Dit was twee weke van hoge gesprekke oor spiritualiteit en die mistiek. Dit was groot name wat aan die woord was en ons het dinge mooi uitgepluis en bedink.
Die tweede week het alles in idillies omstandighede plaasgevind: iewers in afsondering, op ‘n stil plaas, met die stilte wat soos ‘n swaar sak oor ons geskuif het om ons af te grens van die woeligheid van die daagse lewe by die huis. Hier kon ‘n mens tot rus kom, as dit nie was vir al die besige gepraat nie.
Almal is aan die worstel met die moeilik stof – die denkers op die gebied van spiritualiteit oor eeue heen. Die groot name: Dionusios die Areopagiet, Meester Eckhart, Thomas a Kempis, Sint Willem van Thierry, Hammerskjold. Ons lees hulle tekste en bedink die mistiek van ‘n kant af. Dit is vir die meeste van ons nuwe terrein. Vars, boeiend, maar ook vreemd en anders. Nie juis deel van ons gewone dieet in die kerk nie.
Ek loop na so ‘n lang dag van dink, dink en dink, vroegaand om kollegas by hul woonplek te gaan haal vir ete en sommer ‘n lekker wandeling te neem – oefening na al die sit en vars plaaslug om in te asem na die kamer-lug van die dag. Die huis van die kollegas is ongeveer 15 minute van my plek. Die dag lê tam agter my. Ek kom tot rus soos die besige tye soos sand in ‘n uurglas uitloop uit my gemoed en die stilte rondom my in die plek van al die baie geklink en geklank in my binneste nestel. Ek is dankbaar dat ek ‘n paar oomblikke alleen kan loop, al is dit donker en my flitsie nie juis ‘n groot gids teen die donkertes om my nie.
Die rus verdamp gou. Ek begin wonder of ek nie die pad kwyt is nie – die pad lyk verder as wat ek gedink het. Ek wil-wil ongedurig raak. Dit is nie nou die tyd om te verdwaal nie.
Ek hoor iemand aankom en ‘n ongerustheid sak half oor my. Dis donker plaas om my. En die terrein is onbekend. Niemand weet waar ek is nie.
Dis Erik. Hy het ‘n bruin werkersuniform aan en beduie vir my dat die plaashuis wat ek soek net om die draai is. Onseker volg ek hom. Ons praat onderwegs oor hom, oor sy werk (hy is nog net 2 jaar daar), oor sy vrou (sy woon 40 kilometer verder in die stad), oor die diere op die plaas. Hy moet gou iemand by die huis gaan sien en kan my gaan wys waar dit is. Ek verstom my as ons om die draai kom en die plaashuis voor my lê – enkele meters van waar ek omgedraai het omdat ek gedink het ek is die pad kwyt. Wat is die duisternis tog ‘n gevaarlike plek om in te wees.....
Ek ry met my kollegas terug na die hoofkamp vir aandete. Erik in die pad terug na sy slaapplek. Erik loop sonder lig in die donker. Dit is laataand en nog ‘n ent na sy plek toe.
Jamie hou stil, draai die ruit stadig af en vra hom vriendelik of hy wil saamry. Ek verwonder my oor die eenvoud van hierdie vriendelike daad: ‘n venster oopdraai, omgee vir die werker op die plaas, ‘n geleentheid aanbied. ‘n Enkele daad van menslikheid.
Later, aan die einde van die twee weke, op pad lughawe toe, sit ek in die motor en gesels. Riaan vertel: vir ons braai van die vorige aand het ons ekstra hout nodig gehad. Almal was lus vir die lekker uitspan na die vol program van die dag. Hulle organiseer ywerig die nodige en ry ‘n paar kilometers om ‘n sak hout te gaan haal. Daarvoor kry hulle die hulp van die ander plaaswerker. Hy gaan saam met hulle om die hout te gaan haal en dra dit met hul terugkeer ook nog geduldig van die motor na die braaiplek. Die manne sak op die sak toe. Die vuur moet gepak word, die drinkgoedjies uitgehaal word en die braai op die rooster kom. Dit is die lieflike ritueel van samesyn, grappies maak en heerlik uitspan.
Die arbeider sonder naam, sy plig gedaan, draai om om die paar kilometers in die donker terug huis toe te stap, terwyl die manne hulle vleispakkies oopmaak en die hope hout pak. Hy het ‘n lang dag agter die rug. Op die groot plaas is daar nie rygoed nie en dit is meestal voetslaan. Daar is nie kinders, vrou, familie, vriende met wie hy kan terugsit en braai nie. Vroeg gaan slaap en douvoordag weer opstaan vir die nuwe dag se werk.
Riaan laat hom egter nie gaan nie. Hy laai hom in die motor en vat hom terug tot by sy huis.
Ons het oor groot dinge gepraat in die twee weke wat verby is. Groot sake. Diep sake.
En al die tyd was daar om ons mense wat stilweg en ongesiend met hulle gewone lewe aangegaan het. Onaangeraak deur die diep debatte wat nuuskieriges met mekaar en met die groot geeste van die verlede aangeknoop het.
Erik en die naamlose houtdraer. Die geringes. In soverre as wat julle....
Thursday, April 30, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2009
(275)
-
▼
April
(10)
- Die geringes
- Contemplatio
- Liefde in 'n maalkolk van lyding en ellende. Oor d...
- Oor 'n spiritualiteit van vrede: Emily Hobhouse, A...
- Die mistiek van Jan van Ruusbroec
- Bernard van Clairvaux: die mistikus van die Christ...
- Rensche wan der Walt se geloofservaring in die kon...
- Rensche van der Walt. Gereformeerde spiritualiteit?
- Spiritualiteit van vrede: oorlog, vroue, lyding,
- 'n Spiritualiteit van omgee: oor besorgdheid, sorg...
-
▼
April
(10)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.