Friday, June 24, 2011

"Jy is altyd by my" - oor ons enigste troos in lewe en sterwe


Die lange Heidelbergse Kategisme van 1563 wat vandag deur die meeste kerke van die reformasie as belydenisskrif bely word, begin met die opvallende vraag.  “Wat is jou enigste troos in lewe en sterwe?” Onlangs het dit my verwonder hoe hierdie vraag ons bewus maak dat alles wat ons glo, ingestel is op ons troos. Die Kategismus wil aan die hand van hierdie vraag alles wat ons bely, benader vanuit die invalspoort van God se troostende nabyheid.

Die antwoord op die vraag is:  Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar my op so 'n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker (i) Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).

‘n Mens kan maklik hierdie gedeelte se diepe betekenis miskyk. Ons lees daarin van ons sondes, van verlossing en van ‘n lewe van gehoorsaamheid. En dit gaan inderdaad in die gedeelte om alles wat met “my” gebeur en wat “my’ bevry. Maar daar is iets veel diepers: ‘n mens behoort aan Christus, dit is sy heilswerk wat die mens bevry, die hemelse Vader beskik oor die mens se lewe en die heilige Gees stel die mens in staat om vir God te leef. Die fokus is dus ook op wat God doen en wat God vir ‘n mens is.

Dit is iets wat ‘n mens ook raaksien in die beroemde, lang  gelykenis in Lukas 15:11-31 wat Jesus vertel. Dit gaan oor twee seuns. Soms dink ons aan die jongste seun as die swart skaap. Hy is immers die een wat sy pa dood wens, uit sy lewe ban, toe hy so heel vreemd sy erfgeld gaan vra het en dit in die ver land op sy plesier gaan uitmors het.  Baie mense wat graag ander wil verander, die sondaar-jagters onder ons, gebruik hierdie gelykenis om oor die jongste seun allerhande moralistiese praatjies te maak. Hy sou dan ‘n regte ou kwaaddoener, loskop-kind gewees het.  Kyk, vertel hulle, wat gebeur met ‘n mens as jy spandabelrig, losbandig en ondankbaar is. Jy beland tussen die varke. Mense is bly dat die ellendeling bekeerd geraak het, maar hulle sou nog blyer gewees het as hy van die begin af so geleef het dat hy nie sy les op die ou end in ‘n varkhok moet leer nie. In die jongste seun sien ons dus meestal net sonde en bekering raak.

Só ‘n lees van die gelykenis kyk eintlik die heel belangrikste mis. Daardie seun het op ‘n dag deur al sy ellende iets heel spesiaals ervaar. Hy het onthou waar sy ware tuiste was. Dit was die bewussyn van die Vader wat hom tot inkeer gebring het. Maar selfs tóé was hy nog half bekeerd. Hy het huis toe gegaan omdat hy honger was. Omdat hy soos die huurlinge tuis genoeg te ete wou hê. En daarvoor was hy bereid om een van sy pa se werkers en huurlinge te word (vers 19). Sy geestelike reis het begin, maar was nog onvolmaak. Hy was bekeerd, maar sy oog was nog so halfpad op homself en veral op sy maag gerig.  Sy geestelike reis het weer begin, maar was maar wankelrig.

Maar kyk nou wat gebeur: die pa verwyt hom nie, of gee nie vir hom ‘n mooi les oor liefde en oor ‘n goeie lewe nie.  Sy pa voel jammer vir hom innig jammer, hardloop na hom, omhels hom en soen hom aanmekaar. Die seun hom voorgeneem het om by sy Pa om ‘n werkie te gaan smeek. En in die plek daarvan het hy liefde en genade gekry.  Meer nog, hy het ‘n fees bygekry.

As ons op die jongste seun, sy bekering, sy geestelike reis fokus, kan dit maklik gebeur dat ons dit wat werklik saak maak miskyk. En dit is die liefde van die Vader. “My kind, jy met die honger maag,  jy wat nog so sukkel-sukkel terugkom huis toe, hoe bly is ek dat jy hier by my terug is. Ek wil fees hou oor jou en met jou.”

Watter troos – ‘n pa wat so onvoorwaardelik, so vrylik, so onverwytend, so inniglik lief het.

Dit, wil Jesus hê, moet ons raaksien. ‘n Vader wat sondaars liefdevol, feestelik, omhels en omarm. Só ‘n Vader wat ons ‘n hoogheid gee, ‘n feeskleed aantrek, wat nie ‘n haar van ons kop wil laat val nie. ‘n Vader in wie se arms ons tot rus kom.

My enigste troos is ek behoort nie aan jouself nie, maar aan Jesus Christus.

Diep, diep neem Jesus mense weg van hulself, hul ellende, hul seerkry. En bring hulle in die huis van die Vader wat die trane afdroog en ‘n fees berei.

Maar die oudste seun  is ook maar ‘n swartskaap. En eintlik is hy die goeie een, die voorbeeldige kind wat nooit ‘n voet verkeerd gesit het nie. Maar kyk hoe hý ook op homself ingestel is: “Ek dien u jare lank, ek was nooit ongehoorsaam nie, ek het nooit ‘n fees gekry nie.” Hy staan kwaad buitekant, in die donker, en bekla sy lot. Hy is kwaad vir sy pa.

Kyk hoe vertel Jesus dan: die pa herinner die oudste seun dat hy ‘n ryke skat het. Alles wat die pa s’n is, behoort aan die oudste seun. Meer nog:. Wat myne is, is joune. Wat ek besit, behoort aan jou.

En dan kom die hoogtepunte: Vir jou is daar selfs nog ‘n groter rykdom:  Jy is altyd by my.”  Die oudste seun wil nie die drumpel na die fees oorsteek nie. Hy bly by sy Pa, maar sluit hom af vir die Vader se vertroostende nabyheid.  En tog: Ook hy word nie verwyt nie.

Vir hom, hierdie dikbek-kind,  is hierdie Vader onbegrensd lief, is daar ‘n dringende uitnodiging om fees te hou saam met die Vader.  Die oudste seun kry genade nog voor hy dit wil aanvaar. “Jy is altyd by my.”

Dit is hoe God is: God wat in Liefde, die onvolmaaktes, die feilbares, die swakkes nader trek en in die helder lig van goddelike vreugde en nabyheid wil laat deel. God wil hulle by God hê.

Só is God teenoor hulle wat nog worstel om hul geestelike reis af te lê. Dit is die onpeilbare diepte van die goddelike liefde. En as God só is, is dit nog meer die geval wanneer die droewe tye oor ons pad kom. Só is God altyd, kan ons dan gelowig en getroos bely. Ook in ‘n mens se tye van hartseer, afskeid neem, by die graf, hoor ons die stem helder, troostend sê: “Jy is altyd by my.”  Ons enigste troos is dat ons in lewe en in sterwe aan Jesus Christus behoort.  Niemand, ook nie die dood, kan ‘n mens skei van die Liefdevolle Teenwoordigheid van God.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive