Monday, August 08, 2011

Wanneer mistiek nie eg is nie.


Dorothee Sölle skryf ‘n paar bladsye waarin sy egte en valse mistiek van mekaar wil onderskei. Sy beklemtoon ‘n saak wat vir baie mense na aan die hart raak. Maklik kan mense van “mistiek” praat, terwyl die dinge waaroor hulle dan skryf oor iets heel anders gaan. Sy wil dus hê dat ‘n mens van die begin af weet wat mistiek beteken.

Om van mistiek te praat roep boonop dikwels weersin op, want mense vereenselwig ten onregte sekere uitsonderlike dinge met die mistiek. Die gevolg is dan dat mistiek misverstaan word as alles wat “vreemd” of “snaaks” is. Party oningeligte menses sal die mistiek met sulke dinge soos die okkulte, met die oproep van geeste (spiritisme), met die lees van teeblare of die voorspelling deur die sterre verbind. Sommige meer “nugtere” mense praat dan sommer van mistieke dinge as onsin of twak.

In sommige kringe word al die vreemde en aweregse dinge inderdaad bymekaar in een groot hutspot gegooi. Daar is baie “progressiewe” mense wat enige iets wat die skyn van godsdiens het, onder een sambreel bymekaar wil bring en dit dan as mistieke dinge wil beskryf.

Maar sulke dinge kan nie as mistiek beskou word nie. ‘n Mens sou eerder van spiritisme kon praat, as jy dan nou wel ‘n woord daarvoor wil vind.

‘n Mistikus is anders as ‘n spiritis wat enige vorm van geestelikheid omarm en goedkeur.  ‘n Mistikus is nie ‘n tipe mens wat eenvoudig alles wat oor sy pad kom as goed en waar en reg aanvaar nie.

Die mistikus weet eerder dat die evangelie in vele opsigte ‘n dwaasheid is. Dit staan ‘n klomp mense nie aan nie, omdat die evangelie en die mistiek vir  hulle voor uitdagings stel. Die mistikus is nie ‘n ankerlose mens wat hom of haar oorgee aan die een gril na die volgende een nie, asof die een ewe veel werd is as die volgende een nie. 

Die mistikus is iemand wat ten alle koste die verborge teenwoordigheid van God soek, al moet ‘n mens daarvoor opoffer en al moet ‘n mens soms bereid wees om alles as hoogste prys op te offer.  Alles is vir die mistikus op die spel as dit by sy of haar diepste oortuigings kom.  Die mistiek gaan nie maar net om interessante dinge wat die lewe so bietjie opkikker nie.

‘n Mens kan soms ‘n duur pryse betaal ter wille van die verhouding met God.

Tog moet 'n mens ook weer hier versigtig wees. Want om alles vir die Groot Saak op te offer, kan ook weer tot 'n valse mistiek lei. 

Maar, skryf Soelle dan, ‘n mens moenie te gou hierdie kenmerk van mistiek romantiseer nie. Dit is waar dat die mistiek van ‘n mens soms ‘n baie duur prys kan eis. Maar slegte mistiek kan dit ook doen. ‘n Mens het baie voorbeelde uit die geskiedenis van mense wat bereid was om vir ‘n skewe, bevooroordeelde en selfs bose mistiek te sterwe.

 Daar is mense wat in ‘n sekere dodelik en negatiewe mistiek ingetrek word waarvoor hulle bereid is om hulle lewens af te lê.

Soelle, ‘n Duitse teoloog wat intens bewus was van haar problematiese Duitse konteks, verwys as ‘n voorbeeld na die onstellende feit dat die Duitse fascisme in Hitler se tyd so ‘n vernietigende mistiek ontwikkel het.  Nazi’s het gebruik gemaak van bekende mistici soos Meister Eckhart en Jacob Böhme om hul spesiale, intieme gevoelens vir die Duitse ryk, vir die Leier (Hitler), vir die Duitse volk, vir die vaderland en vir die martelare van die volk uit te druk. Hulle het die Duitse ras en volk, die Duitse bodem, kultuur en selfs die materlaarsgesindheid as goddelik ervaar. Om Duitser in die Nazi tyd te wees was iets unieks, wat ‘n mens in ‘n heel verhewe sfeer van ervaring laat deel het.

En gedurigdeur, skryf Soelle, het dit ten koste van reg en geregtigheid gebeur. Dit het, veral, die menslikheid van ander mense verloën. “Ander mense”, veral van die “joodse ras”, is uitgesluit en selfs doodgemaak omdat hulle menslikheid ontken is. Vir Duitsers was die saak helder: as jy tot die Duitse ras behoort en jou lewe feil het vir jou land, jou bodem en jou Leier, het jy die reg om te besluit wie mag lewe en wie moet tot niet gemaak word.

Soelle wys daarop dat mistici vanuit ‘n etiese hoek gedryf is om te beklemtoon dat alle mense voor God gelyk is (Ruysbroeck).  Niemand het groter voorrang bo ander in die verhouding met en soeke na God nie. Niemand kan sy eie konteks verabsoluteer nie. Niemand kan God toeëien vir hom- of haarself nie.  Alle mense het toegang tot die intieme, lewegewende verhouding met God.

Op die manier kan ‘n mens dus valse mistiek uitken en afwys. Mistiek wys op die eenwording, die intieme verhouding van God met die mensdom. Egte mistiek verstaan presies wat “mensdom” beteken. Dit is nie ‘n klompie mense van dieselfde kleur, kultuur, biologiese eienskappe, werk, kerk nie. Dit verwys na almal wat deur God geskape is.

Mistiek is dus alleen eg wanneer dit begryp hoe God na alle mense, ongeag wie hulle is, in Liefde uitreik.

Sunday, August 07, 2011

Die Son skyn....

Vandag, selfs in hierdie koue winter-tyd, skyn die son soos op 'n vrolike lentedag - en dit na twee baie koue en reenerige dae.  

Opvallend hoe dit 'n mens se gemoed lig.

En toe vanaand lees ek hierdie eenvoudige opmerking van Wilhelm Loehe:"Laat ons ons trane afdroog en die lampe van rou uitdoof, want die Son van Christus is aan die skyn." 

'n Stil herinnering aan hoeveel blydskap daar in die geestelike reis te vind is - selfs al is dit wintertye waarin ons dikwels op reis is. 

Wat my laat dink aan die beroemde verhaal van die Emmaus-gangers met hul somber gesigte. En hoe die ontmoeting met die opgestane Christus hul harte warm gemaak het...  

Ons geestelike reis word dikwels deur onvreugde en gekla oorheers. 

En dit terwyl die Son helder skyn.



Saturday, August 06, 2011

Oor Geestelike Oefeninge. Psalm 126.


Oor Geestelike Oefeninge. Psalm 126.

Psalm 126 is ‘n kort teks, met net 6 verse. Dit word ‘n “pelgrimslied” genoem. Dit vorm deel van ‘n hele groep van sulke liedere wat as versameling in Psalms 120-134 gevind word. Die Ou Vertaling noem hierdie groep “bedevaartsliedere.” Dit gaan om mense wat op reis is, net soos Israel van ouds uit die land van slawerny gereis het.

Die Psalm lui so:

‘n Pelgrimslied. Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos 'n droom. 2  Ons het gelag en gesing. Onder die nasies het hulle gesê: “Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.”  3  Die Here hét groot dinge aan ons gedoen; ons was bly. 4 Verander tog ook nou ons lot, Here, soos U droë spruite in die Suidland in waterstrome verander. 5  Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. 6 Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra.

Die Psalm bestaan uit twee dele.

Die Psalm onthou heel aan die begin hoe God die volk uit Egipte bevry het. Die Here het die lot van Sion verander. Die volk was in ballingskap in ‘n ver land. Maar God het hulle lot omgekeer. God het hulle uit die land van slawerny gelei. Hulle was vir jare as pelgrims op pad terug na die beloofde land. Twee keer word in verse 2 en 3 verwys na die groot dinge wat die Here vir die mense van God gedoen het. Deur hierdie daad van bevryding kon die volk na die stad Jerusalem terugkeer en het al hulle drome waar geword.

Herinneringe aan die verlede, aan die groot dinge in die geskiedenis, is mooi.

Maar dit is nie genoeg nie. Om iets te onthou kan ‘n vryblywende, dalk ‘n interessente of miskien selfs ‘n aangename saak wees. Maar herinneringe aan die verlede en sy groot oomblikke is net die eerste deel van die Psalm (verse 1-3). Dit is vir die Psalmis bloot net die inleiding tot die belangrike.

Die tweede deel (verse 4-6) vertel wat regtig saak maak. Hierdie deel begin oratief: “Verander tog nou ook ons lot, o Here.” Dit is ‘n gebed dat wat God in die verlede gedoen het, ook in die lewe van die huidige geloofsgemeenskape ‘n werklikheid sal word. Dit vertel sommer aan die begin die volle verhaal: die mens begeer om dieselfde wonderbare transformasie van die volk van ouds te ervaar.

Die gebed druk ‘n verlange en intense begeerte uit. Die Psalmis wil ten alle koste self die groot dinge ervaar wat God voorheen vir ander gedoen het.

Dit is op die punt dat die Psalm tydloos word en tot mense van elle eeue praat. Die psalmis is die voorbeeld van gelowiges wat verlang na die Goddelike transformasie en dit in hulle bestaan wil ervaar. ‘n Mens, sê die Psalmis, kan met baie herinneringe leef sonder dat dit ‘n mens se lewe verander. Maar die egte, feesvierende pelgrim is iemand wat nie daarmee tevrede wil wees nie.  

Hierdie soeke na die verskil, na transformasie in die lewe van mense wat tans op reis is met God, is die punt van die Psalm.

Hoe gebeur dit dan dat mense verander word en getransformeer word?

Die Psalm is presies oor hierdie rede geskryf: Dit wil mense vertel hoe die transformasie kom.

Hiermee het ons by die hart van die saak uitgekom: transformasie kom tot die persoon wat ingestel is op geestelike oefening, wat deur toewyding daarna verlang en dit vuriglik begeer. Dit is verder ook die man wat saai, met trane. Dit is die man wat die gerwe inbring, met sweet en swaarkry.

Dit gaan om geestelike oefening, of geestelike dissipline.

Kommentatore onderstreep dat hierdie Psalm fokus op mens se volharding. Deur vas te byt, deur nie tou op te gooi nie, deur te bly saai en te oes, deur geestelike oefening en dissipline, wag ‘n mens op God se genade.

Geestelike oefeninge en toewyding reinig die mens van blokkasies en skep in die mens daardie rein hart wat ingestel is op die verhouding met God.

Dit is nie soseer die oefeninge wat so belangrik is nie, maar wat die oefeninge aan ‘n mens doen. Deur geestelike oefening ontdek ‘n mens dat agter al die uiterlike dinge, dinge skuil wat ‘n mens se eie lewe nuut kan maak. Deur alles wat ‘n mens weet, te verinnerlik, kan ‘n mens al wat vaal woestynplekke op die reis verbysteek en uitkom by die paradysplekke, by die goddelike – by dit wat ‘n mens se lewe volmaak en vul, waar die waters van rus is. Maar vir hierdie verinnerliking moet ‘n mens jou inspan met geestelike oefening.

Thursday, August 04, 2011

Wanneer die kerk genade kwyt raak. Oor die doop (1).

Dit is ‘n kuier-aand en, ontspanne, na die dag se bedrywighede, sit ek en my vriend en gesels oor dit en nog dat. Ons het albei ‘n taai week agter die rug. Nou wil ons terugsit en rustig, op ons eie, as ou vriende, sonder dat ons woorde hoef te tel, met mekaar net praat oor dinge van die dag of sommer net dinge na aan ons hart. 

Ons beland by die kwessie van die doop. 

Hy het, sê hy vir my, soos maar in alle gemeentes, ook ‘n groep mense in sy gemeente wat baie toegewyd is. Hulle is kerklik baie aktief. Hulle neem aan alles deel, neem inisiatief in die organiseer van sommige groot aktiwiteite, lees graag en baie geestelike boeke en hou daarvan om met mekaar en met hom diepsinnige gesprekke te voer. 

Dit is hulle, voeg hy by, wat dikwels die gemeentewerk die moeite werd maak en waaroor hy sy bediening as vrugbaar en vol betekenis ervaar. 

Maar, vertel hy – en ek kan sien dit lê maar swaar op sy gemoed –, vroeër vanjaar, toe hy na die groot stad moes gaan om van sy sake met ‘n deskundige te bespreek, loop hy in die gange van die groot maatskappy iemand raak wat voorheen lid van hierdie groep was en nou in die stad vir die maatskappy werk. 

Hulle is albei verbaas en verras om mekaar so onverwags te sien. My vriend, het ‘n jaar of vier vantevore laas te doen gehad met hom. Intussen het hy uit hulle gemeente verhuis. 

My vriend onthou hoe hy en Johan lang gesprekke in sy pastorie gevoer het. As daar ‘n saak op sy hart was, het Johan by hom opgedaag. Dan het hulle ‘n aand lank ernstig, eerlik en soms selfs keihard oor dinge gepraat. 

Hy het altyd veel aan hulle gesprekke gehad. Daar was min mense, het hy uit hierdie gesprekke afgelei, in die geskiedenis van sy bediening wat sy geloof so ernstig opgeneem het. Daar was min mense wat so uitgestyg het in sy diens aan die kerk en aan ander. 

Na die aanvanklike vriendelike oor en weer gegroetery in die gang van die groot maatskappy se gebou, besluit hulle om ‘n koppie koffie later in die dag wanneer hulle programme rustiger is, te gaan drink. 

Die atmosfeer tussen hulle is vriendelik, toegeneë en nog hartlik. Maar daar was tog ook in sy oud-lidmaat se houding iets wat hom opgeval het en wat hy nie eintlik onder woorde kon bring nie. Hy het probeer dink dat dit sy gesig is wat soms ‘n indruk van afstandelikheid geskep het.  Maar toe weer was dit asof daar ‘n stuk ongeërgdheid, of miskien, het hy gewonder, selfs oomblikke van irritasie uit sy lyftaal gestraal het. 

Seker maar die werk, het my vriend gedink en uitgesien na die koffie en die middag se gesels.

By die Waterkant het hulle die middag om vier uur vir hulle by die vrolike eetplek tuisgemaak. Die dag was volmaak. Die vriendelik, net-warm son het in die vroeg lentedag die atmosfeer nog gemoedeliker gemaak. Mense om hulle het luilekker rondgesit of rondgeslenter. ‘n Orkes in die klein ouditorium naas hulle eetplek het lui jazz musiek uitgekreun terwyl ‘n skaflike skare soms hande geklap het, soms bietjie lyf geswaai het en ander kere weer net saamgeneurie het. 

Daar, in die gemoedelike plek, het hulle twee oor Johan se werk gepraat, oor sy familie, sy vrou wat pas ‘n nuwe werk begin het en al die doen en late van sy kinders.

Toe, uit die bloute, vertel Johan vir my vriend in een konfronterende sin, so heeltemal uit pas met die vriendelikheid van die lente in die lug, dat hy nie meer gelowig is nie. 

Sommer net so.

Hy het my vriend nie kans gegee om iets te sê nie en begin vertel: nadat hy in die groot stad aangekom het, het hy by die naaste gemeente aangesluit. Vol ywer en oorvloediglik, soos ‘n mens dit in Bybelse taal sou kon uitdruk, het hy hom in die kerklike lewe ingewerk. 

Maar gou het hy gevoel dat die geestelike dieet in die gemeente bedoel is vir mense wat ‘n geestelike hongerloon verdien. Hy het na die dieper ervaring gesoek en dus by ‘n charismaties-gesinde gemeente van die kerk aangesluit. Daar het hy uiteindelik “gevorder” tot die organiseerder van die liturgie en veral van die sang. Sy lewe was ‘n dolle tog van godsdienstige ywer. 

Maar ook hier is sy geestelike honger nie gestil nie. Sy verlange wou nie bedaar nie. Hy het meer as ooit gebid, geestelike oefening soos vas probeer en veral ook baie boeke gelees om te oorleef. 

Maar ook die sake kon hom nie innerlik verryk nie. 

Hy het hieruit afgelei dat hy of die kerk iets verkeerd doen. Dit was vir hom asof hy meer, asof hy iets groters moet kan aanbied en beleef. 

Uiteindelik het hy by ‘n onafhanklike kerk aangesluit, oortuig dat sy eie kerk nie meer by was nie – selfs in die sogenaamde ywerige, geesvervulde gemeentes. 

Die nuwe kerk het hom geesdriftig verwelkom. Die tye was opwindend. Die dienste was barstens vol van mense en alles was voorspoedig aan die geloof. 

Dit is hier waar hy hom toe laat doop het, aangevuur deur die groot appel deur die leier van die gemeente dat ‘n mens vir die Here moet kies en dat ‘n mens bewustelik en met eie instemming deur die doop jou deel van die ooreenkoms met God moet nakom. 

Dit, het hy gevoel, sou die groot verskil maak. Alles wat altyd by hom ontbreek het, al sy verlangens wat altyd so onbevredigd was, sou daarmee vervul word. Dit sou hom tot rus bring en vir hom gee waarna hy altyd verlang het.

Dus is hy gedoop. Dit was vir hom ‘n unieke ervaring en hy het met ‘n spesiale gevoel die nuwe fase in sy lewe begin. Wat getel het, het hy toe gedink, is dat hy uiteindelik sy geloof kon anker aan sy doop waarvoor hy hom aangemeld het en waarvoor, het hy gedink, God hom sou reken. Hy was ‘n dankbare mens dat hy sy geestelikheid voor God en die gemeente kon uitwys.

Sy emosies en gevoelens het sterk geloop. 

In die volgende paar maande, vertel hy aan my vriend, het hy sy nuwe gemeente van nader leer ken. 

Die terugkeer na nugterheid in die tyd na sy groot doop het begin koers kry na ontnugtering, ten spyte van sy nuwe gemeente en al die ywerige gelowiges.

Mettertyd het hy hulle van baie naby leer ken met hul gevestigde idee’s en hooggekoesterde voorliefde’s onmiskenbaar herkenbaar. Toe al, kon hy sien, het die doop geen magiese krag gehad wat sy verlangens vanself gestuit het nie. 

Hy was gedoop. Hy was lid van ‘n voorspoedige gemeente. Hy was ywerig. Hy het God gedien met noukeurigheid en met toewyding. En tog het die ou gevoel hom al hoe meer bemeester dat hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Die geknaag het nie opgehou nie. 

Tot hy op ‘n Sondag weer in die kerk gesit het en die prediker begin het om die Woord te bedien. 

My vriend sê Johan sit en kyk so verdiep na die see asof hy terug is in daardie erediens. 

Dit is asof hy nie veel sin het in sy storie nie, asof hy net verder vertel omdat hy al so ver met sy storie gevorder het.  

Die prediker, vervolg hy, het daardie Sondagoggend ywerig begin om te vertel hoe ‘n geestelike mens se lewe moet lyk. En geestelikheid het vir hom ook ingehou dat ‘n mens God se reguit pad moet loop. En toe begin hy praat oor mense wat nie God se reguit pad loop nie. 

Die prediker raas nie voor sy groot gehoor oor  die sondaars van die wêreld nie. Hy ban nie die moordenaars en diewe tot binne in die buitenste duisternis of in die binnekamers van die hel nie. 

Hy praat met sagte stem oor mense wat aanspraak maak daarop dat hulle Christene is en oor kerke wat vertel dat hulle Christelik is maar wat die pad byster is. 

Hy veroordeel hulle in geen onduidelike taal. 

In soet, vriendelike woorde speel hy die rol van God wat verdoem. Dieselfde hande wat Johan op ‘n keer in die water ondergedompel het, swaai vriendelik, maar sonder genade in die lug rond, terwyl hy beduie watter onwaardige Christen-mense en hulle kerke nie tuishoort in God se gawe span van gelowige goeie mense nie. 

Mooi netjies kon die prediker uitspel waarom hy weet wie God gaan begenadig en wie nie. Sy teologie was perfek. Die knaldemper-koeëls waarmee hy die sondaars en kerke wat sulke sondaars duld, omgeklits het, was keiharde, pittige Bybelverse, netjies bedink en aanmekaar geryg. En hy het dit so stemmig en ordentlik gedoen. 

‘n Mens moet God se genade nie onwaardig wees nie.  

Dit was nie ‘n dramatiese oomblik nie – asof Johan daardie Sondag uitgestap het en nie weer sy voete in enige kerk gesit nie. Dit is ook nie dat hy die kerk haat nie. Of dat hy God verwerp nie. 

Dit was net ‘n merkbare versnelling van ‘n proses van ontnugtering wat gou en vinnig vir hom sover gebring het dat hy geen erg mee aan die geloof wat aan hom voorgehou is, gehad het nie. 

Ek beluister my vriend se vertelling. 

Ek sit en bedink die situasie. Hoe sit ons nie almal raadop met hierdie verlange na die dieper dinge nie. En ons wil daardie verlange aanspreek deur te presteer, deur vir God op ‘n verskuilde manier eintlik te wil wys hoe mooi gelowig en goed ons is. Asof genade nie genoeg is nie en ons uitreik na God die tekort gaan goeddoen.  

En dan ontdek ons selfs hierdie greep na God bevry ons nie van die verlange nie en laat ons steeds weer met die groter wordende leegheid. 

En al die tyd, in ons verlange, selfs voor ons verlange, van die skoot van die moeder af, leer die mistici van alle tye ons, is God daar vir ons.  Juis in ons verlange, wanneer ons gestroop word van alles wat ons is, is God daar. Want verlange veronderstel dat daar iemand in ‘n mens se lewe is na Wie ‘n mens verlang.

Daarom, juis ook, is dit nie net ‘n mens se eie doop nie, maar die doop wat in die erediens gereeld plaasvind, wat as sakrament die hele gemeente keer op keer aan God se genade op ‘n sigbare, mistieke manier herinner en laat deel. Elke keer weer wil die doop ‘n mens herinner dat God, ondanks ons eie gevoelens, ons eie emosies en ervaring van ons tekortkominge, aan ons geskenk word. Des te meer wanneer die doop genadiglik geskenk word aan mens ten spyte van hul kleinheid, onmag en onvermoë.

Trouens, die genadige nabyheid van God stroop ‘n mens van alles in ‘n sinvolle nietigingsproses. In die diepste vorme van mistiek, wanneer dit gaan om die nag van die gees, leer ons dat ons moet toelaat dat ons selfs van ons geloof gestroop word – wel wetende, teen alles in, dat niemand ons van die genadegawe van onverganklike Liefde kan beroof nie.  Dit, hierdie Liefde, is al wat ewig bly. Daarom is die diepste moment in die erediens en in die geestelike reis wanneer mense aan God alleen die eer bring – soli deo Gloria. Hy moet meer word… Hy, wat ons eerste liefgehad het…

Ek bedink hoe ironies dit is dat die een sakrament wat bedoel is om sigbaar die genade helder en onomwonde vir mense uit te wys, soveel so dat dit selfs buite enige toedoen van ons kant af vir ons bedien kan word en deur ons ervaar kan word, die speelbal van twis geword het en die slagoffer van ons verskuilde prestasiedrang geword het. 

Die kerk wat genade begin kwytraak, verloor dit nie net in die sakrament van die doop nie. Die verlies aan genade-bewussyn kring onverbiddellik uit na ander kante van die kerklike lewe en sal ook, byvoorbeeld, in die deurslaggewende en lewegewende bediening van die Woord sy tol eis wanneer menslike voorwaardes aan God se onpeilbare genade verbind word. 

Dit is nie nuut nie. ‘n Mens moet maar net Galasiërs lees om te besef hoe oeroud dit in die beste van ons verskuild lê om God se genade ondergeskik te maak aan menslike magsgrepe.

Dit is wanneer die kerk genade begin kwyt raak, dat gelowiges die ongenade in die kerk se prediking as vernietigend begin ervaar. Die boodskap van genade wat die enigste wesenlike verskil tussen kerk en wêreld is, is dan immers uit die weg geruim. Dit is dan dat lidmate begin agterkom dat die kerk voorwaardes vir die genade stel wat niks met die evangelie te doen het nie. En dit is dan dat die een plek waar hul ‘n tuiste van behoort, van genade sou kon vind, vir mense al sy betekenis verloor. 










Wednesday, August 03, 2011

Die horison van ons geestelike reis

Wanneer 'n mens sekere besondere tye en veral treurige tye ervaar, is dit asof 'n mens meer sensitief is vir wat om jou gebeur. Jy onthou die enkele woord, die eenvoudige gebaar, die gesigsuitdrukking, die knipoog. Indrukke en ervarings bly hang en bly jou by, lank nog na die tyd.

Jy sien sekere dinge raak wat andersinds by jou verbygaan of beleef jou omgewing intenser as tevore. En dit is asof 'n mens se verlange na of vrae oor die grotere, dieper dinge, op vele, veral konkrete maniere oral antwoorde kry.

Onlangs, in 'n tyd van afronding, terwyl ons geweet het hoe kosbaar die lewe is, het ek by ons geliefde strandplekkie, waar ons wortels diep ingegroei het, hierdie volmaan-foto geneem. 

Die maan het 'n lig-kring oor ons plek laat skyn. Deel daarvan het 'n spatsel-kol op die see gemaak. 

Dit was boonop 'n aand dat die branders byna nie gebreek het nie, asof hulle nie nog geraas wou byvoeg in 'n tyd dat 'n mens van binne af soveel harde klanke moes verduur nie, soveel woeligheid moes besweer nie. Dit was asof alles stil geraak het sodat 'n mens ongesteurd die rustig ligspel kon bekyk.

Dit was tower-oomblikke. 

So stil, in al ons donker tye, maar so onmiskenbaar lig, is die aanraking van die Ewige. 

Wolke wou-wou die maan toemaak, die lig daarvan afsny, maar die lig was te sterk, te helder. 

Die lig het van die wolke ligte watte-stukke gemaak, asof die maan 'n sagte plek soek om in toegedraai te word. Dit was asof alles ingestel was op troos in troebelheid, om skerp kante af te vyl en om seer plekke in watte toe te draai. 

In die swart van die maanlig-aand herken 'n mens die afskeid, die donker, die swaar in die lug. En tog, wat ons aan die gang hou, was die spatsel lig van saam-wees. Selfs in die donker tye kan 'n mens in die lig wees. 






En toe, 'n bietjie meer as 'n maand later, toe die dag van die finale afskeid aangebreek het, het ek vroeg, vroeg wakker geword, teen al my laat-opstaan gewoontes in.

Buite op die balkon, my gunsteling kyk-plek, nog in die skemer, waar ek op presies dieselfde plek 'n kort paar weke vantevore kon kyk hoe die lig tog in die swart tye kan bly skyn, het in die donker wat aan die wyk was, hierdie sonsopkoms voor my oë begin afspeel. 

Weer was daar lig. Hierdie keer was die kleure in gloei-geel met 'n breë streep van oranje, van die kleur van kole wat deur vuur verteer word, wat na alle kante oor die gesigseinder bly hang. 

Dit was of die son op daardie treurige dag dat ons sou groet en afskeid neem, in 'n groot vuurbal wou ontplof, asof dit lewe en energie op 'n groot skaal die lug in wou slinger. En alles het opgereik na Bo, na 'n wolklose, eindeloos oop, helder hemel. Dit was asof hierdie vuurkolom vanuit die aarde in die hemel, in Oneindigheid, ingebrand het. 

So, het ek gedink - en dit was so oneindig stil, doodstil, daardie oggend met die sonsopkoms oor die treurige dag - sal ons, terwyl ander finaal van ons afskeid neem, die groot geheim ontdek: die nuwe, ander, durende, helder lewe, sonder die donker, wat vir ons op die gesigseinder van ons geestelike reis wag. Wanneer ons by die einde kom, is dit maar bloot net God se vurige begin. 








Tuesday, August 02, 2011

Die verborge ontmoeting met God. Oor die joods-christelike mistiek in Bybelse tye.


Daniël en Openbaring is twee Bybelse “apokalipse” of “openbaringe.” Daniel is in die tweede eeu v.C. en Openbaring aan die einde van die eerste eeu n.C. geskryf.  Daarin word veral oor die toekomsgebeure gepraat, maar ook God se wil vir die hede bekend gemaak.

Maar Joodse en Christelike gelowiges in Bybelse tye het baie ander soortgelyke openbaringe gehad. Dat daar so baie was, wys hoe gewild hierdie soort boeke in die tyd tussen die Ou en die Nuwe Testament was.

Sommige van hierdie boeke, soos 4 Esra, is in die Apokriewe Boeke opgeneem. Maar daar is ook ander met name soos 2 Barug, die Apokalipse van Abraham, 1 en 2 Henog, Die Apokalips van Petrus en vele ander.

4 Esra is ‘n wonderlike boek, geskryf na die vernietiging van Jerusalem. Daarin besin die skrywer heel aangrypend oor die ondergang van die stad en dink na oor wat nou op Joodse gelowiges wag. Dit is eintlik 'n treurige boek, want die vernietiging van Jerusalem het hierdie toegewyde skrywer se hart gebreek. Hy worstel met God omdat God dit kon toelaat. Uiteindelik vernietig die gebeure nie sy geloof in God nie. Hy hou vas aan God se beloftes dat daar tog 'n tyd sal kom dat God weer aan sy mense 'n nuwe toekoms sal gee. 


Maar wat nou so boeiend is, is dat Christen gelowiges net so lekker aan die boek gelees het. Christene het hierdie Joodse boek van hoek tot kant bestudeer. Hulle het dit oorgeneem in hul eie geloofskonteks en dit voorsien van ‘n inleiding en ‘n slot (met verwysings na Jesus). Daarmee het hulle dit tot 'n Christelike boek gemaak. Hierdie Christelike aanhangsels het later bekend geword as 5 en 6 Esra.  Vir Christen gelowiges is die verwagtings in die boek verbind met die lewe van Jesus.

As ‘n mens al hierdie apokaliptiese boeke met mekaar vergelyk, sien ‘n mens dat hulle veral in twee tema’s belanggestel het. Sommige soos Daniël en Openbaring het God se eindplan vir die wêreld aan hulle lesers onthul. Maar ander het nog ‘n tweede element gehad. Sommige geleerdes praat van “wetenskaplike spekulasies” waarin hulle belanggestel het. Die skrywers het naamlik allerhande kennis oor die skepping en oor God aan hulle lesers voorgehou. Die kennis gaan oor die kosmogonie (die wêreld se bestaan) en oor die teosofie (oor God se wese).  Daarin word dan allerhande “geheime” oor die astronomie, die kosmologie, die geskiedenis en nog vele van die sogenaamde “heilige” wetenskappe opgeneem. Eintlik word daarmee bedoel dat agter alles wat ‘n mens waarneem, is daar verborge dinge wat gelowiges oor moet nadink.

Daar is ‘n besondere band tussen al hierdie apokalipse met die Bybel. Hierdie apokaliptiese boeke het naamlik almal ontstaan na aanleiding van twee bekende en sentrale hoofstukke in die Bybel, naamlik Genesis 1 en Esegiël 1. Genesis 1 met sy skeppingsverhaal was ‘n hoofstuk wat die toegewyde en ernstige gelowiges in die tyd van die Bybel graag bestudeer het om meer van God se skepping uit te vind. En in Esegiël 1 is daar die beroemde troonvisioen van Esegiël waarin die profeet God op sy troon ervaar en waarin dit lyk asof daar verskeie insigte gebied word oor wie God is en hoe God lyk. ‘n Mens kry dieselfde visioen in Jesaja 6 en Daniël 9.

Van die vroegste tye was latere Bybellesers van hierdie visioene geboei deur hierdie tekste. Sommige mense dink dat hulle hulle so ingeleef het in hierdie tradisies en dit so deel van hul geestelike reis gemaak het dat hulle self allerhande visioene beleef het. Hierdie visioene het hulle in hul boeke neergeskryf. Die visioene het oor die “verborge” dinge gegaan, byvoorbeeld oor hoe die wêreld geskape is, hoe die hemel en die hel lyk en hoe God lyk.

Maar nie almal was so entoesiasties nie. Sommige geestelike leiers en veral sekere rabbi’s het die entoesiasme van die sieners probeer demp. Hierdie leiers was krities oor die visioene en die bestudering van Genesis 1 en Esegiël 1. Hulle het gewaarsku dat nie enige een hulle met hierdie verborge dinge moet besig hou  nie en het streng riglyne vir die studie daarvan neergelê. Dit was nie dat hulle die instelling verwerp het nie. Hulle problem was dat sulke spekulasies en vrome visioene die Naam van God oneer kon aandoen en God se heiligheid kon aantas. 

Tog was hierdie apokaliptiese tradisie baie sterk. Vandag begin mense besef dat die apokalipse of openbaringe eintlik die eerste vorm van Joodse mistiek was. Dit was tekste wat die diepe verlange na ‘n intieme eenwording met God uitgebeeld het. Hoe kan ‘n mens, vertel die tekste, uit die moeras van jou alledaagse bestaan verhef word om ‘n besonder noue verhouding met God te kan ervaar?

Met ander woorde: hoe kan ‘n aardling in die teenwoordigheid van God op die troon kom?

Onmiddellik sal die opmerklike leser besef: Hier is ons by die agtergrond van belangrike Nuwe-Testamentiese tekste. Openbaring is ‘n boek wat eers vertel van die sewe gemeentes. Maar dan, as die sewe gemeentes bekend gestel is, begin die boek hoe Johannes, die profeet, die siener, in die hemel opgeneem word (Open.4:1) en in die teenwoordigheid van God kom. Hy ervaar dan die merkwaardige troonvisioen in Openbaring 4-5. Baie motiewe van Esegiël kom in die troonvisioen voor (bv. Die trishagion: heilig, heilig, heilig).

Hierdie mistiek in die apokalipse is “troon-mistiek” (merkebah mistiek) genoem omdat dit gegaan het oor sieners se ervaringe van God op sy troon.

Vandag verskyn die een publikasie na die ander oor hierdie vorm van Joods-Christelike mistiek. Dit is ‘n nuwe veld van ondersoek wat groot belangstelling wek.

Wat se soort spiritualiteit is daar in hierdie boeke? Dit is opvallend dat hierdie skrywers, in ‘n tyd toe mense geglo het dat God die wêreld opgegee het, vas geglo het God knoop nog ‘n verhouding met mense aan, openbaar God se wil aan hulle en bly by hulle op ‘n besondere manier in hul tyd van ellende en teenspoed. Dit gebeur, het hulle gedink, dat mense nog direk en op ‘n mistieke manier God se stem met hulle kan hoor praat.

In hierdie geskrifte kry ‘n mens dus ‘n besondere Godsbeeld: God is wel hoog verhewe, in die hoogste hemel, waar God se troon ook gesetel is – soos ‘n mens ook in Esegiël 1 en Jesaja 6 lees. Tog het die mens ook toegang tot God en kan God van naby ervaar. Net enkele mense het die voorreg om God te ervaar – soos byvoorbeeld die skrywers wat in ‘n visioen opgevaar het na die hemel en toegang tot hemelse verborgenhede ontvang het (kyk bv. Open. 4:1). Maar dit neem nie weg dat dit tog moontlik is en dat alle mense van hulle ervarings in hul boeke kan lees nie. Meer nog, ‘n boek soos Openbaring is in die erediens gelees. In die erediens, in die besonder, het hulle geglo, kan die gemeente die teenwoordigheid van God beleef. S

Agter hierdie boeke skuil daar dus ‘n besonder vroomheid. Apokalipse is tekste wat ‘n diepe godsdienssin weerspieël. Die skrywers daarvan was mense wat geglo het ‘n mens kan baie naby aan God kom en dat God die verlange van die regverdige mens aansien en met so iemand die verborge wyshede deel. Hulle is oortuig dat hulle geloof ‘n resultaat was van ‘n ontmoeting met God.

Dit het ‘n groot invloed op hul geloofslewe. Juis omdat hulle in ‘n visioen so ‘n intense en intieme ontmoeting met God gehad het, het hulle meer as ooit geglo in die waarde van hul geestelike tradisies. Hulle besondere ervaringe en ontmoetinge met God het die egtheid van die Bybel vir hulle bevestig.

Dit is ook een van die redes waarom mense die boeke skryf. Die boeke ontstaan in ‘n tyd toe Jode oor die wêreld versprei is en diep vrae oor God gevra het. Die worsteling om hulle lyding in hul tyd en situasie van vervolging te verstaan, bring hulle tot antwoorde wat ‘n mens in apokalipse vind. God, skryf die outeurs, gee nog om vir mense. God reik uit en kommunikeer nog met hulle wat regverdig is en God se wil soek. God het ‘n plan met die wêreld en sal daardie plan ten alle koste tot uitvoering bring. In hierdie tekste gee die skrywers uitdrukking aan hulle gevoel dat ‘n mens in hulle tyd van ontwrigting en vervolging, tog nog God se teenwoordigheid op ‘n besondere manier kan ervaar. Al lyk dit nie so terwyl ‘n mens kyk na die situasie waarin hulle was nie, is God wel op die troon en kan mense wat na God verlang, op ‘n besondere manier God se teenwoordigheid beleef.

Dit is teen hierdie agtergrond dat ‘n mens boeke soos Openbaring en Daniël moet verstaan. Maar ook Jesus, Paulus, Lukas en ander Nuwe-Testamentiese boeke kan met vrug verstaan word in die lig van die Joods-Christelike apokalipse. 

Monday, August 01, 2011

Die wonder en die woede van die liefde.


Hierdie gedig (hier onder aangehaal) van die bekende Engelse digter, William Blake, is waarskynlik een van sy boeiendste gedigte.

Dit begin met die strelende woorde van ‘n klei-klontjie, al klaar sag en knie-baar, wat die liefde besing. Die liefde, vertel hy entoesiasties, is onselfsugtig en gerig op die ander. Dit gee niks om vir himself nie. En dit bring hemel in mense se bestaan.

Die ritme, woordkeuse en digterlikheid van die eerste vier reëls val sag op die oor. Dit benadruk wat ‘n mens graag oor die liefde wil hoor. So mooi en goed is die liefde.

Dit is die hoë noot, beklemtoon deur die feit dat Blake daarmee wegval. Hoog is sy agting vir die liefde, dink ons.

Net drie strofe’s lank is die gedig oor die liefde. Die middelste strofe is neutraal, want dit vertel eintlik net wie aan die woord is. Ons, die ywerige lesers wat die liefde bewonder, hoor dat die minnende klei-klontjie, gewoond daaraan om deur die vee getrap te word, besing die liefde se skoonheid. Des te mooier is sy minnesang: hy wat aan die vertrapkant van die lewe moet bestaan, het die liefde as ‘n heerlike gawe.

Maar dan kom die ander kant wanneer ons voorberei word vir die derde strofe wat deur ‘n tweede party gesing gaan word. En dit is hierdie kant wat mense oor die afgelope eeue sedert Blake die gedig gemaak het, mateloos frustreer. Die woord word skielik oorgeneem deur ‘n spoelklippie. Wie is hy om te praat? Hy lê lekker in die stroompie. Niemand betrap hom nie. Hy is hard, onbreekbaar, taai en sterk. Sag en skoon spoel die waters gedurig oor hom, sodat hy nie rede het om lang gesig te wees nie. Daar waar hy so knus in die waters wat vloei, lê, neurie (warble) hy ‘n tweede deuntjie oor die liefde.

Ons sit reg en wag vir die klimaks. Dit gaan mooi wees.

Vir almal van ons wat hou daarvan om verhewe oor die liefde te praat, kom sy harde woorde egter soos ‘n skeut koue winterswater oor jou gesig in die oggend nadat jy warm uit die bed opgestaan het. Vir hom is die liefde selfsugtig, soek om die ander een aan sy genot te onderwerp, geniet die liefde as die geliefde begin rondtrap en bring uiteindelik hel in die hemel.

Hoe is dit moontlik dat ‘n mens so lelik (maar in sulke mooi taal) oor die liefde kan praat?

Hieroor word eindeloos gespekuleer en bladsye vol boeke word daaroor gewonder. Studente aan baie universiteite van die wêreld wat hierdie gedig in hulle letterkunde-kursusse moet lees en evalueer gooi hulle hande in die lug. Dit is onmoontlik. Kan een kort gedig met net drie strofe’s so ellendig dubbeld oor die liefde praat?

Blake was ‘n mistikus. Sy skildery en sy gedigte behoort tot die hoogtepunte van die geskiedenis van die kuns.

Maar hy was mistikus.

En hy het geweet: die liefde, so kosbaar, so spesiaal en so totaal lewegewend, kan in een oomblik wreed, vernietigend en lelik word. Hemel kan in hel omslaan.

Daar is dus liefde en liefde. In die mistiek weet ‘n mens dit. In die lewe ken ons genoeg voorbeelde van liefde wat hel in mense se lewens bring – in die naam van die liefde. Deur die eeue heen besef mense hoe die kwaad die hart van die goeie deurdring – soos ‘n slang in die paradys.

Die groot verskil is te vind in ‘n herhalende motief in die gedig: in die eerste strofe is die liefde wat ter sprake is, die liefde vir die ander. Blake het egter geweet daar is ‘n ander soort liefde, net so sterk, indien nie sterker nie. En in die derde strofe praat hy dan oor hierdie liefde vir die self.

Kyk maar self: in die eerste strofe van die gedig word die struktuur daarvan gedra deur drie frase’s: not itself, nor itself, for another. In die laaste strofe is dit presies omgekeerd: only self, another en another. Die gewig is volmaak: die liefde wat ‘n mens besing is selfloos op die ander gerig. Die liefde wat ons nie soek nie maar wat onvermydelik in ons bestaan voorkom, is op die self en nie op die ander ingestel nie.

Miskien is die belangrikste boodskap wat Blake wil bring as hy albei in een gedig bymekaar gooi, dat dit in mense se lewens ook so gaan. Moenie te sentimenteel oor die liefde dink nie, dig hy. Die liefde in elke mens, elke dag, het die mag om in een oomblik in ‘n ander gedaante te verander. Spiritualiteit is hier aan die orde: elke dag is ‘n stryd in die mens se bestaan teen die demone wat die mooiste van mooi dinge in ons neem en dit omkeer in ‘n vernietigende krag. Loop maar katvoet, help Blake ons besef. Moenie dink die liefde is die antwoord nie.

Die antwoord is die regte soort liefde.

Hier is die gedig, werk om gememoriseer te word:


The Clod and the Pebble

"Love seeketh not itself to please,
Nor for itself hath any care,
But for another gives its ease,
And builds a heaven in hell's despair."

So sung a little Clod of Clay,
Trodden with the cattle's feet,
But a Pebble of the brook
Warbled out these metres meet:

"Love seeketh only Self to please,
To bind another to its delight,
Joys in another's loss of ease,
And builds a hell in heaven's despite."


Blog Archive