Monday, August 26, 2013

Spiritualiteit as omvorming en die geestelike oefening van self-ondersoek




Sonder die begrip omvorming of transformasie kan 'n mens spiritualiteit nie verstaan nie. 

Wanneer 'n mens 'n nuwe lewe soek, beteken dit altyd dat jy afsterf aan die oue, aan wat jou vasbind en onvry hou. 

Omvorming beteken immers dat die ou vorme in nuwe's omgesit word. Ou wynsakke word nie gelap nie.

Dit klink alles goed en mooi: almal wil tog van 'n wurm tot 'n skoenlapper ontwikkel. Almal droom van vlinder-word.

Maar wat 'n mens nie bereken nie, is die inspanning wat dit kos. 

Net so graag soos wat mense mooi, anders en nuut wil word, net so graag hou hulle aan die bekende vas. Hulle weet immers wat verkeerd is en hou daarby. 

Min besef mense dat transformasie beteken dat 'n mens soms radikaal van oortuigings verander.  Dit is die Paulus-verskynsel: wat vroeër vir jou vyande van God was wat met goed en bloed uitgeroei word, word ewe skielik vir jou 'n broer en 'n suster wat saam met jou die nuwe familie van God vorm.  

Maar Paulus se omkering staan naas Petrus se verdiepingservaring:  hy het teen sy neus afgestaar na mense wat wel in die familie van God opgeneem is, maar hy wou hulle op sy voorwaardes aanvaar. En toe verander God hom soos die hoenderhaan hierbo: die partytjie, die vrolike geniet van God se genade, die gemeste kalf in die Vaderhuis het hom taamlik verniel. Byna byna het hy soos die verlore seun diklippe in die buitenste duisternis gemor omdat God aan "onwaardiges" soveel genade betoon het.

Maar Petrus het uiteindelik wel partytjie toe gekom: en uiteindelik ook, in Handelinge 15, die evangelie van bevryding tot in sy radikale konsekwensies begryp en verkondig.

Hy is getransformeer van 'n apostel wat God se genade wou inkort tot 'n apostel wat God se genade bly gevier het. 

Dit was vir hom pynlik. Maar dit het hom vrygemaak. 

Spiritualiteit gaan om bevryding, om verandering, om te word wat jy eintlik nie wou wees nie. Wie die geestelike weg loop moet hom of haar regmaak om verander te word. Dit beteken miskien dat 'n mens baie ou, vertroude posisies moet prysgee en nuwe dinge moet doen - 'n Nuwe Testament naas die Ou Testament. Om groter dinge as Jesus te doen, soos Johannes-Evangelie beloof. 

'n Waagstuk, 'n avontuur wat, so sal die vrugte uitwys, altyd vir 'n mens vry maak, volwasser maak en nader aan God bring.

Altyd, altyd gaan dit om transformasie. Die vreugde van groter nabyheid aan wat saak maak - deur  reiniging en suiwering.

Dus: 'n belangrike geestelike oefening is hierop ingestel: om elke dag self-toetsing toe te pas, a la Ignatius - met die vraag: wat, in my, het vandag in die pad gestaan van God se transformerende werking? 

Blog Archive