Friday, August 02, 2013

Wanneer afwesigheid meer tel as alle vreugdes.



Vir die boeiende kunswerk (uit sy), met die titel: "Die verlange" sien:   http://vyala.files.wordpress.com/2009/04/longing6.jpg



‘n Mens voel dikwels, te dikwels, die afwesigheid van God in ‘n mens se lewe akuut aan. Vir vele is dit ‘n wrede tyd. Jan van die Kruis het in die verband van die donker nag van die siel en die donker nag van die gees gepraat. 

Donker tye.

Dit is tye van verlange, van begeerte na die teenwoordigheid van God, van uitsien dat ‘n mens weer die nabyheid van God kan beleef. 

Oor alles staan geskryf: God is afwesig en is nie daar nie. 

Ja, sê die mistici, tog kan die donker tye juis die tye wees wanneer God naby aan ‘n mens is. 

Want, voeg hulle by, as ‘n mens so na God verlang is dit die ander kant van God se teenwoordigheid.

In ons verlange is God immers aanwesig.

Daarom praat die mistici juis van die mistieke antifrase: die woord impliseer sy teendeel. Wie praat van afwesigheid, moet weet – dit gaan ook om aanwesigheid.

God sien immers ‘n mens se verlange raak. Lank, lank voor ‘n mens aan hierdie verlange uiting gee en dit in woorde uitdruk, is God na ons op pad. 

Maar selfs voordat God haastig op pad is na die mens, is God eintlik al teenwoordig.

Vandag lees ek ‘n merkwaardige gedig van Opperman waarin hierdie gedagtes na vore kom: Die geliefde is nie daar nie, sê die gedig. Die digter is “sonder jou”, skryf hy vir haar – net soos ‘n bidder tot God bid en roep van pyn onder God se afwesigheid. 

En tog, al is hulle geskei, is hulle eintlik bymekaar. “Bo alle skeiding heen” voer siel en siel ‘n “woordelose tweegesprek.” Afwesig, maar aanwesig. Hulle is nie bymekaar nie, maar siel en siel praat met mekaar!

Dan kom die mistieke deel: die digter se vriende is bymekaar, praat baie, hul samekomste is luid en leeg. Hy beleef hulle samesyn as niks. Daarom word die digter van hulle vervreem. 

Hy is so ingestel op die beminde, dat die beminde se afwesigheid hom bring om “in dieptes”van homself te beweeg.”

Ons sien dit in die gedig: dit is pyn wat in elke woord resoneer. Maar die gedig is die merkwaardige stelling dat in elke woord van pyn die geliefde tog aanwesig is. 

En dan die klimaktiese mistieke antifrase:  in sy innerlike dieptes is die afwesigheid vir hom meer “as al die vreugdes wat ek elders kry.” 

Die vorm van die gedig bevestig dit: drie stelle van vier reëls vorm 'n netjies patroon. Maar dan, onverwags, breek die laaste twee reëls oor die meer-waarde van afwesigheid deur die patroon en meld hulle aan as dit waaroor die gedig werklik gaan. 

Dit is die raaiselagtige: afwesigheid kan meer werd wees as alle ander vreugdes. 

Om by die Geliefde te wees, al is dit maar net in jou gedagtes, in jou innerlike, sonder die geliefde, is veel meer werd as enige iets anders. In die afwesigheid is die geliefde aanwesig – en dit maak die liefde die moeite werd.

‘n Gedig wat die moeite werd is om te bedink om ook te verstaan waaroor godsdiens gaan. Langsaam is die dae sonder God. Alles lyk doelloos. Ure kan ‘n mens in gebed hiermee worstel. Maar in ‘n mens se innerlike gebeur iets onwerkliks:  daar, alleen, in afsondering, in alleenheid, is ‘n Teenwoordigheid wat groter is as alles wat ‘n mens elders ervaar.

Gebed, verlange, begeerte spreek van liefde, van daar-wees, van nabyheid, van intimiteit.

Verlange. Hoe raar: vervulling.  Die hande wat in die donker in verlange oopgesprei is. Maar steeds weer boontoe beur - na die lig. Jy kan sien hulle is oopgesprei, jy kan die verlange herken, omdat daar die stralende lig is en die lig op pad is om ook voluit op die hande te skyn.

Hier is die gedig van Opperman met die titel:

Verlange

Hoe langsaam is die aande sonder jou
as alles in die stiltes doelloos lyk
en ek uiteindelik ‘n boek oopvou
maar ure na dieselfde woorde kyk,

totdat ek weet wanneer ek so alleen
verskei beelde uit myself opwek,
voer siel en siel bo alle skeiding heen
tog soms ‘n woordelose tweegesprek.

Van al my vriende in die stad verskuil
en hulle samekomste luid en leeg,
word ek ‘n eensaam afgeslote kuil
wat net in dieptes van myself beweeg,

want jou afwesigheid is meer vir my
as al die vreugdes wat ek elders kry.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive