Friday, April 10, 2009

Bernard van Clairvaux: die mistikus van die Christus-liefde

Bernard van Clairvaux leef in die twaalfde eeu (1090-1153). Hy is nou ‘n uitstekende voorbeeld van hoe ‘n mens tegelykertyd die mooiste van mooi dinge kan skryf en tog weer op ander punte weer onverstaanbaar kru en selfs gewelddadige kan wees.

Hy is seker een van die belangrikste mistieke figure in Europa wat ‘n groot invloed op van die bekendste wêreldfigure in latere eeu sou uitoefen.

Reeds as jong man van 21 jaar oud neem hy sy godsdiens ernstig op en gaan in ‘n klooster woon. Hy neem al hoe sterker die inisiatief en slaag hy daarin om in Clarivaux ‘n klooster te begin wat later meer as 700 lede sou hê. Iewers het hy die regte dinge gesê en kon hy mense inspireer om in die stil kloosters ‘n lewe by God te vind – iets wat in daardie tyd nie so gewild was nie. Hy was dus bekend as ‘n groot hervormer van die kloosterlewe en vir die ommekeer wat hy in die godsdienstige lewe gebrin het.

Hy is veral bekend vir sy preke oor Hooglied waarin hy op ‘n aangrypende manier die verhouding met Christus in terme van liefde uitbeeld. Bernard voel sterker vir die mistieke ervaring van God as vir die filosofiese, rasionele teologie (o.a. soos deur sy groot teenstander, Abelardus beoefen). Die verhouding met Christus laat in die mens ‘n liefde losbrand wat haar of hom innerlik totaal verander en omvorm. Hy soek die volledige mistieke eenwording met Christus en skryf van sy innige begeerte dat die warm gevoel wat hy kry as hy aan Jesus dink, nog intenser ervaar kan word sodat hy in Christus rus kan vind. Bernard is een van die grootste verteenwoordigers van ‘n intieme Christusmistiek.

Tog is daar ook die skadukante aan sy lewe – veral as ‘n mens hom vanuit ‘n moderne hoek bekyk. Hy is bekend as iemand wat groot invloed op die politieke toneel uitgeoefen het. Onder andere het hy tydens die kruistogte die Christen-leiers aangespoor om hul veroweringe sonder genade teenoor die Moslems voort te sit. Hy was ook ‘n sterk, uitgesproke teenstander van sy teologiese teenstander, Abelardus – soveel so dat party hom as ‘n ketterjagter beskou. In die sin was hy ‘n kind van sy tyd wat die stryd vir Christus as ‘n stryd teen andersdenkendes en ander gelowiges gesien het.

Hoe moeilik is dit tog om die beperkinge van ‘n mens se tyd te ontglip! ‘n Mens kan so naby aan God leef, soveel groot kragte wakker maak deur alles wat jy oor God skryf en dan tog terselfdertyd so gebroke menslik, selfs onmenslik praat en leef.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive