Monday, June 20, 2011

Hoe word ‘n mens ‘n legende? Oor sport en spiritualiteit.












 
Die beroemde judo-kampioen van Nederland, Anton Geesink was die eerste nie-Japanner wat in 1961 die wêreldkampioen in judo geword het. Dit was ‘n sensasionele gebeurtenis veral in Europa en in Japan

Vir die Japanners was dit ondenkbaar dat iemand buite hulle eie geledere vir hulle in hul eeue-oue hoogs ontwikkelde sportkuns ore kon aansit het.  Dit was die eerste keer ooit in die geskiedenis dat hulle die wêreldkroon moes afstaan. Oor die hele wêreld heen is die sensasie uitgebasuin: ook die Janpanners in oorwinlik.

Geesink, ‘n lange lel van ‘n man (1.98 meter!), het ‘n legende dwarsdeur die wêreld geword. Hy het die wêreldtitel drie keer verower en was 21 keer die Europese Kampioen (waar die Japanners ook deelgeneem het). Hy was die enigste persoon ooit wat buite Japan ‘n 10e Dan geword het.

President de Gaulle van Frankryk het vir hom na sy oorwinning spesiaal ‘n vaas laat maak by on fabriek wat net vir koninklikes en adel produkte vervaardig het. Die Franse het hom selfs burgerskap aangebied sodat hy as Fransman wêreldkampioen kan wees. Geesink het nie belang gestel nie.  

Wilde tonele het hom afgespeel na sy oorwinnings, soos Nederlanders in hul massa’s aan hom hulde gebring het.  

So erg was dit dat ‘n klomp van hulle na hom gestorm het net nadat hy vir die eerste keer as oorwinnaar en wêreldkampioenaangewys is. Die toeskouers het daarmee heiligskennis gepleeg. 

In Judo word niemand naamlik op die mat waar die geveg plaasgevind het, toegelaat nie. Veral nie voordat die wedstryd afgeloop is nie. En die wedstryd is net klaar nadat die twee deelnemers, pas as die uitslag bekend gemaak is, opstaan, na die kante van die mat loop, gesig tot gesig teenoor mekaar stelling inneem en vir mekaar buig. Dit is deel van die sport se ere-kode, wat aandui dat die deelnemers mekaar hoog ag as teenstanders. Hulle bring hulde aan mekaar as waardige stryders. Hulle vereer mekaar met ‘n gebaar van erkentliheid vir ‘n waardige stryd wat met eer gestry is. Nie net die wenner nie, maar ook die verloorder tree triomfantlik uit die stryd. Hulle het die sport eer aangedoen.

Die oor-entoesiastiese ondersteuners van Geesink wat op die mat gestorm het, het die Japanners en die teenstander van Geesink beledig en onteer. In hul domheid het hulle die edel karakter van die sportsoort judo vir Japanners aaklig aangetas.

Geesink het dit besef. Hy het naamlik al die erekode’s van die sport noulettend nagekom. En hy het besef dat sport het te doen met veel meer as net wen. Dit het te doen met die vernuf van twee mense wat tot die uiterste getoets word. Dit het te doen met gehoorsaamheid aan die reëls van die spel. Die wedstryd is die resultaat van ure en ure, weke en weke se oefening. 

Sport is dus ‘n vorm van lewenskuns. Wat tel is nie of jy wen nie. Selfs nie hoe jy wen nie. Wat tel is dat jy die voorreg het om te kan deelneem aan iets wat die wonderlike vermoëns van die mens tot sy beste te ontplooi. En om dit te kan doen, om te wys hoe mense die hoogste sport kan bereik, het jy ‘n opponent nodig. Jy verneder hom nie. Jy wen hom nie. Saam met hom is jy eerder besig om te wys die absolute skoonheid van menswees.

Geesink het later weer ‘n kans gekry om te wys dat hy die beste in die wêreld is. Na sy volgende wedstryd waarin hy een van Japan se beroemdste judo-kampioene gewen het, het sy ondersteuners weer vorentoe gestorm om hom te omhels en op hul skouers op te tel. 

Toe gebeur dit.

Hy het omgedraai na hulle, sê die kommentator van die Nederlandse dokumentêr wat ek sekonde vir sekonde indrink, en sy hand opgelig om hulle terug te jaag. Toe het hy omgedraai en die erekode gevolg waarin jy eer bewys aan jou waardige opponent. Eers toe het hy van die mat geloop. En kon sy ondersteuners hom omhels en op die rug klop.

Daardie enkele, eenvoudige handgebaar, die onmiskenbare, duidelike en gesagvolle teken met sy regterhand om sy ondersteuners terug te jaag, sê die kommentator, het hom ‘n legende onder die Japanners gemaak.

‘n Enkele gebaar, dus, maak van jou 'n legende - meer as al jou oorwinnings. 

Dit wys, sonder veel woorde, wie jy is. Dit onthul jou innerlike krag. Dit kan wys wat vir jou belangrik is. Dit openbaar jou insig in die verborge, belangrike dinge. Dis nie roem wat tel nie. Dit is ook nie hoe jy die roem behaal wat tel nie. Wat tel, is jou menslikheid met jou innerlike krag en eerbied vir ander. Dit maak van mense legende’s.

Geesink se lewe was nie sonder sy donker kante nie. In 1997 is hy ondersoek omdat hy as Lid van die Internasionale Olimpiese Komitee onder verdenking van onbehoorlike geldsake was. Hy is onskuldig bevind, maar is ook gewaarsku dat hy hom nie skuldig moet maak aan botsende belange nie.  Maar tog bly hy in die gedagtes van vele ‘n legandariese sportman wat die wêreldgeskiedenis ryker gemaak het.

En, ja, daardie dure vaas wat De Gaulle vir hom geskenk het: Sy seun vertel tydens die dokumentêr dat hulle dit maar altyd in hulle huis gebruik het om blomme in te sit. Dit was eers toe die dokumentêr gemaak is, dat hulle agtergekom het hoe spesiaal die vaas is. ‘n Mens leef van blomme, van respek, van doodgewoon wees. Dit maak jou ryk.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive