Monday, April 20, 2009

Contemplatio

Daar is die oomblikke in jou lewe dat jy weet jy word deur God aangeraak. Dit is soos ‘n vonk van herkenning wat vir ‘n oomblik in jou brand – die brandende hart van die Emmausgangers.

Hoe praat ‘n mens daaroor? Die onuitspreeklike ervaring, verby woorde, te persoonlik en te intiem vir die markplein.

Dit is die oomblik van verrukking, die oomblikke dat ‘n mens opgetel word – soos Paulus in die derde hemel.

Maar dit is ook die oomblik dat alles wat jy aan die doen was, in jou hart ingesak het en deel van jou innerlike geword het.

Hulle kom nie baie nie. Sulke oomblikke is skaars en oases in die woesten van jou geloofsreis. Maar hulle brand God se beeld in jou in. God se voetspoor lê ingemessel op jou hart. Jy dra ‘n goddelike spoor in jou rond. Jy het God se gelaat gesien.

Dit is oomblikke wat jy met eerbied noem, terughoudend. Want dit is ‘n verterende vuur wat in jou lewe kom en jou konsumeer met verlange na die Een wat suiwer liefde is en wat jou dryf met ‘n vurige begeerte om vir altyd daar te wees waar die Liefde in volheid woon.

In die teenwoordigheid van hierdie Een pas dit jou om nederig te wees. Want as jy maar te gou wil vertel van hoe lieflik jy geseën word deur God se teenwoordigheid, ontdek jy met ontnugtering dit is maar net ‘n voetspoor. God se inwoning word verduister deur jou beperktheid, jou skuld, jou duister weë.

Jy wil nie daaroor praat nie. Want dieselfde God wat jou aanraak, is ook die God wat jy telkens weer verraai. Jy faal die Liefde. En al die spoggerighede oor die Teenwoordigheid word sy krag ontneem deur die verraad.

Om by God te kan wees in ewige stilte en liefde. Trek die skoene uit. Dit is heilige grond. Moenie te maklik praat nie. Te veel woorde wis die spore uit. ‘n Mens staan hier voor die Verborgene, die Onuitspreeklike, die Ewige.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive