Friday, June 10, 2011

Oor die Onderskeiding van God se Wil (13). Orientering.


In ‘n hele klompie blogs het ek aan die hand van Waaijman nagedink oor die onderskeiding van God se wil. Dit is nou tyd om alles so bietjie netjies op te som voordat ‘n mens aan verdere aspekte dink. Hierdie is dus 'n stop-plek om te kyk hoe ver die gesprek gevorder het.

Heel eerste is die maklikste: daar is situasies waarin ‘n mens God se wil duidelik herken en onderskei. 

‘n Mens onderskei God se wil wanneer ‘n mens kan sien dat ‘n mens op twee maniere kan lewe.  ‘n Mens leef nie maar net sommer nie. Jy sien dat die lewe goed kan wees, of dat dit sleg kan wees.

Wanneer ‘n mens hierdie onderskeiding maak, raak dit 'n mens se lewe onvermydelik. Sodra 'n mens dit besef het, bedink ‘n mens atlyd hoe lyk die goeie dinge en hoe lyk ‘n slegte lewe. Jy is bewus daarvan dat die goeie vir jou die egte lewe gee. Of jy weet dat wanneer jy sleg lewe jy besig is om jou te vernietig en dat jou lewe in die dood eindig. 

Trouens, dit is 'n goeie gedagte om in die geestelike reis hieraan te werk. Duidelik moet 'n mens uitspel hoe lyk die goeie dinge en watter gevolge gaan dit inhou (die vrugte van die Gees). En, vertel die wyse mistagoog: dink maar aan die slegte dinge en hulle gevolge (Spreuke!). Dink maar heel konkreet en toegspits daaroor.

Dit beteken dat 'n mens die volgende dinge onderskei:
  • Daar is ‘n lewe waarin God se bedoeling met die mens as Beeld van God tot sy reg kom. Dit staan teenoor ‘n lewe wat die goddelike bedoeling met jou lewe vernietig.
  • Daar is ‘n lewe wat deur bekering herstel is sodat dit die beeld van God in ‘n mens se lewe wys. Dit staan teenoor ‘n onbekeerde lewe waarin die beeld van God misvormd is.
  • Daar is ‘n lewe wat in lyn is met die God-menslike model van transformasie. Dit staan teenoor ‘n lewe wat niks met hierdie model te doen wil hê nie. Jy leef terwyl God jou as mens omvorm. Of jy wil niks te doen hê met ‘n lewe van verandering nie.
  • Daar is ‘n lewe uit liefde. Dit staan teenoor ‘n lewe uit self-gesentreerdheid.
  • Daar is ‘n lewe wat fokus op die dood as transformasie in heerlikheid. Dit staan teenoor ‘n lewe wat vasval in ‘n doodsdrif. ‘n Mens sien verder as die lewe. Of jy kyk so vas teen die dood dat jy niks anderkant die dood raaksien nie.
Alles is egter nie altyd so helder soos in hierdie geval nie. Dinge kan soms duister raak en dan vind ons God se wil nie wanneer ons so op die oppervlakte daarmee gekonfronteer word. Ons onderskei dus, tweedens, God se wil wanneer ons hierdie moeiliker sake bekyk en onder die oppervlakte van die uiterlike dinge ‘n dieper betekenis ontdek. 

Dan herken 'n mens die betekenis van God vir die lewe en dan bekyk 'n mens die lewe vanuit God se perspektief. Dit is, wat ‘n mens sou kon noem, om die wil van God op ‘n dieper vlak te herken in plekke en in dinge waar dit nie altyd duidelik is nie. Hier gaan dit veral om die moeilike sake in die mens se lewe.

Dit is waar dit nie maklik is om God se wil te onderskei nie. Jy sien nou nie meer sommer net dat sommige dinge goed is en ander dinge sleg nie. Jy moet begin delf en dinge begin opweeg teen mekaar. 

'n Mens moet iets in jou ontwikkel wat help om die wil van God hier te peil. Die mens bekyk al die moontlikhede: soms moet mense selfs die teenoorgestelde besluite neem as wat hulle aanvanklik geneem het. 

Deur te interpreteer kom ‘n mens tot wysheid en insig.

Dus moet ‘n mens die vermoë ontwikkel om die onsekerheid uit die weg te ruim en te kan onderskei wat God se wil is en hoe God na dinge kyk.  Jy moet God se perspektief ten opsigte van hulle kan raaksien. Jy word nou ‘n interpreteerder. In jou interpretasie werk die volgende:

  • ‘n Mens kan agterkom wat van ons lewe en rondom ons vir ons aandui dat God skeppend aan die werk is.
  • ‘n Mens kan agterkom dat verwronge dinge ‘n verdraaiing is van God se beeld.
  • ‘n Mens kan agterkom die goddelik-menslike model van transformasie en van konformasie deur God bemiddel word, terwyl jy altyd besef dat God bo alle dinge bestaan sonder menslike/wêreldse vorm. 
  • ‘n Mens kan agterkom dat wanneer ‘n mens in liefde uitreik dit die liefde van God is en ook dat in die liefde van God die mens se liefde aan die werk is.
  • ‘n Mens kan agterkom dat die dood God se groot en finale afrondingsproses is.
Om dieper dinge op die manier te kan raaksien en in alles betekenis te kan vind, maak ‘n groot verskil. 

  • Dit maak ‘n groot verskil of die lewe ‘n gawe uit God se hand is of maar net as ‘n blinde lot beleef word.
  • Dit maak ‘n verskil as ons verwronge dinge sien as sielkundige of sosiale afwykings en of ons dit herken as afwykings van die mens se verhouding met God.
  • Dit maak ‘n verskil of ons transformasie modelle verbind met allerhande sosiale of kulturele insigte en of ons hulle sien as spore van die God-mens verhouding.
  • Dit maak ‘n verskil of ons die transformasie in liefde sien as ‘n innerlike sielkundige proses en of ons dit sien as dit wat gebeur wanneer ons in gesprek met God tree.
  • Dit maak ‘n verskil as ons die transformasie in heerlikheid sien as ‘n projeksie en of ons dit verstaan as God se universele transformasie.  
Gisteraand sien ek ‘n bekende verhoogkunstenaar aan die praat op ‘n gespreksprogram. Die persoon is iemand wat nou al vir jare ‘n toegewyde lewe lei. Jy sien ook in elke beweging en jy hoor in elke sin van die persoon se verhouding met God. Die persoon vertel van ‘n gebeurtenis wat onverwags oor die persoon se pad gekom het. “Ek het dadelik geweet dit is God se wil,” kom dit met totale sekerheid.En toe kom die verdere, spontane opmerking: “Ek weet altyd baie goed wat God se wil is.”

Die sinikus in my wil my my ooghare laat optrek. Maar, besef ek, die persoon het waarskynlik gelyk. ‘n Mens kán baie goed weet wat God se wil is. En soms kan jy dit sommer dadelik weet: Hierdie geldstukkie is goud, duidelik nie goedkoop koper nie.

Ander kere, weer, is dinge bietjie troebel. Om God se wil dan uit te vind, is nie altyd maklik nie. Dit vra bietjie dieper kyk, bietjie wag. Soms vra dit om maar weer ‘n keer die geldjie te kyk om seker te maak of dit eg is. Is die beeld daarop God se beeld daarop? Of, as ek mooi kyk, is dit nie tog die keiser s’n nie?

Soms moet ‘n mens omdraai en erken dit was ‘n afdraaipaadjie.

Maar tog, uiteindelik, in die geestelike reis, kan ‘n mens helder weet wat God wil.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive