Saturday, April 04, 2009

'n Spiritualiteit van omgee: oor besorgdheid, sorgsaamheid en sorg

Henri Nouwen het bekend geword omdat hy gaan werk het in ‘n plek van versorging onder mense met ‘n gestremdheid. Hy het sy boek “Adam” daaroor geskryf. Twee dinge het my van sy boek opgeval: aan die een kant die onvoorwaardelike liefde wat hy, skryf hy, van die inwoners ontvang het. Hulle het nie aan hom gedink as ‘n bekende professor van Harvard nie. Hy was by hulle net nog ‘n mens wat na hulle omgesien het. En as mens, het hulle hom liefde gewys wat hy andersins nie altyd so spontaan voorheen ervaar het nie. Die ander ding wat my opgeval het was hoedat hy sy versorging gerelativeer het: hy het, meer uit sy sorg vir ander gekry as wat hy gegee het.

‘n Mens het jou “professionele” versorgers in elke dorp of stad: mense wat sensitief is vir ander se behoeftes en dit raaksien. Hulle is die outydse “altruïste” – mense wat ingestel is op ander en om ander te help. Sommige van hulle kan dit oordoen. Hulle het nie ‘n lewe van hul eie nie. Hulle word partykeer uitgebuit deur die mense wat hulle versorg. Ander, weer, wil hul idee van wat ander mense nodig het op daardie mense afdwing. Dan draai hul versorging naby aan inmenging.

Daarom is versorging nie vanself ‘n goeie saak nie. Dit is hoe jy ander versorg wat tel: is jy besorgd oor hulle as mense met hul eie behoeftes, voorkeure en gewoontes? Wil jy graag vir hulle help om te kry wat hulle nodig het? Of dink jy aan hulle as mense wat behoort te doen en te kry wat jy dink hulle nodig het? Draai jy jou rug op hulle as hulle nie na jou sin presteer en dankbaar is nie?

Mense leef langs mekaar, dikwels in ontbering en nood, sonder dat hulle vir mekaar omgee of sorg. Mense leef by mekaar – getroud, in ‘n familie in ‘n vriendekring – en hulle loop rond met ‘n troebel gemoed sonder dat iemand anders dit raaksien of besorgd daaroor is. Soms doen hulle dit onnadenkend. Soms wil mense met opset “nie betrokke raak nie.” Elkeen moet immers verantwoordelikheid vir sy of haar dade en lewe neem, redeneer hulle.

Maar dit is gewoonlik eers wanneer mense self in ‘n krisis kom dat hulle besef hoe hulpeloos hulle soms is om uit hul nood te kom en hoe nodig hulle ander het. Ons sien dit wanneer mense kinders het wat met gestremdheid gebore word en ouers te staan kom voor ‘n samelewing waarin hulle kinders nie ‘n plek het om na te gaan nie of ‘n onseker toekoms het. In so ‘n kwesbare konteks het sommige van sulke ouers die motivering om te begin werk om ‘n plek of skool of inrigting vir hul kinders en ander sulke kinders te kry. Maar vir elkeen wat so is, is daar ‘n klomp wat dit nie kan doen nie en hulp nodig het.

In sulke gevalle het ons ‘n unieke situasie: mense word feitlik in die rol van versorgers “ingedwing” omdat hulle kinders met ‘n gebrek gebore is. Maar die groot meerderheid kry dit nie reg nie. Hulle weet nie hoe om hul eie nood te hanteer nie. Vir hulle gee mense nie regtig om nie.

Daarom moet ‘n mens aanleer om besorgd te wees. Ek loop ‘n ruk terug by die strand verby ‘n bus van mense wat vir die dag daar kom uitspan het. Sommige van hulle het bierbottels stukkend gegooi en die stukke lê langs die bus waar die groep se eie kinders rondspeel. Ek buk om die glasstukke op te tel. Terwyl die groep my meewarig aankyk, kom twee of drie van die vroue skielik nader om te help. Hulle het verstaan. Iewers sal daardie groep in die toekoms ‘n bietjie meer bewus word van watter skade hulle doen. Hulle “leer” – dalk baie voorlopig en oppervlakkig – dat ‘n stukkende bottelstuk ‘n kind kan skade aandoen.

Ekstrapoleer dit nou. Ons moet so leef verby ons eie belang dat ons vir die enkeling in nood omgee. Maar ons moet iewers dit so doen dat ons ook ‘n getuienis lewer. Dit hoef nie noodwendig “doelbewus” te wees nie. Maar in die dinge wat ons (onbewustelik dikwels) eenvoudig doen omdat ons besorgd is, moet ons ‘n gees van omgee kweek en ander bring om na te dink oor hul gebrek van omgee.

Wat my opval van Jesus is sy aandag op die nood van ander mense. Hy het gesien die mense is honger en sal nie die huis haal na al sy preke nie. Toe vermeerder hy die brode. Sy dissipels het neergeskryf dat hy dit gedoen het omdat hy innig jammer vir hulle gevoel het. Jesus sensitiwiteit lei tot daadwerklike optrede – tot iets wat hy doen om mense se lewens te verander. En dan doen hy dit boonop ook op ‘n doodgewone vlak van hongerpyne stil. Later sou sy dissipels, na sy voorbeeld, dieselfde besorgdheid onder mekaar uitoefen en teenoor ander wys. Een mens kan ‘n gemeenskap inspireer tot ‘n lewe van besorgdheid en omgee.

Henri Nouwen het ‘n troebel lewe gehad. Sy boeke vertel van sy innerlike angstigheid en onsekerheid. Hy, die Harvard professor, kon in al sy slim roetine-takies by die hooggeroemde universiteit nie die vervulling vind wat hy gesoek het nie. Hy skryf dat hy daardie vervulling in die liefde van mense gekry het toe hy vir hulle gaan sorg het. Nie juis dat hulle hom self so besonder liefgehad het nie. Hulle het hom wel die drukkies gegee. Maar iewers het hy herken dat hierdie mense gelukkig was in ‘n tuiste waar hulle goed versorg was. En hulle heelheid, hulle spontane lewe van vreugde het oor hom oorgespoel. Hy kon ‘n ruimte van sorgsaamheid ervaar en deel. Die diepste geheim van sorgsaamheid is dat dit van jou, die versorger, ‘n ryk mens maak. Nie omdat hulle vir wie jy versorg soveel hande klap vir jou of so baie dankies vir jou kom sê nie, maar omdat hulle gelukkig is. Ons weet dit tog: daar waar ons by heel mense woon, het ons niks nodig om self gelukkig te wees nie.

Daarom is ons besorgdheid altyd ingestel op mense. Hulle moet nie soos ons noodwendig word nie (asseblief nie – sal sommige van ons boonop dink). Hulle moet deur ons sorg versorgd word en van lyding gespaar bly. Wat tel is ook nie of hulle noodwendig so dankbaar teenoor ons is nie. Die belangrikste is dat hulle as mense bevestig word, dat hulle op hulle beurt na ander kan uitreik. Miskien is die heel belangrikste dat hulle nie ons raaksien nie, maar vir God wat deur ons na hulle uitreik. As dit gebeur, ontdek hulle dat God verlang van ons om ander lief te hê, vir hulle om te gee en na hulle uit te reik.

Daar is iets mistieks aan ons omgee vir ander: deur na hulle uit te reik, ontdek hulle miskien dat ons dit doen omdat ons ook spesiaal deur God bemin word en nie omdat ons self so spesiaal is nie. Om besorgd oor ander te wees, is ‘n teken dat ‘n mens dankbaar is omdat God so oor ons besorgd was.

Sien ook: http://meer.trouw.nl/filosofie/heeft-zij-zorg-nodig-en-moet-ik-die-geven

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive