Saturday, August 03, 2013

Om met die hart te dink.

Oral sien ons om ons hoe lewens gered word deur nuwe ontwikkelinge.  Ingenieurs, bioloë, medici en natuurwetenskaplikes vervaardig produkte wat die lewe makliker en interessanter as ooit maak.

Elke keer is daar weer die bewondering vir die menslike vernuf.

Wanneer ‘n mens te doen kry met iets onbekends of ongewoon, sit jy af na die naaste kundige of span jy die beste soekenjin in om uit te vind hoe jy daaroor moet dink of hoe jy kan reageer daarop.

En steeds weer sien ‘n mens hoedat selfs in die kleinste dorpie en selfs die kleinste kind mense verlig en ingelig word oor die ongekende moontlikhede van ons beskawing met sy wetenskappe.

Niks word aan hierdie speurvernuf en kreatiewe vermoë van die mens onttrek nie. Die brein is koning.
                             
Ek wonder dikwels in onlangse tye waarom mense soos die mistici wat op 'n nuwe en intieme manier 'n ervaring van God gehad en met ander gedeel het, deur die eeue heen so heftig vervolg is.  Die voorbeelde is veel – en dit begin al by Jesus vir wie mense nie verstaan het as Hy vir hulle vertel het oor die intieme band wat ‘n mens met God kan hê nie. Sy spreke oor ‘n nabye, liefdevolle God wat soos ‘n verterende vuur mense liefhet en nadertrek, het verby al hulle gevestigde opvattings gestrek en hulle van hul sekerhede ontneem. Hy het God beleef soos niemand voor hom nie. En, aangevuur deur hierdie ontmoeting met God en eenheid met die Vader, met mense sy ervaring gedeel.

Toe kruisig hulle hom. Want hulle wou nie verstaan nie.

Hy was nie die eerste een en sal ook lank nie die laaste een wees nie.  ‘n Mens waag veel as jy buite die magstrukture en die vaste opvattings oor godsdiens praat.

Dink maar aan die gloed van die Pinkstergebeure wat die eerste dissipels oorweldig het en waaruit gloednuwe gemeenskappe ontstaan het.  Met verloop van tyd het hulle groter geword, het die oorspronklike vuur sagter begin brand en toe kouer begin raak. Deur die geskiedenis sien ons wat gebeur: dikke boeke word geskryf, lang vergaderings word gehou, teologiese dispute gevoer, besluite geneem, belydenissskrifte opgestel en allerhande voorskrifte ingestel.

Daar is op sigselwers nie iets daarmee verkeerd nie. Maar te dikwels het dit gebeur dat wanneer die vuur deur sommige skielik opnuut beleef word, die gloed weer iewers in iemand se lewe op ‘n nuwe manier uitstraal en nie deur al hierdie verskynsels verklaar word nie, die reaksies fel word. Dit was maar altyd ‘n probleem vir godsdienstige mense om God se nuwe werking te herken, en boonop, te eerbiedig.

Van die groot mistici was nie altyd gewild by godsdienstige mense nie. Jan van die Kruis se mede-priesters was so opgewerk oor sy hervormingsveldtog dat hulle hom lank in ‘n sel gaan toesluit het. Meister Eckhart is as ‘n ketter verklaar, totdat, onlangs, sy eie kerk toegegee het dat hy nie altyd reg verstaan is nie.

Waar mistici deur God aangeraak word om opnuut weer die gloed van die Goddelike lewe deur te gee, lê dit verby en anderkant die normale begripsvermoë van gelowiges. Hulle reageer heftig.

Vandag is daar enorm veel mense wat Jan van die Kruis en Meister Eckhart lees, verstaan en uitlê. Wat hulle oor God ervaar het, behou sy gloed. Dit het die eerste verwerping oorleef en getoon hoe hulle gedagtes God se nuwe manier van omgaan met gelowiges weergee.

Dit is asof daar nooit ‘n Gamaliël was wie se Joodse woorde Lukas, die volgeling van Jesus versigtig en presies aangeteken het. Die vies Joodse Raad wou die gloed van die eerste volgelinge met mag en geweld blus. Slim en met vele argumente wil hulle die vuur van die beweging stopsit.

Gamaliël het, wyslik, aangeraai: wag eerder. Moenie probeer keer wat God aan die doen is nie. Kyk eers. Weeg eers. Luister mooi. Oorweeg. Toets. Kyk na die vrug. Nie te seker weet nie. Nie te gou dink jou brein het alles mooi netjies uitgeklaar nie. Jy weet en verstaan nou seker.

Wat nodis is, ook wanneer ‘n mens met die mistiek te doen het, is die Gamaliël-toets. Dit is ‘n keuse tussen klip-gooi en harde teenstand of ‘n openheid vir wat God self aan die doen mag wees.

Want een ding is seker: nuwe geestelike ervarings is daar ook in ons tyd. En van God kom altyd weer mense wat op nuwe manier die werking van die goddelike gaan ervaar en deurgee.

Met die hart en, liefdevol, luister. Want die brein, die kennis, al die wysheid, peil nooit God se werking nie. En sal dit ook nie kan keer nie.

Dit is waarom godsdiens oor geloof gaan – oor vertroue op wat God doen – soms teen alles wat ons so goed weet om te vertel. 

Godsdiens is lank nie om te verstaan nie. Oksimoronies sou 'n mens kon sê: godsdiens is om met die hart te dink. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive