Fra Angelico se fresko van priesters met tonsure.
Mense sê deesdae al hoe meer hulle soek na stilte, sonder hulle af, mediteer en bid. Dit is van die bekendste geestelike oefeninge van ons tyd.
‘n Hele paar stel belang in vas as ‘n ander baie bekende en tradisionele vorm van geestelike oefening.
Dan is daar nogal ‘n belangstelling in sulke beroemde tekste soos die Geestelike Oefeninge van Ignatius van Lojola wat ‘n mens help met die geestelike oefening van self-toetsing.
Die belangstelling in geestelike oefening ly onder ‘n gebrek aan ondervinding, maar ook aan kreatiwiteit. Ons het nie soveel ervaring van watter vorme van oefeninge daar is nie, daarom gebruik ons so min oefeninge en daarom weet ons ook nie watter baie moontlikhede daar vir nuwe vorme van oefeninge is nie.
Veral belangrik is dat ons nie altyd weet waarom ons oefeninge doen nie. Ons besef ook nie dat die tradisionele oefeninge tuishoort in sekere kontekste en dat sekere tradisies kenmerkende oefeninge gehad het.
Ek onthou hoe ons kleintyd, gedreig met die Roomse gevaar, vertel is van nonne wat onder hul kepse kaalgeskeerde koppe het en wat jou, as hulle jou alleen kry, vang en toesluit en dan jou hare ook stomp afskeer. Ons het altyd met respek na nonne gekyk en gehoop die wind fladder sterk sodat ons hulle kaal koppe (op ‘n afstand) kon raaksien.
Hierdie belewing verskil radikaal van die besondere waarde wat sommige geestelikes aan die skeer van hul hoof geheg het. Vir hulle was dit ‘n baie belangrike geestelike oefening wat hulle innerlik verryk het.
In sommige Christelike tradisies beroep priesters en monnike wat hulle hare skeer, hulle op Handelinge 18:18 waar Paulus ook sy hare afskeer. Later sou die tonsuur, die skeer van hare, meestal in die vorm van ‘n kroon, so belangrik word dat ‘n geestelike sonder geskeerde hare uit sy amp gesit kon word.
Die innerlike betekenis van die tonsuur het op die manier soms veruiterlik geraak. Dit was egter in vele gevalle ‘n sinvolle geestelike oefening waarmee iemand deur sy of haar liggaam wou wys dat nie sy eie wil in die sentrum van sy/haar lewe staan nie. Deur jou hare prys te gee, offer jy uiterlike skoonheid op. En die doel van hierdie self-opoffering is om jou in te stel op God se wil. Wat tel is nie wat jy wil nie. ‘n Mens dissiplineer jou liggaam om geestelik volwasser te word en om nie deur uiterlike dinge gebind te word nie. “Hy moet meer word en ek minder” – sou ‘n gepaste Skrifwoord vir hierdie instelling wees.
In sommige gevalle was daar ook ‘n ander rede vir die sny van hare as ‘n geestelike oefening. Daar is dit dan gereken as ‘n manier om minder tyd aan die ydele versorging van ‘n mens se uiterlike te hoef spandeer.
Vir vele mense deur die eeue was die afsny van hul hare ‘n manier waarop hulle geestelik sterker kon word. Wie bereid was om hul liggame te beheers, word uiteindelik meer sensitief vir dieper sake as bloot net ‘n mens se liggaamlike behoeftes en drange.
Dit is nogal ‘n gedagte wat in ons tyd nuttig bedink kan word. Veral as ons dink hoe ons ingestel is op modes en op nuwe klere-giere. Vanaand is daar juis ‘n nuus-item op die Vlaamse televisie dat mense nie meer sommer net nuwe klere koop nie. Weens die moeilike ekonomiese tye, soek hulle nou kleremakers op wat hul ou klere kan verstel of regmaak. Hulle word gedwing om spaarsamig te lewe. Hulle lewe soberder: dit is belangriker om kos op die tafel te hê as ‘n kas vol nuwe klere.
Binne ‘n geestelike konteks sal so ‘n sobere lewensstyl geestelike waarde hê: ‘n mens ontdek dat jy nie deur jou klere innerlike vervulling ervaar nie. Selfs die teendeel is waar: deur ‘n mens se materialistiese ingesteldheid raak ‘n mens die slaaf van modegiere. Jy kom agter dat klere van ‘n vorige jaar nog net so goed dra. En as jy ingestel is om net genoeg te hê, het jy groter begrip vir mense wat nie het nie. Of vir dinge wat jou werklik gelukkig maak.
Om die nuutste en mooiste en duurste haarstyl te hê, sal nie die kwaliteit van jou lewe verseker nie. Nou word dit ‘n geestelike oefening om met die netjiese minimum van klere uit te kom. Daar is immers vele, vele ander dinge wat ‘n mens se lewe die moeite werd kan maak.
Hieruit kom die uitdaging: op watter maniere kan ‘n mens jou liggaam in diens van God en van ander mense stel, sodat dit nie om jou self gaan nie? Hoe kan ‘n mens deur jou liggaam ‘n gelukkiger en sinvolle lewe vind?
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.