Tuesday, April 14, 2009

Liefde in 'n maalkolk van lyding en ellende. Oor die spiritualiteit van omgee

Ek lees nou ook Ds Luckhoff se dagboek wat hy as predikant in Bethulie se konsentrasie-kamp geskryf het. Dit is ‘n merkwaardige boek om te lees langs Rensche van der Walt se dagboek (sien vorige blogs).

Luckhoff was maar 27 jaar oud toe hy, vars en geleerd van sy oorsese studies, in die kamp as predikant aangestel is. Hy was as ‘n onervare proponent daar in die diepkant ingegooi vanaf 21 Augustus 1901 tot 24 Oktober 1901 - juis in die tyd dat die sterftes hul hoogtepunt bereik het. Na sy kort tydjie in die kamp (skaars twee maande) het hy ‘n senu-instorting gekry. Hy moes toe na sy ouerhuis terugkeer. Luckhoff , wat later as Sekretaris in die Diens van Barhartigheid onoortreflike werk in die kerk sou doen om armes op te hef, het in 1943 ‘n eredoktorsgraad vir sy werk gekry. Hy verdien meer as dit vir hierdie dagboek – wat hy, soos hy in die voorwoord skryf – vir ‘n jaar lank nadat hy dit klaar geskryf het, nie weer moed kon vind om dit te lees nie.

Destyds toe ek Bonhoeffer se briewe in die gevangenis gelees het, het dit my lank gekos om weer perspektief te kry. Hierdie dagboek is erger: dit is die verhaal van ‘n man wat in die modderbad van grenslose lyding van die mees verwondbare deel van die samelewing – vroue en jong kinders – moet preek oor God.

Bladsy 109 (in Raath en Louw se “Die Konsentrasiekamp te Bethulie gedurende die Anglo-Boere-oorlog 1899-1902) val my op omdat dit in hierdie kookpot van ellende die plek van liefde uitspel. Hy skryf op Woensdag 4 September as volg:

Dit was ‘n baie besige middag.
Daar was begrafnisse om 4.00 nm. Agtien lyke. “En God sal al die trane van hulle oë afvee.
Hoe kan ‘n mens se hart verhard bly? Kan ‘n mens onbewoë wees wanneer jy wenende, swaar beproefde moeders in foltering, knielende, langs hul suigelinge se grafte sien?
Liefde is, na dit alles, die grootste en geheimsinnigste van alle dinge!
Verklaar dit dat ‘n moeder kan vasklou aan ‘n hulpelose, idiotiese, msvormde seun van veertien jaar en hom mond tot mond voer! Verklaar dat ‘n moeder nag en dag, dag en nag met ‘n siek kind kan wakkerbly! Kyk na daardie diep gesonke oë, droefheid-gesonke, hulle sorg – vermoeidheid, en vertel aan my wat is hierdie liefde wat alles verduur!
Gedurende die afgelope veertien dae het ek twee dinge geleer wat tot nou toe vir my alles “verbeelding was” – die betekenis van die liefde en dit wat Godsdiens genoem word.

En dit is die goeie dele van die dagboek.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive