlike begeertes na voedsel, drank, plesier en gemak kan ons lewe oorneem en daardeur verwring word. Wanneer ‘n mens hierteen wil waak en stry, gaan dit om self-beheersing. Met self-beheersing is ‘n mens ingestel daarop om nie selfsugtig op te tree nie of om jouself skade aan te doen nie.

Sommige mense sou daarom ‘n “simboliese” manier van dissiplinering kan ontdek in ‘n heel eenvoudige gebaar wanneer ‘n mens ‘n pakkie sigarette weggooi wat jy wou gerook het. Of om nie ‘n sjokolade te eet wanneer jy oorgewig is nie. Een sigaret, een soet lekker kan jou liggaam weer sus. Om dit dan juis nie te eet of te rook nie, kan jou hoogs ongemaklik laat voel. En, as iemand wat steeds dieper nadink oor die geestelike lewenskuns, kan ‘n mens hierdie keuse vir die pyn van onttrekking nog dieper anker deur die geld wat jy aan rookgoed of sjokolade sou spandeer het, aan mense te gee wat honger ly. Jy kasty jouself, om bevry te kan word van jou eie verslaafdheid en gebondenheid tot ‘n lewe van vryheid en diens.

Sou ‘n mens dit ‘n “nuwe” geestelike oefening kan noem? ‘n Oefening waarin jy die ongemak van ‘n sober leefstyl jou eie maak ter wille van die groter goed wat daaruit sal voortvloei? Watter moontlikhede is daar in nuwe vorme van geestelike oefeninge soos wanneer mense op ‘n koue vloer slaap sonder matras of kombers, net koue water gebruik om te was, klere van growwe materiaal dra (soos wat pous Paulus 6 onder sy hemp en Moeder Teresa gedra het) en om te voet pelgrimstogte te onderneem? 


Hoe vergelyk ‘n sober lewensstyl, om eenvoudige klere te dra, om in allereenvoudigste omstandighede te woon, om net die basiese lewensmiddele te gebruik, met ons moderne praktyke: Dieselfde mense wat geskok is oor “middeleeuse” praktyke, laat self hulle liggame tattoëer, hul ore en spiere vir ringe deurboor, botox inspuit, op hoë hakke loop, terwyl hulle vele ander nare dinge aan hul liggame doen wat dikwels dissipline van jou liggaam na iets onskuldigs laat lyk.

Een ding staan soos ‘n paal bo water – en in vele opsigte is ons moderne gemeenskap hieroor gelukkig goed ingelig. Die liggaam is nie sleg nie. Ons liggame, as ons dit oppas as ‘n gawe van God, is ‘n bron van ‘n vervullende en gelukkige lewe en iets om te vier. Ons liggaam is ook nie vyand van ons geloof wat ‘n mens afsterf nie. Om ‘n mens se liggaam aandag te gee, kan gedryf word deur die wete dat ‘n mens se liggaam ‘n tempel is, ‘n heilige ruimte is waar God wil woon en daarom ‘n plek is waar die kwaad nie pas nie en wat ook nie verwaarloos moet word nie. ‘n Mens ontdek hoe ‘n liggaam, goed opgepas en versorg, die lewe op ‘n spesiale manier plesierig en goed maak. ‘n Mens se liggaam, leer ‘n mens dan deur geestelike oefening, is nie daar bloot net vir jouself en vir jou eie plesier nie. Dit is ook ‘n gawe aan jou om in verhouding met Ander geniet te word – in ‘n verhouding met iemand anders, in familie-verband wanneer pa, ma en kinders in die branders baljaar of saam in die veld gaan stap, of wanneer hulle swoeg in sweet met grassny vir ‘n mooi tuin. Die dissiplinering van ‘n mens se liggaam, in watter vorm ook al, kan self ‘n manier word om die greep van dwelms op ‘n mens se lewe te breek.

Kan die dissipline van self-kastyding hierdie soort van persoonlike en sosiale lewensstyl inburger en inoefen sodat dit ‘n lewenskuns word?

Die uitdaging is om ons bewussyn van die wonderbaarlikheid van die liggaamlike, deur te trek om ook die geestelike implikasies van liggaamlikheid te besef, te soek en na te jaag. En om te ontdek watter goed ‘n mens deur die wonder van ‘n liggaam vir en in diens van ander kan doen.

Soms sal dit disspline vra om te sterf aan jou eie belang. ‘n Mens kan deur geestelike oefeninge steeds weer in gesprek tree met jou liggaam en sy onredelike, soms banale eise en jou dan inspan om “nee” te sê vir wat afbreek en skade kan doen. So kan ‘n mens stilweg, sonder dat ander dit hoef te weet, op ‘n simboliese manier, al biddende, maar ook as ‘n nie-gewelddadige ritueel jouself dissiplineer en kasty. Dit alles doen ‘n mens nie om jou liggaam af te breek nie. Steeds weer is dit daarop ingestel dat God se bedoeling met die liggaam as ruimte waar die heilige inwoon, ‘n werklikheid sal word. Dit is ‘n geestelike oefening, wat ‘n mens om God se wil doen.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive