Sunday, April 05, 2009

Rensche van der Walt. Gereformeerde spiritualiteit?


Sober gereformeerd: oor ‘n Godsbeeld in ekstreme nood

Die referaat wat ek besig is om te skryf oor Rensche van der Walt se dagboek, lewer vir my boeiende stof op. Die foto’s (sien die vorige blog) van die kinders gee vir mens net ‘n beperkte blik op die lyding wat mense in daardie oorlog meegemaak het.

Rensche se dagboek is ‘n sober vertelling. Daar is niks sentimenteels aan haar storie nie – terwyl 461 mense binne vyf maande in ‘n kamp van 2 200 inwoners sterf aan masels, koors, honger, onhigiëniese toestande, koue, hitte en ekstreme toestande, praat sy oor God op ‘n boeiende manier. Rensche is geen pushover nie. Sy het ‘n hekel aan die joiners, die verraaiers en die meelopers van die Engelse (hulle is “’n spyker in my oog”) en sy sit die Engelse sonder omhaal van woorde op hulle plek (hoekom moet ek vrot vleis eet as julle honderd van my vet hamels gevat het. Julle het ons opgesluit en nou moet julle vir ons sorg....). En sy laat twee keer haar ontsteltenis blyk oor die jong meisies wat met die kakies te vriendelik is (“Veral Miss Mere en een Miss De Wed... met ‘n Khaki tussen hulle op ‘n kar, terwyl Rensche en haar vriende in die spruit wasgoed was: “Liewer ‘n spruitsitter as om op so ‘n manier op ‘n kar te ry....”).

Maar sy vertel in haar dagboek van die baie kinders wat maer en uitgeteer gesterf het (22 000 kinders [uit 28 000 sterftes] onder 16 het in die 43 konsentrasie-kampe gesterf). Hele gesinne is uitgewis. Soms het net ‘n jong kind oorgebly sonder enige familie.

Hoe dink ‘n mens oor God as dit oor jou pad kom?

Om bietjie van die antwoord te verstaan, moet ‘n mens na die foto hieronder kyk. Dit is geneem van ‘n groep lidmate van die Gereformeerde Kerk in Reddersburg, waarvan Rensche ‘n lidmaat was.



Ek loop dit op die internet met die volgende berig raak:
Ook in die Vrystaat is in 1909 fees gevier. Dit is op 12 en 13 Mei te Reddersburg gehou. Die plaaslike predikant, Ds L.J. du Plessis het die feesrede gelewer. Al die Vrystaatse predikante (5 in getal) was teenwoordig, met Ds. Hamersma uit die Kaapkolonie en Ds. M. Postma uit Transvaal.
Tydens hierdie byeenkoms is £ 30 gekollekteer. Saam met die voorafkollekte van £ 70, kon die kerk in die Vrystaat Gereformeerde leesstof vir kinders voorsien.
Tydens die byeenkoms is ‘n foto geneem van al die broers en susters wat 50 jaar vantevore, in 1859, by die stigting van die Gereformeerde kerk teenwoordig was. En dan die opmerking: “... en op het portret uitmunten door eenvoudigheid en zedigheid van kleederdracht en houding.” http://www.gksa.org.za/150/1909.html

Dit is die “eenvoudigheid en sedigheid” van die kleredrag en houding wat ek onthou (maar die “leesstof vir kinders” vertel tog ook iets van ‘n gemeente se fokus). Mense wat só aantrek om hul gemeente se 50 jaar te vier, sê iets oor hul godsdiens. En dit is ook inderdaad soos ek die “Dagboek van ‘n Bethulie kampdogter” (uitgegee deur Kezia Hamman in 1965) ervaar.

Rensche was toe maar 23 jaar oud, maar ook haar dagboek vertel ‘n merkwaardige verhaal van iemand wat in haglike toestande waar mense soos vlieë afgemaai word, haar geloof sober uitleef. In die eenvoud van haar dagboek, is ‘n geloofservaring te merk wat ‘n mens verwonderd laat. Daaroor later meer. Maar hier net voorlopig my eie gevoel oor die foto: terwyl ek daarna gekyk het, my verwonder het oor die donkerte, die swart klere, die baarde, die gender skeiding, die gekappiede vroue, het ek by myselwers gedink ‘n mens sou vanuit die 21e eeu tog ‘n harde parodie daarop kon lewer. Maar van nader gesien, is hier leeftye van meelewing, winters en winters van getoë geloof, dekades van wysheid en verder net rustigheid van die ouderdom te lees. Moenie met die omies en die tannies (veral die met die kieries) lol nie. Daar is inbors. Maar dis nie ‘n foto van narigheid, skynheiligheid of pretensies hierdie nie.

Rensche se dagboek, geskryf deur ‘n 23jarige vrou, in 1901 (sy was met die eeufees 31 jaar oud), sit ‘n bril op my oë wanneer ek na hierdie foto kyk. En iewers is daar ‘n mistigheid op die brilglase – oor vervloë tye toe geloofservaring skynbaar so kinderlik eenvoudig en sober kon wees, sonder dat dit ooit pateties of sentimenteel of skynheilig was. Die foto en die dagboek saam vorm met die foto’s van die uitgemergelde kinderlyfies (vorige blog) ‘n raamwerk waarbinne my eie spiritualiteit weer skuif. Ek besef, terwyl ek daarna kyk en dit lees, hoe geloof dikwels die enigste bron van oorlewing is. Wat sou tog van ons word as ons nie meer na God kan uitreik nie?

Ten slotte: baie is oor die oorlog geskryf vanuit ‘n historiese hoek. Wat weet ons eintlik van die geloof waarmee mense in hierdie oorlog in is? Watter geloofservaring, ervaringsrealiteit, het mense gehad? En hoe skuif dit my in my spiritualiteit?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive