Monday, August 12, 2013

'n Bloeiende hart in die aangesig van lyding.








Rene Rosmolen het hierdie moderne uitbeelding van die tradisionele stasies van die kruis gemaak. Die boonste een is 'n uitbeelding van Jesus ter dood veroordeel. Die tweede een is 'n piëta, met Christus in die hande van sy ma na die afhaal van die kruis.

Rosmolen se kuns is nie net 'n paar intuïtiewe hale van 'n kwas nie. Hy vertel dat hy inspirasie put uit werke van ander moderne kunstenaar soos G. Baselitz, M. Lüpertz, J. Elburg, E. Weichman, S. Bramly en B. Rheims. 

Maar hy put ook veel dieper in die geskiedenis, soos byvoorbeeld deur te leer van die bekende en aangrypende Isenheimer-altaar van Matthias Grünewald.

Selfs die manier waarop hy die skilderye maak, vertel 'n boodskap. Hy gebruik 'n kollage-tegniek, waardeur hy die skildery uit fragmente en stukke opbou. Daarmee wou hy beklemtoon dat lyding van  'n verskeurde werklikheid vertel. 

Lyding hoort nie by die lewe nie. Dit was op stukkendheid en verskeurdheid.

Wanneer 'n mens na die kruis kyk, het 'n mens dus veral met lyding te doen: en in 'n mens se eie lewe kom lyding byvoorbeeld oor jou wanneer 'n mens iemand of iets kosbaars verloor - soos 'n geliefde, of jou werk of jou gesondheid. 

Rosmolen stel dan 'n baie interessante vraag: hoe dra 'n mens jou verlies sonder om jou selfrespek te verloor? En dan die tweede vraag: Hoe kan 'n mens jou pad vind tussen onmag en wilskrag?

Maar eers net iets oor hoe Rosmolen sy skilderye maak. In die stasies van die kruis wil hy nie te veel karakters afbeeld nie. Hy probeer nie al die historiese detail invul nie, skryf hy.  Daarom sou hy byvoorbeeld die kruistoneel sonder soldate teken.

Dit beteken dat die persoon wat na die skilderye kyk Christus voluit in die gesig kyk. Deur die konfrontasie word die kyker uitgenooi om haar of sy eie lyding te bedink of om ook te kan identifiseer met die lyding in die wêreld. Op die manier neem mens al 'n stap in die rigting van behoud van self-respek: jou lyding bekyk 'n mens in die lig van Christus s'n.

Maar hier hou dit nie op nie. Rosmolen is bewus van die verborge boodskap van die kruisweg. Die lyding van Christus, sluit hy af, maak mense bewus van die misterie van God se teenwoordigheid in die lyding.

Hoe dan, dink ek, help dit alles 'n mens om jou eie lyding met waardigheid te dra sonder self-respek te verloor?

Steeds weer, onthou 'n mens, dat lyding gedeel is. Dit is eintlik nie deel van die lewe nie. Dit kom oor jou, ongevraagd. En in daardie lyding is jy nie alleen nie. Selfs God sê lyding die stryd aan...

Die gesigsuitdrukkings op beide skilderye, maar veral die kleure boei. En dan, in die onderste weergawe, boeiend, die bloeiende hart wanneer  die vrou in die donker, vuurrooi verborgenheid van lyding instaar - met in haar hande, die nabyheid van die wit, lewelose liggaam van die Seun, van lyding wat hare geword het.

 

Blog Archive