Monday, June 27, 2011

Ontferming en barmhartigheid - oor die hart van die geestelike reis.


“Ontferming” was vir Joodse gelowiges ‘n sleutel tot die geestelike reis. In Afrikaans word die begrip op ‘n egte Bybelse manier as “barmhartigheid” vertaal – wat iets vertel van die hart wat tot die Ander uitgaan.

Die begeerte om ‘n mens te ontferm word aan ‘n mens geskenk. Wanneer ‘n mens ‘n verhouding met God het, streef ‘n mens om die beeld van God as die Barmhartige uit te dra. God is daarom in die Bybel steeds weer die Ontfermer en die Barmhartige. Wie deur God aangeraak is, word by uitstek iemand vol ontferming.

Hierdie motief berus op sleutel-gedeeltes in die Bybel. Dit kom voor in gedeeltes waarin God vir mense meer oor God vertel. In Exodus 34 word beskryf hoe God aan Moses verskyn het met ‘n Self-onthulling. Verse 6-7 is aangrypend.

“Ek, die Here is die barmhartige”. Só begin God in die gedeelte praat. Dít is hoe God heel eerstens bekend wil wees. Dit is die eerste ding wat mense van God moet weet.

Maar gekoppel aan hierdie eerste begrip in Exodus 34:5 is ander ewe ryk, liefdevolle beelde. Kyk hoe word hulle bygevoeg: “Ek is die genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte.” Dit is nie ‘n goedkoop liefde nie, want God voeg by: “Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag”.

In hierdie Bybelgedeelte sien ons dus onder al die ryk, goeie beelde van God, veral Ontferming raak. Só moet ‘n mens in die eerste plek oor God dink.

Ook elders in die Bybel word God se ontferming/barmhartigheid ten nouste aan die goddelike genade geknoop (Ps. 78:38; 86:15; 103:8 en 11:4). Later sou Jesus in sy Bergrede ook weer hierdie motief beklemtoon: “Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (Mt.5:7). En Jesus vra van sy volgelinge om barmhartig te wees soos hulle Vader in die hemele barmhartig is (Lk.6:36). In Jakobus 5:11 word hierdie motief heel intens beskryf: “Die Here is ryk aan barmhartigheid en ontferming”.

Om ‘n mens te ontferm, is ‘n onmiskenbare teken van hoe geloof in die mens se lewe wortel skiet. Daarom is ‘n “vroom” mens iemand wat ‘n hart het wat oorloop van omgee.

Dit is nie net waar van Christene nie. Die geskiedenis van die Jodedom wys hoe daar steeds weer ook onder Jode groepe wat wat met groot ywer gesoek het om ontferming uit te leef.

In die tyd van die Nuwe Testament was veral die Joodse groep van die Esseners bekend as die “heiliges” – soos Josefus, die geskiedskrywer hulle beskryf het. Hulle het in eenvoud geleef en in nederigheid verlang om God met toewyding te dien. Vir hulle was gebed as werklike ontmoeting met God, hul hemelse Vader, so belangrik dat hulle ‘n uur lank voor hul begin bid het, hulle eers in stilte afgesonder en gemediteer het. Hulle sou vir niks hulle gebed onderbreek nie, selfs nie as hulle lewens in gevaar was nie. Nie eers, word vertel, as daar ‘n giftige slang in die omgewing is nie. Hulle het veral die Sabbatdag as God se rusdag noukeurig onderhou. Daarom sou hulle byvoorbeeld nie droom om op die dag oorlog te voer nie.  En hulle het ook versigtig gelet om niks te sê of te doen wat hulle sou verhinder om hul godsdienstige pligte na te kom nie. Mense wat by die Esseners wou aansluit, moes hul besittings verkoop, alles wat hulle het met hul groep deel en nie oor ander probeer baassspeel nie.

Hierdie groep Jode soek om met liefde en diep respek teenoor God en ander mense te leef. Van God ontvang hulle ontferming. En dit stroom deur hulle na buite om met ander te deel. Maar voordat dit kon gebeur, het hulle hul ingestel om nederig te wees. Daarom het hulle gedurig hulle self ondersoek sodat niks hul verhouding met God kon aantas nie.

Die Hasidim het dus ‘n toegewyde asketiese lewe gevoer. Hulle het vir hulleself hoë ideale gestel. Dit was nie genoeg om goed te wees nie. Die vroom mens moet totaal goed wees. Daarom wou hulle graag sterker as ooit na God soek, met groter inspanning as ooit hulle self in God se diens beskikbaar stel, met intenser aandag as ooit hul instel op die stem van God.

En teenoor ander het hulle veral liefde en respek getoon. En dit het heel prakties na vore gekom daarin dat hulle niks sou doen wat iemand anders pyn sou aandoen nie. 

Of, lees ek vandag met aandag, hulle sou met groot verdraagsaamheid mense se beledigings en uitskellery verduur het.

Om ‘n vroom mens te wees, het dus veral beteken om vir ander om te gee. Dit was nie ‘n wêreldvreemde vroomheid nie. Dit was ook nie ‘n misrabele vroomheid nie. Een van die groot verteenwoordigers van die Joodse vroomheidsbeweging het byvoorbeeld oor die vas geskryf: “As hongerte jou geïrriteerd maak, eet liewer kos sodat jy weer beter kan voel”.

In latere eeu sou ‘n mens in die Jodedom merkwaardige herlewingsbewegings kry waarin vroomheid met sterk ontferming ‘n sentrale motief was. In Spanje, selfs in die tyd van die More en in Duitsland met die beroemde Rynlandse mistici, sou daar Joodse gelowiges wees wat alles op die spel geplaas het om hul verhouding met God in alledaagse vroomheid as ontferming uit te leef.  

Dit is die opvallende van die geskiedenis van die Joodse Hasidim: om vroom te wees, om heiligheid na te streef, beteken om in ontferming te leef. Tot in die fynste detail, gee hulle om – vir God, vir hul eie verhouding tot Gd, vir ander en vir die wêreld. 

Met die terugsit en nadink oor hierdie groot aspek van spiritualiteit, lees ek uiteindelik 'n sinnetjie wat my laat besef waarom 'n mens so intens na ontferming streef. Alles wat 'n mens doen, alle dade waarin 'n mens wys hoe jou innerlike gelaai is met ontferming, is 'n teken van wat in 'n mens se innerlike gebeur. 'n Mens wat in die moeilikste omstandighede, selfs in tye van spot en belediging, kan uitreik na die ander, is iemand in wie se hart God seenend teenwoordig is. Dit is 'n persoon wat innerlik geheilig word. 
Om goed te wees, veral goed te wees teenoor ander, is 'n teken dat 'n mens van binne uit, in 'n mens se diepste innerlike, in God se teenwoordigheid ingeseen word.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive