Thursday, January 21, 2010

Die lieg is waar. Verkoop Clint Eastwood vir ons knolle as sampioene?

In Invictus, die rolprent, gee President Mandela vir Francois Pienaar ‘n beroemde gedig van William E. Henley (1849-1903) wat later opgeneem is in die Oxford Book of English Verse. Dit is geskryf deur iemand wat jonk reeds tering gekry het en wie se been daardeur toe onder die knie afgesit moes word. In 1867 skryf Henley dus die sterk, assertiewe gedig as iemand wat dikwels die verkeerde kant van die lewe ervaar het.

Die titel (Invictus; Onoorwinlik) wat so belangrik in Eastwoord se fliek is, is egter eers later by die gedig bygevoeg, wat wys hoe mense dit gelees het as ‘n gedig wat ‘n mens aanmoedig om nie tou op te gooi nie. Dit gaan vir hulle dus duidelik oor die onvermoë van enige terugslae om die sterk gees an die mens te oorwin.

Daar is baie dispute oor die gedig, onder andere hoe godsdienstig dit werklik is. Maar almal stem saam dat dit ‘n inspirerende gedig is. Dit vertel van heldemoed in donker tye.

Hier is die gedig en daarna ‘n vertaling van my wat dit meer eksplisiet religieus maak en wat wys hoe ek, saam met baie ander mense, die gedig verstaan:

Invictus

Out of the night that covers me,
Black as the Pit from pole to pole,
I thank whatever gods may be
For my unconquerable soul.

In the fell clutch of circumstance
I have not winced nor cried aloud.
Under the bludgeonings of chance
My head is bloody, but unbowed.

Beyond this place of wrath and tears
Looms but the Horror of the shade,
And yet the menace of the years
Finds, and shall find, me unafraid.

It matters not how strait the gate,
How charged with punishments the scroll.
I am the master of my fate:
I am the captain of my soul.


Onoorwinlik


In die donker nag wat my omring

en pikswart selfs die sterkste lig verdring,

dank ek God, terwyl ek biddend kniel,

vir my onoorwinlike siel.


In my lot se felle greep geknel,

knip ek geen oog, is daar niks wat my angstig kwel.

As tye my slag en wildwreed knou,

is my kop vol bloed, maar steeds nog hooggehou.


Anderkant dié plek van wraak en bitter weë

dreig net nog die Gruwel-skaduwee.

En tog – geen onheil in enige tyd

laat die geringste vrees in my ontspruit.


Hoe gevaarlik nou ook al die poort

Hoeveel hul mag dreig met bloed en moord –

Ek sal die baas van my lot bly wees

Ek is die Stuurman van my ganser gees.

Vir my gaan die gedig nie net oor moedig wees nie, maar bevat dit ‘n fundamentele element van spiritualiteit, naamlik dat ‘n mens kies om moedig te wees. Jy het die Godgegewe vermoë om óf te gaan lê en oor te gee óf om orent te bly en te stry.

Ek was, toe ek die fliek gekyk het, meegevoer deur die vloeiende, poëtiese woorde van hierdie gedig in die subtiele manier waarop Invictus as fliek ‘n mens inspireer wanneer twee mense uit twee vyandige groepe in ‘n allerellendigste tyd bymekaar kom. Teen alle waarskynlikhede in kry hulle dit reg om hulle situasie en die gesindheid van baie duisende mense (43 miljoen!), deur ‘n gevaarlike nou poort stuur in ‘n veilige hawe van saam-wees en saam-leef.

Lees maar net daardie woorde en luister daarna – die meesleurende ritme, rym, klank en wonderwêreld van die woord.

Nou was ek uiteraard bietjie vies toe ek ontdek maar Mandela het nooit hierdie gedig vir Pienaar gegee nie. Die “historiese” situasie soos dit in die fliek so poëties mooi aan ons opgedis is, is dus vals. Die fliek lieg vir ons. Eastwood, dog ek vir ‘n oomblik, ontnugter deur ‘n artistieke ingrype en sommer bietjie kwaad, jou ou deksel. Nou daal my estimasie van almal, veral van Mandela wat ek gedink het sulke hoge verse ken.

En nou is dit boonop fassinerend dat Eastwood besluit het dat die gedig, die lieg in die fliek, boonop die titel van die fliek word.

Wat natuurlik dadelik 'n interpretasie-sleutel vir 'n mens gee. En wat jou laat besef watter subtiele stuk werk hierdie fliek werklik is.

En toe gaan kyk ek en vind uit dat Mandela wel vir Francois Pienaar tog tydens daardie ontmoeting ‘n stukke leeswerk gegee het (!; ek hoop die res van die span het dit ook gelees). En toe Pienaar daardie aand by die huis kom en begin lees, toe sou hy seker met stomme verbasing agterkom dat die President vir hom ‘n gedeelte uit ‘n toespraak gegee het wat Pres. Roosevelt in 1910 by die Sorbonne Universiteit in Parys gehou het. Die titel van die beroemde toespraak is, gepas, Die Mens in die Arena. En een van die treffendste dele van die toespraak is as volg:

It is not the critic who counts; not the man who points out how the strong man stumbles, or where the doer of deeds could have done them better. The credit belongs to the man who is actually in the arena, whose face is marred by dust and sweat and blood; who strives valiantly; who errs, who comes short again and again, because there is no effort without error and shortcoming; but who does actually strive to do the deeds; who knows great enthusiasms, the great devotions; who spends himself in a worthy cause; who at the best knows in the end the triumph of high achievement, and who at the worst, if he fails, at least fails while daring greatly, so that his place shall never be with those cold and timid souls who neither know victory nor defeat.

Dit is nie die kritikus of die foutvinder wat tel nie. Wat tel is wie die mens in die stadion is en wie se gesig vertrek is onder stof en sweet en bloed, wat dapper stry, wat foute maak, wat telkens moet terugval want daar is geen wenpoging sonder foute en tekortkomings nie. Dit is die mens wat in werklikheid streef daarna om iets daadwerkliks te doen, wat groot entoesiasme wys, groot toewyding, wat hom of haar vir ‘n waardige doel inspan – dit is hierdie mens wat uiteindelik die triomf van die hoogste sukses ken. As so iemand nietemin faal, faal die persoon terwyl hy of sy baie gewaag het. Daarom sal hy of sy nooit ‘n plek deel met daardie koue, angstige siele wat nog ‘n oorwinning nog ‘n nederlaag ken.

Pragtig. Doen iets, sê hierdie toespraak. Gaan neem deel. Worstel in die lewensarena. Moenie ‘n koue, angstige siel wees wat iewers in ‘n hoekie onder ‘n kombers gaan inklim nie. Wees die Stuurman van jou siel.

Ek genietdit soveel te meer omdat dit my so bietjie laat dink aan die onderskeid tussen teologie en spiritualiteit: die een praat en die ander is in die arena.

En só sê hierdie toespraak van Roosevelt en die gedig van Henley iewers dieselfde ding. Die fliek Invictus mag iewers ‘n artistieke spekskietery(tjie) wees, maar essensieel bring beide die gedig en ook die toespraak van Roosevelt ‘n diepe spirituele dimensie na vore in ‘n gebeure waarvan ‘n mens die impak nouliks onder woorde kan bring. Invictus is 'n digterlike "omsetting" van die meer prosaiese Mens in die Arena.

Die artistieke ingrype (of "licence" soos die Engelse sou skryf) deur die imposisie van ‘n Engelse gedig op die ontmoeting van Mandela en Pienaar, maak Invictus juis universeel. Dit onderstreep vir ons wat hierdie gebeurtenis eintlik vir ‘n mens oor die lewe sê. En dit sê iets oor mense wat ‘n onuitblusbare gees (!), ‘n onoorwinlike siel het. Dat die fliek vir ons vertel dat Mandela vir Pienaar ‘n afskrif van Invictus gegee het is dus nie waar nie, maar dit is waar.

Invictus.

Mooi.

Maar, wat al hierdie dinge soveel mooier maak is nie net wát hier gesê word nie. Maar hóé dit gesê word, laat ‘n mens nog dieper by die transformasie ingetrek word. Want niemand wat die tye van die wêreldbeker-oorwinning beleef het, wat Mandela leer waardeer het, wat ‘n begaafde kaptein leer respekteer het (foute wat hulle mag hê of nie), kan anders as om te voel hoe hulle ook geraak word, verander word, Stuurman van hul lewe wil word. Want dít is wat God wil hê: dat ons moet reageer, moet worstel, in die arena moet gaan stry.

Ons sukkel soms om woorde te kry om die betekenis van die lewe uit te druk. Sommige mense het ‘n Godgegewe vermoë om dit op ‘n spesiale manier te kan doen. Die kunste was daarom altyd vir baie mense 'n deurslaggewende instrument van die mistieke. Spiritualiteit sonder kuns is juis ondenkbaar. Om te dink, byvoorbeeld, dat Jan van die Kruis met sy tekeninge 'n totale omwenteling in die kunsgeskiedenis in die uitbeelding van Christus se kruisiging te weeg gebring het! En dit op grond van sy mistieke ervaring van die goddelike.

Dit is iets mistieks – dat ons in menslike taal in aanraking met Skoonheid kom. Soos Plato gesê het is kuns maar net ‘n afskynsel van die hoëre, dieper en aangrypender idee van Skoonheid en die Estetiese. Maar Aritstoteles het ons laat besef dat dit nooit sonder die vorm, die woord, die menslike uitbeelding gebeur nie. Wonderlik – die Idee, die goddelike en die Vorm, die sinlike, die letterlike, die Menslike. En nog boeiender: dat hierdie twee een word. Mistiek as unifikasie.


Wednesday, January 20, 2010

Mense sukkel om "spiritualiteit" uit te spreek. Oor Spiritualiteit en teologie.

Dit val my steeds op hoe mense “struikel” oor die woord “spiritualiteit.” Dit is vir ‘n Afrikaanse oor ‘n vreemde woord. Onlangs is ek by mense wat vir my vra: “Nou waaroor gaan spiritualisme?” Ek het dadelik teruggeskrik van so ‘n vraag. Die eerste reaksie was: “Nee, ek werk nie met spiritualisme nie, dit gaan vir my oor spiritualiteit. Spiritualisme het allerhande konnotasies soos die oproep van geeste, kontak deur mediums met die geesteswêreld en al sulke bizarre verskynsels.”

Min mense sukkel egter om te verstaan dat jy ‘n teoloog is wat met teologie werk. Nie dat hulle bietjie versigtig is vir ‘n teoloog nie. Vir heelwat mense is ‘n teoloog ‘n slimmerige ou wat taamlik baie kan sê oor wat ‘n mens behoort te glo en wat nou nie aanvaarbaar is nie. Teoloë is mense wat een of ander teorie oor die Bybel bedink, gewoonlik in ‘n bepaalde tradisie (Protestants, Gereformeerd, Luthers, Katoliek of Charismaties). Hulle kan vir jou mooi verduidelik wat “geloof.” die “nagmaal”, die “doop” en vele ander onderwerpe is. Hulle ontwerp na aanleiding van sekere groot denkers in hulle tradisie ‘n teorie aan die hand waarvan hulle sekere inligting en antwoorde oor die Bybel kan verskaf. Laat Jesus nou egskeiding toe of nie? Kan ‘n mens aborsie goedkeur of nie? Wat is die Bybelse siening oor die verhouding tussen kerk en staat? Dit is die soort van vrae waaroor teoloë hulle ondere andere mee besig hou. Dit is vrae oor hoe ons moet dink en hoe ons “reg” moet leef.

Spiritualiteit is anders as teologie. Hoewel ‘n mens in Spiritualiteit sekerlik ook teologies besig is, is ‘n mens se fokus anders. Spiritualiteit stel belang in wat gebeur wanneer mense glo en hoe glo mense, meer as die teologie wat veral wil weet en praat oor die dinge wat mense glo. Spiritualiteit vra: Wat is mense se ervaring wanneer hulle deur God aangeraak word? Wat gebeur, hoe groei hulle geloof, hoe verander dit hulle lewe, hoe raak dit hulle godsdiens? Maar daar is ook ‘n verdere belangrike motief, soos Schneiders dit sien: spiritualiteit stel nie net belang in hoe gelowiges omvorm word deur God nie, maar die mens wat meer wil weet oor die ervaring van God by ander mense, stel homself of haarself oop om verander te word. Deur te sien wat met ander gebeur, word die student van Spiritualiteit self ‘n veranderde mens. Hy of sy word geraak, beïnvloed, betrek en meegesleur deur wat met ander gebeur. Daar is ‘n empatie, ‘n oopheid, ‘n bereidwilligheid om die ander een ruimte ge gee en om deur die transformasie van die ander verryk te word. Spiritualiteit wil baie meer as kennis verwerf, baie meer as net nuuskierig vra wat gebeur wanneer ander glo – dit wil veral vra hoe word ek geraak deur mense vir wie God so merkwaardig aanraak en verander..

Schüssler-Fiorenza het ook oor die studie van godsdienstige ervaring geskryf as iets wat spesiaal is. Ons kan nie ander mense se ervaring van God verstaan en beleef as ons ervaring nie oorvleuel met hulle s’n nie. ‘n Mens kan byvoorbeeld nie die boek Openbaring begryp as jou wêreld nie iewers kan identifiseer met die lyding, angs en benoudheid wat die lesers van Openbaring beleef het nie. Jou ervaring en hulle ervaring is nie identies nie, maar is soortgelyk. En daarom kan ‘n mens troos en moed put uit die boodskap van Openbaring. 'n Spirituele lees van Openbaring sal daarom nie fokus op die christologie, die duisendjarige vrederyk, die 144,000 en hulle identiteit nie, maar op die geloofsituasie in die boek: waarom wil die skrywer met sy lesers kommunikeer in hul unieke situasie en geloofsreis - en hoe word ons dan so meegevoer deur wat in hierdie boek geskryf is?

Spiritualiteit kyk na hoe mense vir God ervaar. Luther was ‘n toegewyde katoliek wat iewers op ‘n dag radikaal in sy diep godsdienstige belewenis
verander is. Soos Paulus was hy ook intens godsdienstig wat roerend en soekend na God gevra het. En dan, op ‘n dag, raak God hulle aan en hulle sien die lewe totaal anders. Die Gees van God neem hulle in ‘n totaal ander rigting. Ons sien hoe hulle God op ‘n nuwe manier ervaar. Luther het Paulus bestudeer en toe hy Romeine 1 gelees het, het hy skielik in ‘n oomblik van helder lig gevoel wat Paulus gevoel het: hoe God se genade ‘n mens vry kan maak en jou angs in ‘n diepe liefde kan omsmee. Luther se lewe het oorvleuel met Paulus s’n. Later het Luther dit alles in teologiese werke uitgewerk en Spiritualiteit sal hierdie teologie in die lig van Luther se geestelike ervaring wil verstaan. Maar uiteindelik gaan dit om die konkrete ontmoeting met God in die lewe van mense wat geworstel het om God se wil te verstaan. Nie wat hulle teologies netjies uitgelê het, is die eerste fokus van Spiritualiteit nie. Die eerste fokus is hoe die ervaring van God hulle getransformeer het en ‘n nuwe geestelike reis met God begin het. Luther die Katoliek het Luther die Protestant geword. In die proses het hy sy eie geestelike reis begin wat hom baie verder geneem het as wat Paulus se reis verloop het. Hy het vir Paulus gelees en gevra hoe Paulus se toewyding aan God sy lewe as ‘n rooms-katolieke priester beïnvloed. En hy het uiteindelik 'n groot prys betaal om sy nuwe ervaring van God so te verkondig dat ander daardeur bevry kon word. Op die manier het Luther die Rooms-Katoliek Luther die Protestant geword.

Dit alles beteken vir my dat Spiritualiteit ten nouste verweef is met konkrete belewenisse. Ons dink na oor die lewens van mense wat deur God geraak is en met God ‘n geestelike reis begin waag het omdat ons oop is dat dit ook met ons kan gebeur en dat ons ook gereed is om so ‘n reis te begin.

Dit alles beteken dat ons geloofsreis nie los staan van hoe ander mense God ervaar het. Daar is ‘n interaksie van baie momente tussen ons ervaring van God en ander gelowiges s’n, maar op die ou end is elkeen van ons se eie geestelike reis totaal uniek. Gelukkig. Want dit illustreer vir ons hoe spesiaal God se verhouding met mense is. God bring mense nie maar net om sekere belangrike dinge oor God te dink nie. Maar elkeen van ons word geïnspireer om nuut en vars in die geloof met God te wandel. Dit is baie opwindend, maar dit is ook uitdagend. Ons moet nie nuwe wyne in ou sakke gooi nie....

Eintlik is Spiritualiteit ‘n pragtige woord as ‘n mens dink aan hoe Jesus die Gees vir sy volgelinge beloof het en bygevoeg het dat ons groter dinge sal doen wanneer die Gees oor ons kom. En die kerkgeskiedenis wys dit vir ons uit: toe die Gees (die “Spirit”) mense getref het, dwarsdeur Handelinge heen, het daar elke keer merkwaardige dinge gebeur. Dit is hierdie merkwaardige dinge waaroor ons gedurig nadink in Spiritualiteit sodat ons ook gereed is om met God op reis te gaan soos ons voorgangers in die geloof wanneer die Gees op ‘n dag deur ons lewens waai.

Spiritualiteit gaan oor die Heilige Gees - oor ons verwondering dat die Gees waai waar Hy wil en oor ons afwagting dat die Gees ook in ons lewens waai.

Tuesday, January 19, 2010

Invictus

Invictus was my fliekpiek van die week. Ek het gemengde gevoelens gehad oor die vooruitsig. Aan die een kant is daar die goeie vooruitsig om goeie spelers te sien. Clint Eastwood het die afgelope jare groot naam gemaak as regisseur. Daar is ook ‘n paar groot name, soos Matt Damon en Morgan Freeman wat as akteurs opgetree het. Maar aan die ander kant het flieks oor Suid-Afrika in die verlede dikwels gewys hoe belaglik mense kan wees as hulle ons land en ons geskiedenis wil uitbeeld. Wie kan nou die siel van Suid-Afrikaanse politiek, kultuur en veral rugby peil as hulle vreemdelinge in die poorte van Israel, Loftus, Nuweland en Afrikanerdom is?

Ek het ook geleer, veral in die afgelope jare, dat geen van die wêreld se groot helde net goeie kante het nie. Dus ontwikkel ek toenemend ‘n skeptisisme oor romantisering van mense en die skildering van groepe in terme van wit óf swart (figuurlik bedoel). En 'n mens wil veral nie druppende sentimentaliteit sien oor iemand wat 'n enorme rol in ons land gespeel het nie. Ons weet ook 'n mens moet maar nie te gou en naief ophemel nie. Dié van ons wat oor die jare die politieke toneel van naderby bly bekyk het, weet dat Madiba by tye hewig woedend kon word. Die uitvalle tydens die konstitusionele onderhandelinge was een voorbeeld. En Van Zyl Slabbert het in sy laaste outobiografie ook kante van Madiba geteken wat ‘n mens nie graag wil hoor nie.

En tog, juis vanweë daardie swakker, menslike kante, dink ek, staan Nelson Mandela groter as gewoonlik uit bo baie ander leiers. Want ‘n mens wat swakker kante wys en van wie 'n mens weet dat hy of sy ook maar feilbaar is, blink vir ons uit juis wanneer hy of sy groter, dieper en aangrypender momente het. Dan besef 'n mens hoe styg hy of sy werklik uit bo sy eie beperkinge. En so groot en uitsonderlik was Mandela beslis.

En die Vader weet, 'n mens het die behoefte om vir 'n slag ook die goeie, mooie en uitsonderlike in mense te kan raaksien. In die fliek sê die karakter op ‘n stadium: “This country longs for greatness.” Maar dit is waar van die wêreld in sy geheel. In die fliek besoek die Springbokke Robbeneiland en staan Matt Damon alias Francois Pienaar in Mandela se sel. Vir een sekonde wys hulle hoe hy sy twee hande uitsteek en amper die sel se mure in die lengte raak. En wanneer hy by die venster in die harde, stowwerige gruisgat kyk waar die gevangenes jaar na jaar moes werk, sien hy vir Mandela kap in ‘n stukke wonderlike, maar hartverskeurende cinematografie. Jy skuif eintlik in jou stoel terug van verleentheid om te dink dat die waardige man, ‘n merkwaardige leier, aan daardie vernedering onderwerp is.

Daarna, in ‘n roerende oomblik, vertel Pienaar aan sy vrou hoe hy verwonderd staan voor die feit dat ‘n man wat 30 jaar in só ‘n sel toegesluit was, die mense wat hom opgesluit het, vergewe het.

Ek het dus met gemengde gevoelens in die fliek ingestap. En tog het ek ‘n ryk mense daaruit gekom. Dit is sekerlik ‘n aangrypende fliek. Mandela word veral uitgebeeld as die held, sonder fout of swakhede. Maar ‘n mens besef gou dat dit in die fliek om meer as net die uitbeelding van ‘n mens gaan. Hier is dieper debatte aan die gang: As Mandela vir Pienaar die eerste keer vir tee nooi en Matt Damon absoluut oortuigend die rol van ‘n onervare, skaam, geïntimeerde Afrikaner rugby-kaptein so oortuigend en mooi speel, praat Mandela met hom oor leierskap. Dit vind plaas binne die konteks van die vraag hoe word ‘n hoogs gepolariseerde, verdeelde samelewing deur voorbeeld en leiding geheel. Met hierdie soort van debat begin die twee mense se vriendskap. Dan besef jy, hierdie fliek onderstreep eintlik sekere belangrike spirituele waardes. Dit wil aanmoedig tot menslike optrede, tot versoening tussen groepe, tot vergifnis, tot self-opoffering, tot leierskap. Ons is in ons sinisme oor die politiek nie gewoond om sulke verheffende gesprekke met die politiek te verbind nie. En net so verfrissend is dit om weer vir ‘n slag te hoor dat ‘n politieke leier bereid is om sy volgelinge oor belangrike sake teen te gaan. As hulle besluit om die Springbok-embleem af te skaf, is hy die een wat vasskop, ter wille van die eenheid tussen die groepe in die land.

Ek is diep geroer deur hierdie film. ‘n Mens kom daaruit vol heimweë na ‘n hoogtepunt in ons jong land se geskiedenis, maar veral na die grootheid van ‘n man wat teen sy volgelinge in, sy hand uitgereik het na sy teenstanders wat hom jare lank gestraf het en wat met absolute sinisme sy presidentskap begroet het. ‘n Mens treur oor die agteruitgang wat na die groot man se tyd plaasgevind het, oor die vervreemding wat weer ingetree het, maar veral oor die gierigheid, selfsugtigheid, onverdraagsaamheid en ander negatiewe gevoelens wat in die jare na Mandela so dikwels weer aangemoedig en verdra is.

Hierdie fliek kom net betyds om ons daaraan te herinner dat klein lande met onbekende mense die verbeelding ver buitekant hulle grense kan aangryp en ‘n verskil maak. Want hierdie fliek oor ‘n sportgebeurtenis in 1995 word ‘n les in heroïek, in menslikheid. Dit spreek ‘n universele taal wat deur mense oor die wêreld heen verstaan is. Ons het 'n behoefte aan groot leiers, want dit is wat ons ook aanspoor tot grootheid. En iewers, leer ek weer, ontdek ons ook deur die fliek hoe 'n mens grense tussen mense, selfs die keiharde grense wat ons so graag verdedig, iewers afgebreek kan word sonder dat die aarde ineenstort - ja, selfs tot verryking en wedersydse agting van mekaar.

Clint Eastwood het ‘n fliek gemaak waarin die Afrikaner vir ‘n slag nie gekarakteriseer is as dom rassiste nie. Dit is ook nie ‘n sentimentele fliek nie. Daar is lekker humor, veral die keer as die springbokke vir die eerste keer in ‘n township ingaan om rugby onder die skoolkinders te bevorder en af te rig. As hulle van die bus afklim en na die kinders loop, storm die kinders met groot gejubel op hulle af – en omring dan met blye krete vir Chester Williams!

Ek gee die fliek ‘n 9, veral oor sy verheffende impak, die oortuigende en deurleefde spel van Morgan Freeman en Matt Damon (ongelooflik), asook die sekretaresse van Mandela (wat ‘n speler), die stunning musiek, die wonderlike gedig waaruit die titel Invictus vandaan kom (wat sê dit tog van Mandela se grootheid dat hy sulke gedigte vasgehou het vir inspirasie), die verbysterende tonele van die Kaap (Tafelberg), die lekker toneel oor die Boeiing wat oor die eindstryd-stadium gevlieg het, die leier van die span wat Mandela opgepas het. Maar een punt word afgetrek vir die rugbyspelers waaarvan sommige gelyk het of hulle nie in Pofsonderadder se derde span plek sou gehaal het nie. A nee a. Die spelers in die fliek was darem nou nie ninnies of ballerinas nie (soos die huidige coach dit sou geformuleer het), maar hulle was darem ook nou nie daardie manne wat die dag op Ellispark hulle kant so formidabel gebring het nie.

Na die tyd stap ons huis toe. Hier op die dorp begin die straatkafees toemaak. Dit is jool-week en die studente is en masse besig met hulle dinge. Maar vanaand is die polisie op patrollie. Ons sien ten minste drie polisie-voertuie. En, half elf in die aand, is die skoonmakers besig om die strate skoon te maak. Agter op hulle voertuig is sakke vol vuillis wat die voetgangers oral gemors het.

Ons sien die polisie op die strate. Ons sien ons strate word skoongemaak. Ons sien hoe ons geskiedenis die wêreld inspireer.

Dit is ‘n goeie aand gewees.

Monday, January 18, 2010

Oewerlose lyding en die afwesigheid van God

Die latere baie bekende Ds. A.D. Luckhoff was nog ‘n jong onbekende predikant toe hy tydens die Boere-oorlog in die Bethulie-kamp as predikant gewerk het. Dit was een van die mees berugte kampe in die oorlog wat groot getalle slagoffers geëis het. Hy het ‘n dagboek gehou waarin hy die matelose ellende in die kamp vir die nageslag aangeteken het.

Hy skryf op ‘n stadium toe daar tot 20 en 30 mense op ‘n dag sterf – meestal vroue en klein kinders – die retoriese vraag: “wat sou ons hier gedoen het as ons nie op ons godsdiens kon terugval nie, as ons nie die vertroue gehad dat ons ‘n goeie en barmhartige Here het nie, as daar nie Liefde was nie, as daar nie ‘n hoop op die opstanding en die ewige lewe was nie?

Maar later, toe die ellende nog erger geword het, sou hy minder vertrouensvol, skryf:

Wanhopig. Het nou net teruggekom van ‘n sterwende seun, Herklaas, sterk. Vader in Ceylon. Het hom gister besoek. Hy het vir my gesê hy wil nie doodgaan nie, sy pa was ver weg en hy moes vir sy ma sorg. Het vanaand weer gegaan en toe is hy baie siek. Ek is baie, baie teneergedruk vanaand en wil amper dink dat God tog maar – Nee, ek sal die nie skryf nie, want ek glo dit is ‘n versoeking van Satan! Maar o, ons het so ernstig gebid dat God sy lewe sou spaar; hy is tog nog so jonk en sterk.

Enkele weke nadat hy hierdie woorde geskryf het, het hy ‘n senuwee-instorting gehad en moes hy uit die kamp weg. Die lyding het hom eenvoudig oorweldig.

Hierdie geskiedenis kom by my op terwyl ek beelde van die verskriklike ramp op Haïti oor die televisie bekyk. Dit is hierdie soort natuurampe, wat, soos die Tsunami destyds, ‘n mens konfronteer met die sinloosheid van lyding en ‘n mens diep laat nadink oor die voorsienigheid van God.

‘n Mens stel jouself die vraag wat baie gelowiges oor die eeu heen in sulke tye van grenslose ellende uitgekreun het: waar is God dan in hierdie tyd van nood?

Dit klink so maklik, selfs hol, om te sê God is in die reddende hande van al die heldhaftige mense wat dikwels in groot gevaar daar werk, in die moed van die mense van Haïti wat daar wil oorleef, in die gawes van mense vanoor die wêreld heen wat skenkings stuur, in die gebede van hulle wat die slagoffers onthou.

‘n Mens kyk na die beelde in Haïti se verskriklike ramp. Oral sien jy treurende, gebroke mense wat geliefdes se lyke ronddra, dapper mense wat pap baba’s uit die puin trek, sterwende pasiënte wat gesange sing terwyl hulle in groot pyn op ‘n wankelende kampbedjie wag op versorging wat hulle kennelik nie gou gaan bereik nie.

Twee ervare, harde joernaliste van CNN staan voor die kamera en praat oor die ellende. Jy kan sien hulle is na aan trane. Hulle bly soms stil omdat hulle emosies hulle oorweldig.

Dit is naakte, oewerlose lyding wat die armste land in die westelike halfrond soos ‘n vuishou in die maag getref het. Die mense wat dit die minste verdien, word die hardste geslaan.

My gebede is by die mense van Haïti. Hulle het reeds die rou kant van die lewe ervaar voordat die aardbewing hulle getref het. Hulle word nou dubbeld getref.

Dit is nie maklik om vir hulle te bid nie. Vir my is dit moeilik om hierdie gebede voor God neer te lê en ek soek woorde. ‘n Mens doen dit met ‘n gemoed wat wil-wil opstandig word en met neergeslaande oë, met ‘n hart na aan die verwyt en twyfel wat ook in Luckhoff se hart opgedam het.

Ek verstaan waarom Luckhoff na die dood van daardie jong seun in die fleur van sy lewe, geskryf het: “Ek is baie, baie teneergedruk vanaand en wil amper dink dat God tog maar – Nee, ek sal dit nie skryf nie, want ek glo dit is ‘n versoeking van Satan! Maar o, ons het so ernstig gebid dat God sy lewe sou spaar; hy is tog nog so jonk en sterk.”

Ek blaai deur die Psalms terwyl ek nadink hieroor. Daar is pragtige Psalms wat met groot vertroue na God uitreik in tye van groot rampe en nood. My oog val op Psalm 23 waar die Psalmdigter in die dal van doodskaduwee reis, maar tog niks vrees nie.

Uiteindelik kom ek by Psalm 38 uit. Dit is woorde van iemand wat intense lyding ervaar. Sy wonde stink. Hy het nie ‘n heel plek aan sy lyf nie. Hy ervaar verwerping en eensamheid. Meer nog: hy is desperaat dat God hom verlaat (vers 22).

In hierdie Psalm wat so lank gelede deur iemand neergeskryf is en oor baie eeue in baie harte gebid is, kry ‘n mens die Prediker-gevoel. Daar is nie baie lig nie. Daar is nie veel antwoorde op vrae nie. Daar is nie ‘n tafel vol vettige spyse om by aan te sit nie. Nêrens is daar groen weivelde in sig nie. Verkwikking vind nêrens plaas nie. Daar is nie olie vir die hoof, olie vir die voete, ‘n kruik wat leeggemaak word, balsem wat uitgegiet word nie.

Daar is maar net ‘n geroep om te kan verstaan. ‘n Rou geroep na God. Selfs ‘n appel, dalk verwytend, op God: “Here u pyle het in my ingedring en u hand het op my neergedaal.”

Nêrens word daar ‘n enkele woord uitgespreek oor iets wat die bidder dink God met ‘n sterke hand sal doen nie. “Ek is klaar om te val, en my smart is altyddeur voor my.” Hier is naakte lyding.

Dit is die donker nag van die siel.

En dit is deel van die geloofsreis – ‘n Psalm van Dawid.

Sunday, January 17, 2010

Wie gaan ooit dieselfde na ‘n wit skoenlapper kyk?

In vandag se Rapport vertaal Henning Pieterse, die bekroonde digter, ‘n boeiende gedig van Wislawa Szymborska en lewer dan kommentaar daarop.


Die gedig praat oor ‘n interessante verskynsel: Net soos in godsdiens en in die kerk, deel ons ons lewe in “belangrike” en “onbelangike” komponente in. Belangrike dinge, redeneer ons dan, is die “buitengewone,” die “bonatuurlike,” die “wonders” en onbelangrike dinge is om te gaan werk, skool toe te gaan, in jou tuin te wees of motor te bestuur of jou kos te eet, of sulke alledaagse, “normale” dinge.

In die gedig van Szymborska word hierdie houding van ons bietjie nader bekyk. Dit is ‘n gedig wat ‘n mens se kop nog eens met ‘n belangrike, ou insig wil swaai: Die “gewone” dinge kan net so transformatief as die buite-gewone wees.

Hierdie gedig het nie eintlik ‘n aardskuddende insig nie. Maar die boodskap word tog baie spesiaal uitgebeeld. Ek dink ook die gedig kry nogal op sy manier reg om ons iets te laat verstaan wat ons maklik kan oorslaan en verbyleef.

Die gedig beklemtoon vir my naamlik dat 'n mens slegs die eenvoudige dinge sinvol gaan beleef as jy jouself oopstel. Ons kan met oop o ë blind deur die lewe gaan. Die gedig wil die leser "bewus" maak van hoe "blind" ons eintlik is en ons bring om werklik die diepere dinge "raak" te sien.

Dit is ook wat in Spiritualiteit gebeur. Anders as wat dikwels in teologiese werke gebeur met allerhande redeneringe en argumente, beklemtoon Spiritualiteit dat 'n mens slegs die lewe sinvol sal vind as jy deel word daarvan - en jy word deel daarvan deur jouself oop te stel en oor te gee daaraan. In godsdiens dink mense altyd aan die mistieke as ‘n ekstatiese, bo-natuurlike gebeurtenis. Maar die gedig het 'n boodskap wat veral oor godsdiens waar is, naamlik dat mistiek juis in ons alledaagse lewe na vore kom. ‘n Mens kan onder ‘n boom sit op ‘n sonnige dag, soos in hierdie gedig, en ‘n aardskuddende, mistieke gebeurtenis kan jou oorval op ‘n doodnormale manier.

Die gedig help my om Spiritualiteit beter te verstaan. As ek die gedig lees, ontdek ek daarin geestelike dimensies wat my aanspreek, veral as ek die gedig vanuit Spiritualiteit as die bewustelike (“noëtiese”!) nadenke oor transformasie lees.

Net eers die kwessie van die wonder wat ons in die alledaagse dinge kan ontdek. Dit herinner my aan die ou klassieke asketiese ideaal: monnike wat in die woestyn gaan leef het, weg van alles wat mense om hulle gewoonlik so “belangrik” in die wêreld geag het. Hierdie monnike het ontdek dat ‘n stil lewe net so, indien nie meer vervullend is as die besige wêreld van die groot dinge. In die eenvoudigste omstandighede kon hulle op die diepste dinge konsentreer en bewus wees van wat die lewe werklik is. Hulle het gesmag om God te ontmoet – wat tog die belangrikste van alles is. En hulle kon God vind waar hulle in ‘n grot of woestyn niks om hulle gehad het wat hulle kon steur nie of hulle aandag aftrek nie. En hulle het na die stil plekke gegaan juis toe die kerk wonderlike nuwe kanse tot magsvertoon en magsgrepe gehad het. Hulle het begin berge en woestyne toe gaan in ‘n tyd dat die Christendom sy vennootskap met die groot name van die wêreld, die konings en die keisers en die maghebbers, begin aanknoop het en mag in al hoe groter mate die kerk binnegesypel het. In die sin was hul woestynverblyf ook ‘n protes teen die manier waarop die sogenaamde “groot” dinge, die verleidelik prag en praal van mag, die klein dinge, die eenvoud en stilte waar God ook (! – miskien veral) woon, begin bedreig het.

Hierdie gedig het my toe ook laat dink aan hoe die Bybel oor Jesus praat: aan die een kant vertel Bybelse boeke ook deeglik van die groot dinge van die lewe (Herodes, die Romeine, die keiser en die politieke leiers). Maar gedurig teken die Bybel ook die ander kant wat die sogenaamde groot dinge in perspektief plaas: hierdie Jesus se lewe, vertel Bybelboeke, is deurspek met die refrein dat ‘n mens in jou “gewone” lewe as “gewone,” selfs ongerekende, obskure mens, ‘n verhouding vol vervulling met God kan leef.

Trouens, baie teoloë wat onderstreep dat Jesus veral ‘n boodskap vir die armes, die mense aan die rand van die samelewing, gebring het, sê daarmee dat Jesus die gewone alledaagse lewe sakraliseer. Jesus ken ‘n “heiligheid” toe aan ‘n mens se alledaagse lewe. Sin bestaan vir Jesus nie net in die hemel, die paradys in die tempel, in die toekoms, in die groot, belangrike dinge nie. Jy kan God hier en nou vind waar jy ook al is – selfs in die mees afgeleë plekke. Jesus self maak lewensbelangrike keuses in die stil plekke. Hy soek die woestyn op, ver buite die groot stede, daar waar Johannes die eensame profeet mense doop, deur God ingewy in sy bediening wanneer Hy gedoop word. Een van die grootste momente in die Bybel is wanneer Jesus eenkant, op die berg, met mense in stilte en eenvoud praat oor geluk wat te midde van armoede, siekte, trane en selfs vervolging gevind kan word (in die Bergrede van Matteus 5-7). Jesus, God se Seun, is terselfdertyd die mens. En as die mens, 'n geringe timmermanskind, behoort hy en gee hy homself aan die kleines, die geringes, die gewone ou wat nie gereken word en op die hoge gestoeltes sit nie. En Jesus ken en beleef die eenvoudige dinge - hy praat oor die lelies van die veld, die voëls van die hemel en vertel verhale oor die gewone mense, die reisigers, die boere, die arbeiders. Jesus heilig die natuur en die alledaagse lewe op die manier as die plek waar ons ook ‘n goddelike verhaal kan hoor.

‘n Mens kan dus, leer ook die Bybel ons, diepe vervulling kry in ‘n lewe van eenvoud. Jy hoef nie belangrik te wees of geag te wees, om ‘n volledige mens te wees nie.

Maar ek was, soos hierbo gestel, by die eerste lees van die gedig se vertaling deur iets anders getref as die klem op die wonderlike sin wat ook in eenvoudige dinge te vind is. Die gedig vertel ook hoe die digter die dieper dinge agter die eenvoud begin “beleef” en hoe dit al sterker na vore kom.

Dit gebeur ook in Spiritualiteit wat beklemtoon dat 'n mens se verhouding tot die diepste dinge iets is wat tot jou deurdring, wat jy beleef en wat jy dus "ervaar." ‘n Mens “weet” dikwels iets sonder dat dit ‘n snars maak aan jou lewe. Hierdie gedig vertel van ‘n proses waarvan jy bewus word, waarin jy jou inleef en wat jy beleef.

Dit is eintlik wat werklike spiritualiteit is: dit gaan in spiritualiteit om 'n ervaring waarin jy opgeneem word. Jy ervaar iets wat jou anders laat word. Jy beleef hóé dinge wat jy normaalweg nie reken nie en as niks beskou nie skielik totaal anders lyk en jou lewe verander. Dinge waarby jy normaal weg verbygeleef het word nou iets wat jou lewe vul en ryk maak.

Vir my is die kernreël van die gedig die sin wat lui: “So gebeur dit net dat ek is en ek kyk.”

Die sin spreek van "attentiewe" en noukeurige waarneming. 'n Mens word betrokke, jy sien. Jy raak bewus van jou bestaan (dat “ek is”).

Die gedig vertel eintlik op ‘n heel pakkende manier deur eenvoudige taal hoe die digter algaande en stadig en intiem begin raaksien wat “werklik” is, wat “saak maak”, wat skoonheid is. In ‘n doodgewone boomtak herken die digter skielik ‘n patroon. Dit word verder teel van ‘n tapisserie. Net so word ‘n simpel mier ‘n soom van die tapisserie. Deur hierdie dinge te "sien" as deel van wie die digter "is" ontstaan daar ‘n verhouding met die omgewing wat die digter voorheen nie gereken het nie.

Die digter bekyk en sien ‘n mier, die gras, die lugbeeld van ‘n boomtak se patroon, ‘n fladder van ‘n skoenlapper. En “lees” dan hierdie dinge sodat hulle ‘n tapisserie vorm – daar is ‘n samehang, ‘n samekom van baie dinge wat, en dit is die trefkrag, iets “in my” wakker maak. “Ek is” en ek kyk” is dus die twee belangrike woorde in die slot van die gedig.

Jy kan God vind in alle omstandighede, ook in die heel eenvoudigste van plekke en tyd. Maar daar is ‘n voorwaarde: jy moet uitkyk daarvoor. Dit moet in jou ingroei. Dit is ‘n kwessie van jou oopstel, jou oë oopmaak vir wat goddelik om jou is. Maar selfs nog meer: dit is iets wat jou moet raak, wat jy moet laat deel word van wie jy is. Daar moet ‘n interseksie kom tussen jou en die goddelike, ‘n ontmoeting, ‘n versmelting, ‘n mistieke eenwording.

Klink dit mooi, maar niksseggends? Maar Jesus het ook sulke dinge vertel toe hy gepraat het van die sienendes wat blind is en van die horendes wat doof is. Mense het oë en bestaan, maar hulle leef verby die goddelike en mis daarom sin aan hulle lewe. Hulle sien die goddelike nie raak nie.

Hoe belangrik is die oë nie! Hoe belangrik is ons wil om ons oop te stel tog nie. Dit laat ons dinge ontdek wat ons deur ons normale, verkrampte vooroordele en hatigheid en blindheid weier om raak te sien.

Wat gebeur wanneer ek my oopstel: merkwaardig genoeg, kom twee botsende wêrelde bymekaar:

Die wit skoenlapper in die gedig het iets wat net “syne” is – sy skaduwee. Maar in die “syne”, in die objektiewe, die afstandelike, in sy afgesonderde wêreld, is daar ook vir “my” ‘n onmiddellikheid, ‘n intiemheid: sy skakduwee “skeer” deur “my” hande. Sy wêreld deurkruis (!) my wêreld. Die twee wêreld kom bymekaar en dring tot die waarnemer, die digter, as iets asemrowends deur. Die waarnemer word bewus van hoe hierdie tapisserie skoonheid in sy of haar lewe inbring. Die lewe word vervullend.

As twee sulke wêreld kruis en ons die nie-bedreigende, die eie van die Ander raaksien, roer dit ons en kan ons nie meer dieselfde wees nie.

Hierdie gedig van Wislawa Szymborska is ‘n boeiende relaas van hoe ‘n mens bewus raak van die dieper dinge. Daarom is dit ‘n mistieke gedig: dit gaan om die Verborgene te onthul. En die verborgene is in die eenvoud, die alledaagse te vind. Juis daarom is die mistiek vir elkeen beskore. Ons lewe kan ryk wees aan verrykende, mistieke ontdekkings. Iewers, selfs op die mees onverwagte plekke, is daar vir die mens wat wag en gereed is, is daar vir die een wat “is en kyk”, vervulling te vinde.

Die digter in hierdie gedig het ‘n mistieke ervaring. Maar soos die Bybel wat oor mistieke ervarings gaan, die leser ook wil uitnooi om die mistieke ervaring te deel, is hierdie gedig van Wislawa Szymborska mistiek in sy uitwerking. Deur toe te laat dat dit ‘n mens bring tot die bewussyn van die skoonheid van eenvoud, roer dit jou en transformeer dit jou. Deur hierdie gedig te lees, te bedink en te beleef, word iets in my los, word ek saam met die digter bewus van dit wat groter as ekself is, maar wat my onherroeplik aanraak en verander. Ek bedoel: wie gaan ooit weer op dieselfde manier as tevore na ‘n fladderende wit skoenlapper kyk as hy of sy eers hierdie gedig gelees het?

En wat hierdie gedig dan aan jou doen, is wat die Bybel, op ‘n nog dieper manier ook wil doen. Dit illustreer ook hoe ons die Bybel moet lees. As ‘n teks wat oor die Mistieke handel en oor die Mistieke wat in die hoogs eenvoudige dinge gevind kan word, maar wat die Bybellesers wil uitnooi om ook deel te hê aan hierdie Mistieke ervaring.


Hier is die artikel:

Tapisserie van omstandigheid


Henning Pieterse

Geen titel benodig nie
(No title required / Moze bez titylu)

Vertaal deur Henning Pieterse

Dit het gebeur: ek sit onder ’n boom
langs ’n rivier
op ’n sonnige oggend.
Dis ’n onbenullige gebeurtenis
wat nie opgeteken sal word in die geskiedenis nie.
Dis nie soos oorloë of verdrae
waarvan oorsake noukeurig ondersoek word,
of merkwaardige tirannemoorde nie.
En tog sit ek langs hierdie rivier, dis ’n feit.
En omdat ek hier is,
moet ek van êrens af gekom het,
en voor dit
moet ek in vele plekke verskyn het,
net soos die oorwinnaars van koninkryke
voordat hulle uitgevaar het.
Selfs ’n vlietende oomblik het sy vrugbare verlede,
sy Vrydag voor Saterdag,
sy Mei voor Junie.
Sy horisonne is net so werklik
as dié wat ’n maarskalk se verkyker mag bespied.
Hierdie boom is ’n populier met oeroue wortels.
Die rivier is die Raba; dit het nie gister ontspring nie.
Die pad deur die ruigte
is nie verlede week gebaan nie.
Die wind moes die wolke eers hierheen waai
voordat hy hulle kon wegwaai.
En alhoewel niks gewigtig hier naby gebeur nie,
is die wêreld daardeur nie behoeftiger aan besonderhede nie.
Dit is net so begrond, net so noukeurig
as toe nomade dit oorwin het.
Sameswerings is nie al wat in stilte gehul word nie.
Optogte van redes sleep nie slegs agter kronings aan nie.
Herdenkings van revolusies mag aanrol,
maar so ook spoelklippies wat die baai omsirkel.
Die tapisserie van omstandigheid is verwikkeld en dig.
Die mier se soom in die gras.
Die gras gestik in die grond.
Die patroon van ’n golf geborduur deur ’n tak.
So gebeur dit net dat ek is en ek kyk.
Bokant my fladder ’n wit skoenlapper deur die lug
met vlerke wat heeltemal syne is,
en die skaduwee wat deur my hande skeer
is slegs dit, niemand anders s’n nie, net syne.
Wanneer ek sulke dinge sien, is ek nie meer so seker
dat wat belangrik is meer belangrik is as die onbelangrike nie.

Wislawa Szymborska (1923-) word gereken tot die uiters begaafde geslag Poolse digters wat Czeslaw Milosz, Tadeusz Rósewicz en Zbigniew Herbert insluit. Sy debuteer in 1952 met die bundel That is what we are living for en het sedertdien meer as 15 digbundels gepubliseer. Haar vroeë poësie sluit verheerlikings van Lenin, Stalin en sosialisme in, maar van die 1960’s word sy gaandeweg al hoe meer krities teenoor die kommunistiese ideologie, neem deel aan ondergrondse kulturele bewegings teen die Russies gesteunde regering en dra by tot die samizdat-tydskrif Arka. In 1996 word sy bekroon met die Nobelprys.

Veral van die bundel Calling out to Yeti (1957) is haar poësie gemoeid met die doodgewone, skynbaar saai werklik¬hede van die menslike bestaan. Haar verse is dikwels sardonies, ironies, snaaks, en roep – deur klein, kompakte beelde – groter eksistensiële vraagstukke op waarin die geskiedenis en die rol van individue en groepe mense daarin subtiel bevraagteken en verproblematiseer word.

Die gedig “Geen titel benodig nie” (uit die bundel The End and the Beginning, 1993) illustreer verskeie kernaspekte van Szymborska se poësie.

Die gedig begin met ’n oënskynlike toevalligheid: die liriese subjek wat onder ’n boom langs ’n rivier sit en meen dat dit ’n onbenullige gebeurtenis is, kleiner as “groot” gebeurtenisse wat opgeteken word in die geskiedenis.

Dan begin sy egter dink: omdat sy op dié spesifieke plek sit, moes sy tog van êrens af gekom het, net soos oorwinnaars van koninkryke. ’n Vlietende oomblik se “horisonne” is net so werklik en geldig as die horisonne wat deur ’n maarskalk se verkyker bespied word. “Klein” gebeurtenisse word teenoor “merkwaardiges” gestel, soos wat die “amptelike geskiedenis” van die mensdom dikwels geneig is om te doen – ’n geskiedenis wat slegs die verhale van oorwinnaars ten boek stel en die lot en lyding van doodgewone mense ignoreer.

Haar blik strek wyer: na die populier met sy oeroue wortels, na die Raba-rivier wat lank terug moes ontspring het, na die kom en gaan van wolke. Dan is daar ’n kernmoment: “En alhoewel niks gewigtig hier naby gebeur nie, / is die wêreld daardeur nie behoeftiger aan besonderhede nie”.

“Groot” en “klein” word weer teenoor mekaar gestel: “Herdenkings van revolusies mag aanrol, / maar so ook spoelklippies wat die baai omsirkel.” Die blik word intenser en met verwondering op die “klein”, onmerkwaardige dinge gerig: die mier, gras, die patroon van ’n golf wat deur ’n tak “geborduur” word. Die besef slaan deur dat die “tapisserie van omstandigheid” “verwikkeld en dig” is, dat ’n skoenlapper sy éie vlerke en skaduwee het, net sýne. En dan weer ’n “toevallige”, verwonderde waarneming soos aan die begin: “So gebeur dit net dat ek is en ek kyk”.

Die slot is in pas met die kontraste wat deur die gedig opgestel word: “Wanneer ek sulke dinge sien, is ek nie langer seker / dat wat belangrik is / meer belangrik is as die onbelangrike nie.” Dus: wat is “groot” of “klein” in die uitgebreide sirkelgang van dinge?

Uit die gedig spreek, op ’n amperse Zen-wyse (die “so-heid” van dinge), verwondering oor die “toevallige” klein details van bestaan – waaroor ’n gedig geskryf kan word – wat so dikwels ontken of misgekyk word ten gunste van “groot” gebeurtenisse wat die mensdom dink vir altyd onthou gaan word.

Szymborska verbind die heel kleinste met die heel grootste, soos wat digters soos T.T. Cloete, Seamus Heaney of William Blake dit dikwels in hul poësie vermag.

Henning Pieterse is digter, kortverhaalskrywer, Hertzogpryswenner en professor in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria.
*Geraadpleegde bronne:
Szymborska, Wislawa. 1990. People on the Bridge. Vertaal deur Adam Czerniawski. Forest Books.
Szymborska, Wislawa. 1996. View with a Grain of Sand. Selected Poems. Vertaal deur Stanislaw Baránczak en Clare Cavanagh. Faber and Faber.

Saturday, January 16, 2010

Die kerk raak groen! Oor eko-spiritualiteit en kerkwees in die nuwe millennium

Dit is nie ‘n maklike ding om te sê nie, maar toe die Eskom-krisis ‘n ruk terug ontstaan het, het ek ook ‘n positiewe kant daarvan ingesien. Vir die eerste keer het sommige verbruikers besef elektrisiteit is ‘n skaars artikel. Die vermorsing van krag is myns insiens ‘n vergryp teen God se skepping: ons moet heers oor die skepping, sê Genesis 1:28. ‘n Heerser, die koning, is in Bybelse denke iemand wat omgee vir dit wat aan hom of haar toevertrou is. Jy buit niemand en niks uit nie en jy sorg dat dit ook nie deur ander gedoen word nie. Die koning versinnebeeld God se besorgdheid en sorg vir die skepping. Slegte konings wat mors met die welsyn van hul mense en koninkryk is nie verdra nie, maar het onder skerp veroordelings deurgeloop. As ons heers oor die skepping, beteken dit dat ons daarvoor verantwoordelikheid aanvaar – met besorgdheid. Ons moet lief wees vir God se skepping.

Daarom gee ons om vir die aarde en kan ons nie skade veroorsaak nie. Iemand wat byvoorbeeld nie ‘n lig agter hom of haar afskakel nie, doen verkeerd – dit is vermorsing. Mense wat lugreëlings laat loop waar dit nie nodig is nie, verniel ons skepping. Iemand wat ‘n sigaretstompie uit sy motor se venster smyt, oortree nie net die wet nie maar verloën ook sy Christenskap. Mense wat papiersakke oor die vlaktes uitgooi, gaan op die ou ent in ‘n stukkende wêreld woon.

Ek was nie bly oor die elektrisiteitskrisis nie, maar ek was hoopvol dat dit vir ons sou help om te besef dat die skepping bedreig word en dat ons op geleende tyd lewe oor die toekoms van die planeet. Dit is net jammer dat ons nou in oproer is omdat elektrisiteit so duur gaan word, terwyl ons eintlik in oproer moet wees omdat ons so verskriklik mors met krag.

Dit raak nie net elektrisiteit nie. Ons stuur ook op ‘n wêreldwye voedsel- en waterkrisis af. Dit is ontstellend om die projeksies oor toekomstige voedselverbruik en watervoorsiening te hoor. Ses jaar gelede was ek deel van ‘n groep wat ‘n konferensie oor water gereël het en ek was toe al verstom om te hoor waarheen ons op pad is.

‘n Mens kry maklik toegang tot die groter prentjie as ‘n mens die voormalige Amerikaanse Vise-President, Al Gore, se opsienbarend film, An Inconvenient Truth, sien. Dit is die soort van film wat ‘n mens in groepe, kampe, kerkrade en gemeentes kan wys as inleiding tot ‘n gesprek oor watter uitdagings ons geloof in ons huidige tyd in die oë staar.

Die kerk kan ‘n spesiale rol speel om ons wêreld ‘n leefbare plek te maak waar ons gerieflik kan woon – in die paradys wat die bestem was om te wees. Ek onthou byvoorbeeld die merkwaardige werk van Tinus Daneel, hoogleraar in missiologie by Unisa, wat in ‘n indrukwekkende projek ‘n dekade of wat gelede die Sionistiese goepe in Zimbabwe sover gekry het om bome te plant. Tinus was nie net ‘n uitstekende akademikus nie, hy was ook iemand wat die implikasies van geloof en kerk-wees verstaan het.

Ons kan klein dingetjies doen om die groot vloed te keer: weier om plastiek-sakke in winkels te koop wat een keer gebruik word en dan in die vullisdrom of op straat beland. Ek het lank terug vir Shoprite gevra om minder papier in hul kasregisters te gebruik om papier te spaar. Dit het gewerk en deesdae koop ek meestal net by hulle en PicknPay omdat hulle sulke klein eko-vriendelike versoeke hoor en sensitiewe gebruike het. Ek het al met ons plaaslike Spar-winkels gepraat, maar daar het een bestuurder vir my vertel dat mense nie omgee vir die driedubbele reuse-kasregister kwitansies wat vir hulle gegee word nie. Ek sien hulle mors nog steeds verskriklik met papier, salig ongevoelig vir die duisende bome wat in die slag bly oor hulle beleid. In ons gesin probeer ons nie die motor gebruik as ons kan loop nie, ens. ens.

Wanneer die kerk hieroor nadink, het dit vir my te doen met die hart van die evangelie. Ek dink nie die kerk moet aktivisties word oor ekologiese kwessies om getalle te trek nie. Die berig hier onder in die New York Times, wat my weer aan die dink gesit het oor die kerk en eko-spiritualiteit, is tog weer so treurig – asof die kerk bestaan om groot getalle uit te stal. Wat is dit tog dat ons so behep is met kerke wat met groot getalle moet imponeer? Die groot dinge gebeur dikwels juis waar mense met visie aan die werk is, ongeag die getalle. 'n Klein groep kan dikwels die werk van duisende mense doen. Ons weet dit mos uit die Bybel: Die profete was die enkeles, selfs die ongewildes. Jesus het net 12 apostels gehad, by wyse van spreke en hulle het hulle ook vinnig uit die voete gemaak toe dit saak gemaak het. Maar God, wat getrou bly aan mense wat omgee, was daar en is daar – en die kragtige ommekeer het plaasgevind. Daarom begin die kerk die debat wakker maak. Dit is wat die Evangelie van ons vra: In dankbaarheid vir al die gawes wat ons ontvang uit die Here se vrygewige hand, moet ons iets teruggee en instrumente word vir die terugbring van die paradys ook nou reeds op ons aarde. Ons betrokkenheid by eko-spiritualiteit kom op uit ons innerlike, waar die Gees ons dring om God se skepping lief te hê – veral in die klein dinge.

Groente kweek en verkoop in die kerk se agterplaas? Dink net aan al die vindingryke aksies wat gemeentes op tou kan sit om sorgsaam oor ons aarde te heers.

Pastors in Northwest Find Focus in ‘Green’

Matthew Williams for The New York Times

Published: January 15, 2010

MILLWOOD, Wash. — State auditors told Millwood Community Presbyterian Church last summer to close its farmers’ market on the church parking lot or the lot could no longer be claimed as tax-exempt. Without hesitation, the church kept the market and paid the $700 in annual taxes.

Matthew Williams for The New York Times

The Rev. Craig Goodwin and Millwood Community Presbyterian Church in Spokane see their farmers’ market as a ministry.

Money is tight, but the locally raised beef and vegetables and, most important, the environmentally minded customers had become central to the 90-year-old church’s ministry.

“It’s like we’ve got more going on in our parking lot than we do within the walls of the church,” said the pastor, Craig Goodwin.

Across the Northwest, where church attendance has long been low but concern for the environment high, some church leaders and parishioners are ringing doorbells to inform neighbors — many of whom have never stepped inside the sanctuary down the street — about ways to conserve energy and lower their utility bills. Some view the new push as a way to revitalize their congregations and reconnect with their nearby community.

Religious leaders have been preaching environmentalism for years, and much attention has focused on politically powerful evangelical Christian leaders who have taken up climate change as a cause. Yet some smaller, older and often struggling mainline churches are also going greener, reducing their carbon footprint by upgrading basement boilers and streamlining the Sunday bulletin, swapping Styrofoam for ceramic mugs at coffee hour and tending jumbled vegetable gardens where lawns once were carefully cultivated.

“I’ve never been good at door-to-door evangelism,” said Deb Conklin, the pastor at Liberty Park United Methodist Church in Spokane, Wash., where an aging and shrinking congregation of about 20 people worships on Sundays. “But this has been so fun. Everybody wants to talk to you. It’s exciting. It’s ministry.”

Several mainline church leaders in the Northwest said environmentalism offered an entry point, especially to younger adults, who might view Christianity as wrought with debates over gay rights and abortion.

A study released in December by the Barna Group, which more typically studies trends among evangelicals, said that older, mainline churches faced many challenges but that their approach to environmental issues was among several areas that “position those churches well for attracting younger Americans.”

“We actually encourage it as a way to get people into the churches,” said LeeAnne Beres, the executive director of Earth Ministry, a Seattle group founded in 1992 that has guided many area congregations through environmental upgrades over the past decade but has recently emphasized more direct political action for pastors and parishioners. “That is what people are interested in, and I don’t see anything Machiavellian in that.”

“It’s fertile ground,” Ms. Beres said, “and these are issues that people are predisposed to care about here in the Northwest.”

Several pastors said they had worked to ground environmental activism in religious teaching and more traditional areas of ministry, particularly social justice, to distinguish it from secular environmentalism. That might mean discussing the impact of climate change on people in countries susceptible to rising seas or on other species, what Hunt Priest, the rector of Emmanuel Episcopal in Mercer Island, Wash., called “the web of creation.”

“For a little while some people forgot this was a spiritual issue,” Mr. Priest said, “and we’ve reclaimed that now. I think we got caught up in things like changing light bulbs and saving paper and having the power company come out and do an audit.

“All important, but for us it needs to be about how we live our lives as Christians now that we know more about what we’ve done to the environment.”

Mr. Priest, who recently joined Ms. Beres and other pastors to lobby staff members of Senators Patty Murray and Maria Cantwell, both Democrats of Washington, for a cap on carbon emissions, said he was wary of viewing environmentalism as a “church growth program.” He noted that while some mainline churches had reported increased attendance as they emphasized the issue, Emmanuel’s congregation, now about 250 families, had declined even though the church had been active on environmental issues for more than a decade.

Still, he said, concern for the environment “can be a spiritual growing edge.”

“Greening a congregation,” as some call it, is not always easy. At Westminster Congregational United Church of Christ near downtown Spokane, built in 1893, the congregation has about 200 people, down from 2,000 a few decades ago. The pastor, Andrea CastroLang, said the church recently had an energy audit and that while it has made some of the proposed changes, including upgrading the boiler, some were impractical for the soaring, heat-leaking sanctuary.

“They were like, ‘It’d be really great if you could lower your ceiling,’ ” Ms. CastroLang said. “We said, ‘We can’t do that.’ ”

Food is at the forefront of some local efforts, and it is central to the changes under way here at Millwood Presbyterian. In 2008, Mr. Goodwin, the pastor, and his family experimented with eating only locally grown food. Mr. Goodwin, who blogged about the experience, said that he had not been particularly environmentally minded in the past and that the shift came as he tried to help his church engage more with the modest neighborhood surrounding it. The congregation, once 1,700 people, had shrunk to 420 five years ago but has since risen to about 500, he said.

Mr. Goodwin said the farmers’ market, originally conceived by a teenage girl in the congregation, Kelly Hansen, was part of what he hoped would be environmentalism at a basic level, what he called “place making,” with the church a shaping force.

“We’ve been trying to sort out how we flesh out a future in this community,” Mr. Goodwin said. “Instead of ‘How do we get people in here?’ It became ‘Let’s get ourselves out there.’ ”

Friday, January 15, 2010

Die Bybel, teologie en spiritualiteit

Die groot ontwikkelinge in die Bybelwetenskappe sedert die Aufklärung het ons op baie maniere bevry. ‘n Belangrike tendens in hierdie tyd was dat ons die Bybel as ‘n boek van sy tyd verstaan het. Ons het die historiese karakter van die Bybel beter begryp. As gevolg daarvan het groot veranderinge in die kerk gebeur: Bybeltekste is nie meer gebruik om slawerny te regverdig nie, vroue is nie meer op grond van ‘n Bybelversie tot ‘n posisie van ondergeskiktheid uitgeskuif nie, anti-Semitisme is langsamerhand oorwin, rassisme word nou feitlik universeel veroordeel en die kerk het in baie opsigte sy geestelike aard beter begryp. Ons gebruik nie meer ‘n Bybelversie om vroue te laat hoed dra nie en die dae dat vroue rokke moes dra omdat die Ou Testament vroue verbied het om “mansklere” en dus broeke te dra, is lank verby. Ek onthou nog die reuse skeppings wat vrouens Sondae op hulle koppe die kerk in ingedra het en dit is soos gister dat my ouers hul dogters aangesê het om nie eers daaraan te dink om langbroek te dra nie.

Ons het in die tyd besef dat die Bybel in baie opsigte ‘n boek soos alle ander boeke is. Dit weerspiëel die gebruike, waardes en voorskrifte van sy tyd. Soos tye verander, verander ook hierdie gebruike, waardes en voorskrifte. Dit gebeur reeds duidelik in die Bybel self: Die Nuwe Testament doop in plaas van besny, preek in plaas van offer en in plaas van die tempel en sinagoges is daar nou kerke.

Soos hierdie benadering tot die Bybel gegroei het, het ons begeerte om oor baie aspekte van die Bybel meer inligting te kry en met mekaar daaroor te debatteer, ook al hoe sterker geword. Wat ons toe vir ‘n baie lang tyd in die teologie en Bybelwetenskap gedoen het, was om ‘n Bybelteks of motief te neem, dit van alle kante te bekyk en te beoordeel voordat ons dit in hul historiese konteks geplaas het. Vir nog ‘n langer tyd het ons dan besluit of sulke tekste praat van dinge wat “regtig” gebeur het. Wat is die “feite”, het ons gevra. Ons het allerhande Bybelse temas uitgelig: Jesus se toekomsleer, geregtigheid, versoening, die doop, die kerk, die Heilige Gees en nog baie ander. En ons het allerhande argument vir allerhande sieninge daaroor aangevoer. Mense wat nie met ons saamgestem het nie, was “afwykend” of “ketters” of “sektaries.” Ons gevegte met mekaar as gelowiges het gegaan oor allerhande twispunte: groot of klein doop, die verstaan van die verbond, evolusie of kreasonisme of intelligente ontwerp, spreek in tale of nie, die onderhouding van die sabbat of die Sondag, die bediening van die nagmaal in kelkies of in bekers, die dra van ‘n manel en beffie en toga. Ons het die Bybel gebruik om “kennis” so versigtig en intensief as moontlik uit te werk. En toe het ons ook die Bybel onder die vergrootglas geplaas: het Jesus die wonders gedoen? Is die opstanding letterlik? Hoeveel keer het Jesus na Jerusalem gereis? Wanneer is Jesus gebore?

So moes jy ‘n hoë kennis van die Bybel en die teologie verwerf as jy in die hoofstroom-kerke in die bediening wou staan. Met die hulp van die filosofie, die sielkunde, die sosiologie, die grondtale het ons ‘n hele akademiese struktuur ontwerp wat ‘n mens geleer het om logies oor die Bybelse “waarhede” te kan praat. Teologie was ‘n hoogs gesofistikeerde akademiese program wat ons gehelp het om die Bybel fyn te ontleed en te “bemeester.”

Hierdie aksent op kennis was vir baie mense oor eeue heen besonder belangrik en bevrydend. Die kerk wat werklik ‘n verskil gemaak het, het nooit op ‘n oppervlakkig manier ‘n anti-intellektuele houding ingeneem nie. Dit is dikwels die mense op die rand van die kerklike lewe wat smalend sal praat oor die “teologie” asof dit intellektuele gespin is wat die ware geloof tot niet maak. En gewoonlik het hulle dan ‘n taamlike verdraaide idee van wat teologie is.

Dit gebeur sekerlik dat die teologie destruktief kan wees en dat die Bybelwetenskappe min met geloof te doen sou kon hê. Maar dit hoef nie so te wees nie. Kennis kan hoogs bevrydend wees. Daar is teoloë en Bybelwetenskaplikes wat waardevolle insigte oor die Bybel gegenereer het.

Waar loop dinge egter skeef en begin ‘n mens wonder oor die waarde van teologie? Miskien is dit goed om te onderskei tussen kennis en wysheid. ‘n Slim mens is nie altyd ‘n wyse mens nie. Die slim mense van Jesus se tyd was sy grootste vyande. Hulle was “skrifgeleerdes” wat nie van moord teruggeskrik het nie. Paulus, die slim Fariseër wat ‘n dissipel van die geleerde Gamaliël was, was, in sy eie woorde, ‘n vervolger en moordenaar van die gelowiges. Die mense wat vroue in hul kerke verneder en minderwaardig maak, die Jode-haters en die rassiste het dikwels hoë en slim argumente vir hul vernietigende leefstyl – en bied sulke argumente meestal as “Bybels” aan.

Dit lyk na oordrywing, maar kennis wat ter wille van kennis nagejaag word, kan destruktief wees. ‘n Mens kan so besig wees met ernstige gesprekke en teologie, dat groot stukke onreg om jou misgekyk word. ‘n Mens kan allerhande argumente oor die regte geloof uitwerk sonder dat die noodwendig ‘n duit verskil aan jou lewe maak. Eerder as om kennis argumentatief uit te werk, is die wyse mens die een wat in kontemplasie in God se teenwoordigheid leef, vir wie hul kennis eksistensiële gevolge inhou. Hulle wag op God. Dit is nie eintlik die kennis wat saak maak nie. Wat saak maak is of hierdie kennis tot wysheid lei, tot vrees van die Here. Gelowiges soek nie om sekere sake, temas, probleme of dwalinge te bekyk nie, maar herkou en bedink en mediteer oor wat God in die Bybel in wysheid aan mense bied. Hulle skryf nie allerhande slim dinge voor nie, maar soek om gehoorsaam te wees aan die goddelike wil.

Wat is die Heilige Gees van God se wil vir die mens en die skepping? Dit is soms baie moeilik om dit te verstaan en diepe nadenke is dikwels nodig. Paulus kon diepsinnig oor ‘n baie moeilike tema skryf - dink maar aan Romeine 9-11. Hierdie “slim” Fariseër wat vroeër mense vermoor het omdat hulle nie oor sy “waarhede” wou saamstem nie, word ‘n wyse mens wat in hierdie hoofstukke nadink oor die diepe eenheid tussen alle mense, Jode en heidene en oor God se eeue-lange getrouheid aan die goddelike beloftes . Paulus begin hierdie gedeelte in Romeine 8:37-39 met een van die aangrypendste uitsprake oor die bemagtigende liefde van God en hy sluit dit in Romeine 11:33-36 af met ‘n ewe aangrypende lofsang op die rykdom en wysheid en kennis va God! Mediterend en kontemplerend bedink hy die raadsplan van God en herkou hy aan die goddelike verborgenhede in die Skrif. Hier, in een van die moeilikste dele in die Nuwe Testament bring kennis nie twis en slimmigheid tot stand nie. Kennis trek vir Paulus hier in in ‘n ekstatiese belewing van God se verborge raadsplan – “Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees.” Hier val oratiwiteit en kontemplatiwiteit in die konteks van die verborgenhede van God saam.

Waar loop dinge skeef, sodat ons nader aan Paulus die Fariseër as Paulus die gestuurde getuie beland? ‘n Mens sou kon sê dit gebeur wanneer ons die geskiedenis van die Bybel ken, maar nie vir die God van die Bybel ervaar nie. Dit loop skeef wanneer ons die feite raaksien, maar God miskyk. Paulus het fanatiek aan die wet vasgehou, maar in die proses die Een wat liefdevol die wet geskenk het, veloor. Paulus was betrokke by die wet, intens betrokke, maar hy was nie meer in ‘n verhouding met God betrokke nie.

Spiritualiteit wil beklemtoon dat teologie nie ‘n onbetrokke gesprek oor God en God se dinge is nie. Spiritualiteit onderstreep dat die mens in ‘n verhouding met God leef. Dit is nie ‘n intellektuele, akademiese verhouding nie, maar ‘n geestelike vehouding. Wanneer ‘n mens oor God praat, praat ‘n mens met God en oor geestelike ervaringe van God. Ons bemeester nie die Bybel nie, maar, by wyse van spreke, die Bybel begeester ons. Deur die Bybel kom ons uit by die heilige plek waar God die Jabbokservaring bewerk. Schneiders praat van die teologie wat die noëtiese effek van die spirituele ervaring behoort te wees. Ons staan coram Deo, God raak ons aan, en in die teologie en die spirtiualiteit dink ons hieroor na. Ons bedink die aanraking van God, daardie mistieke ervaring, wat ons tot ‘n nuwe lewe omvorm. Schneiders gebruik ook iewers die begrip “ervaringskennis van God.”

Kennis is ‘n magtige instrument en iets wat ons ten alle koste moet najaag. Dit is gevaarlik wanneer mense anti-intellektueel word. Die Bybel onderstreep die spesiale rol van kennis gedurig. Maar kennis, skryf Paulus in sy oorrompelende lied in 1 Korintiërs 13, is niks, is waardeloos as dit nie liefde wek nie.

In Spiritualiteit word steeds weer beklemtoon dat liefde God se diepste dryfveer tot ‘n verhouding met die mens is. Wat tel is nie wat ons weet en so stellig beweer nie (1 Timoteus!), maar of ons in die liefde is en bly. En dit is, wat my betref, die rede waarom ons die Bybel lees. In die boek ontdek ons, ook deur ons versigtige historiese studie, die liefde. Ons herkou die Bybel as ‘n liefdesteks. Ons her”ken” daarin die grenslose liefdesaanraking van die Een wat volledig liefde is.

Daarom dink ek dat ‘n mens die Bybel net kan verstaan as jy dit in liefde lees.

Thursday, January 14, 2010

Ons het ‘n groot behoefte aan mense wat heilig lewe. Oor die gewoonheid van spiritualiteit en oor leke-spiritualiteit

Een van die opvallende aspekte van Kees Waaijman se belangrike boek oor Spiritualiteit is die spesiale aandag wat hy aan die spiritualiteit van gewone mense, oftewel, leke gee. Dikwels word spiritualiteit gekritiseer omdat dit ‘n sekere groep mense uitgelig het as “besondere vroom” persone wat verder gevorder is op die geestelike reis en op die weg van heiligmaking as gewone mense. Hierdie mense was gewoonlik die monnike wat in die woestyn gaan woon het of hulle self in afsondering onttrek het. Die reformatore was byvoorbeeld gekant teen hierdie praktiese voorkoms van ‘n “super”-klas van spirituele mense wat “bo” en “beter” as die gewone mens en sy gewone godsdiens was. Die Reformasie het nie gehou van ‘n elitisme nie, soos Sandra Schneiders in ‘n artikel skryf nie. Hulle het ook nie gehou van die “ekstatiese” verskynsels wat dikwels met spiritualiteit verbind is nie – wanneer mistieke figure ekstatiese, mistieke ervaringe beleef het nie. Hoewel dit nie beteken dat die idee van afsondering verkeerd was nie, het die insig al hoe duideliker geword dat afsondering maklik tot uitsondering van ‘n sekere groep mense as super-heilig kon lei.

Teenoor hierdie elitistiese, abnormale vorme van spiritualiteit het die Reformasie gereageer – soveel so dat reformatore die woord mistiek vermy het en eerder van “vroomheid” gepraat het. Vroomheid was in hulle reformatoriese konteks die gewone lewe van toewyding wat na vore gekom het in aanbidding van God (soli deo gloria) in sulke eenvoudige toewydingsgebruike soos ‘n daaglikse roetine van Bybellees en gebed. Nie die menslike prestasie was in fokus nie, maar God se genadige redding en heiliging moes in die geloofslewe van mense gesoek en geëer word. Nie net priesters moes heilig lewe nie en God se teenwoordigheid opsoek nie – elke mens staan direk voor God, coram Deo, en moet God se heiligende, helende teenwoordigheid opsoek.

En dit het beteken dat heiligmaking nie ‘n individualistiese saak was nie. So nodig as wat dit was dat elke mens as individu die innerlike verbintenis en gehoorsaamheid aan God soek (bv. in stiltetyd), so was dit ook vir die reformatore noodsaaklik dat veral die familie saam die geloofsreis aflê. Vandaar die groot klem op die huisgesin as die kern van die gemeente en byvoorbeeld die klem op boekevat. In die Protestantse konteks is verder byvoorbeeld baie gemaak van spiritualiteitsliteratuur wat gewone mense gehelp het om God se stem in die Bybel te ervaar as ‘n lewende, transformatiewe krag in hulle lewe. Dit was nie die priester wat namesn die gesin by God ingetree het nie. Die familie het saam voor God vergader en in God se teenwoordigheid geleef. Die eredienste het in die verlengde hiervan gestaan: die geloofsreis van mense is gevorm deur die byeenkomste in ‘n gemeente waar die baie families saamgekom het om as gemeenskap verder deur God se spreke gevorm te word en bewus moet raak van hul gemeeenskaplike verantwoordelikhede.

Deesdae is spiritualiteit lank nie meer net die terrein van die monnikke en die spesiale begaafdes nie. In alle konfessies word beklemtoon dat elke individu, hoe eenvoudig en hoe “ongeleerde” ook al ‘n spirituele reis aflê. Dink maar net hoe word die evangelie deesdae in baie kerke spesiaal toeganklik gemaak vir mense wat gestrem is en nie altyd die intellektuele gawes het nie. Henri Nouwen se Adam is ‘n boeiende voorbeeld van hoe konsekwent die insig gegroei het dat alle mense God se liefde kan ervaar.

Daar is wel nog die aandag vir uitsonderlike mense soos Moeder Teresa wat uitgesonder word as toegewyde mense. Maar dit is boeiend om te sien hoedat daar groeiende belangstelling is vir die heldhaftige manier waarop gewone mense in onbekende plekke en in nederige omstandighede hulle geloofsreis aflê. Die dae is lankal verby dat “gewone” mense gesien word as mense wat voortploeter in sonde, terwyl dit slegs die predikant of die priester is wat ‘n heilige lewe kan lei. In spiritualiteit is daar juis groot belangstelling in hoe die “gewone” mens ‘n lewe van heiligmaking lei en na eenheid met God verlang. Juis deur bewus te wees van die alledaagse vorme van spiritualiteit word ‘n mens bemoedig en geïnspireer. Daar is, soos Schneiders skryf, ware heiliges buite kloostermure wat God “in die wêreld” soek.

Die Reformasie met sy argwaan teen die mistiek en teen ‘n werkheilige elitisme het ‘n belangrike rol gespeel om spiritualiteit te herken vir wat dit is en om die mistiek te “demokratiseer.” Aan die een kant is alle mense gevul met verlange om in ‘n intieme eenheid met God te leef. En, nog belangriker, ons besef in die mistiek en die spiritualiteit dat egte heiligheid nie net en alleenlik in die groot, heroïese dade gevind word nie. Egte heiligheid word ook nie in uitgestalde vroomheid en eie roem gevind nie.

Egte heiligheid word op die strate, in die koshuis, in jou kombuis, by die rugby en sokker en netbal, rondom die kuierplek, in die liefdesomhelsing, in die skep van kuns en op baie ander plekke van min aansien en opwinding gevind.

En egte heiligheid het ook nie veel te doen met self-verbetering en self-verryking nie. As daar enige rykdom in die lewe is, leer die spiritualiteit, is dit te vind in die gawe om te gee. ‘n Mens is ryk en gelukkig en salig, sê Jesus, as jy kan gee en gee en gee. Een van die mooiste verhale waaraan ek dikwels dink is oor die mense by wie ek op ‘n stadium as student gebly het. Die oom en tannie was altyd goed vir my. Sy sou vir my ‘n koppie koffie kom afgee by die deur as sy gesien het my studeerlig is laat aan. Of soms het daar ‘n bakkie beskuit in my kamer beland. Daar was altyd ‘n vriendelike woord, ‘n aanprysing of ‘n grappige verhaaltjie. Maar sy en haar man, het dit my nog meer opgeval, het twee aangenome kinders soos hul eie en in baie liefde grootgemaak. Harde woorde het ek nie tussen hulle hoor val nie. En, wat my die helderste bybly, is dat hulle saam aandgodsdiens gehou het voordat hulle tot rus gekom het. Dan het hulle ‘n Bybelgedeelte gelees en elkeen het ‘n gebed gedoen – knielende by hul bed. Hulle leef nie meer nie. En daar het in hulle lewe ook tye van swaarkry en seerkry en swakheid voorgekom. Maar lank na hul dood leef in my gedagtes ‘n verwondering oor hul eenvoudige geloofstrou. Hulle was nie ryk in materiële dinge nie, maar vir my het hulle lewe ‘n rykheid in getuienis agtergelaat – selfs al het ons paaie maar vir ‘n kort tydjie gekruis.

Ons hoef nie soos hulle hard saam te bid of te kniel as ons bid nie. Dit is nie wat heiligheid maak nie. Maar iewers gee ons deur die kleinste dinge te kenne dat ons God eer vir wat ons is en het. Dit is nie altyd maklik nie. Dit vra ‘n stuk dissipline om jou woorde te tel, nie harteloos te skel, growwe taal te vermy (Efesiërs!), om te gee vir ander ten koste van jou eie gerief, om hulle wat sonder tuiste is te versorg, om maar daagliks die gebed en die Bybellees vol te hou en baie ander maniere van gewone liefdesdade. Dit is wat heiligheid is – om in daardie gewone plek so gewoon te leef dat dit ‘n verskil maak aan jou eie lewe, maar ook aan ander mense. Dit is die transformasie waaroor spiritualiteit gaan – die Gees se werking van heling in hierdie wêreld deur wie jy in jou slaapkamer en jou huis en jou werk is en deur wat jy daar doen.

Spiritualiteit gaan oor mense se daaglikse, eenvoudige omgang met God wat hulle daartoe bring om ‘n verskil te maak. Alle mense het hierdie kans om heilig te leef. Wat dit so moeilik maak, is dat juis in die gewoonheid van ons heiligmaking ons nie die erkenning gaan kry wat die groot helde van die geskiedenis kry nie. En dikwels is daar onreg, minagting, afwysing en spot vir ons getrouheid aan God se helende werking in die wêreld. Maar wat ons goed doen, is heilig – juis omdat ons dit nie vir erkenning doen nie, of om beloon te word met dankbaarheid nie, maar omdat God se heiligheid en teenwoordigheid ons daartoe inspireer.

Ons het ‘n groot behoefte aan mense wat heilig lewe.

Dit is boeiend om Kees Waaijman se skrywe oor leke spiritualiteit te lees. Dit het vir my baie beteken om te kan besef dat spiritualiteit in ‘n sekere sin sy toetsteen in die lewe van die gewone mens het. En sy skrywe het my laat besef dat ons vir ‘n lang tyd ‘n belangrike asspek van ons spiritualiteitserfenis verloor het, wat gelukkig deur die Reformasie herwin is. In die Ou Testament speel die “oudstes” in bladsy na bladsy ‘n deurslaggewende rol. Hulle was die “wyses” wat die volk en die koning moes lei in die volk se geloofsreis. Hulle was die mistagoë van hulle tyd, die spirituele begeleiers. Hierdie wyse oudstes was nie die intellektuele reuse en die goed opgeleide predikante nie. Hulle het nie in verre lande gaan sendingwerk doen of wonderwerke verrig of in ekstase geraak nie. Ons lees oor hulle wysheid in die Spreuke boek – so belangrik deur die kerk geag dat dit ‘n vaste plek in die kanon gekry het. Dit was doodgewone alledaagse wysheid en hulle was mense wat God se wil geleef en geleer het. Harde, konkrete, gedissiplineerde, maar vervullende wysheid.

Maar, soos ons uit daardie een beroemde en onvergeetlike uitspraak leer – die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here. Eerbied, ontsag en aanbidding van die God van liefde is waar wysheid begin.

En heiligheid, wat ons so nodig het, begin juis wanneer ons in kontemplasie by God leef. Dit is die bron van die lewe. Maar dit vind sy voortsetting en vervulling wanneer ons kontemplatief in die lewe ingaan en lewe soos God van ons vra.

Ons moet hierdie erfenis, deur die Reformasie herontdek en vandag as ‘n belangrike dimensie van spiritualiteit en mistiek beskou, dieper bedink en toeëien.

Blog Archive