Monday, January 24, 2011

Om fel te stry en om vroom te bly. Oor die spiritualiteit van Voetius.

Die bekende Sinode van Dordrecht het met sy Dordtse Leerreëls, wat so bekend in die Calvinistiese wêreld geword het, fel gereageer teen die Remonstrante en die Rooms-Katolieke kerk. Die argumente was hooggeleerd en uitgebreid.

Die heftige besprekings van die Sinode het grootliks bygedra om ‘n bepaalde negatiewe beeld van die Calvinisme te skep. ‘n Belangrike beswaar teen die Calvinisme is dan dat dit uitermate fokus op allerhande strydvrae en teologiese dispute – asof dit dan pure haarklowery word.

Gisbertus Voetius, die latere teologiese professor aan die teologiese skool waaruit die Universiteit Utrecht sou ontstaan, was die jongste predikant wat die Sinode van Dordrecht bygewoon het. Sy geskrifte bevat ook teologiese dispute. Tog het hy groot klem gelê op ‘n wetenskaplike se persoonlike vroomheid. Maar dit was ook hy wat Thomas van Kempen se Navolging van Christus besonder hoog geag het. Voetius word daarom somtyds beskuldig dat hy ‘n dubbele lewe lei: aan die een kant was hy ‘n skolastieke teoloog wat in allerhande dispute kon verval, terwyl hy aan die ander kant ook vroomheid sterk beklemtoon het.  

Teen 1664 skryf Voetius sy boek: “Die praktyk van vroomheid”, waarin hy veral aandag gee aan meditasie, gebed en bekering. Al hierdie momente was vir hom heenwysers na lewensheiliging. Alle menslike kennis word oortref deur ‘n mens se soeke na persoonlike vroomheid. Hy word dikwels as ‘n belangrike verteenwoordiger van die piëtisme beskou. Daarom is die teologiese debatsvoering nie om punte teenoor teenstanders aan te teken nie, maar om ‘n dieper dimensie aan die persoonlike geloofslewe te geen.

Ek verwonder my atlyd dat iemand wat soveel klem op persoonlike lewensheiliging gelê het en wat so 'n bekende teologiese figuur van sy tyd was, so min gelees word.  Ek neem my voor om meer van sy werke te leer ken – om te probeer verstaan waarom hy terselfdertyd so hoog geag en tog ook weer so sterk gekritiseer is. Miskien is ‘n herlees van hom leersaam in die lig van die situasie waarin teologie hom bevind. Maar ek wil hom graag ook lees om meer te wete te kom van die Nadere Reformasie, wat so 'n groot invloed op ons eie konteks en tradisies gehad het. 

Sunday, January 23, 2011

Die vurige verlange na die goddelike liefde. Kanselgebed voor die nagmaal

Kanselgebed voor die bediening van die nagmaal.

N.a.v. Thomas a Kempis, Navolging 3.16 se onvergeetlike gebed:


In hierdie unieke oomblik, by hierdie verborge ontmoeting, by die liefdesmoment waarna ek vuriglik verlang het, ken U, beter as ek, my swakheid en leegheid. ‘n Lewe donker van kwaad en ondeug lei ek. Dikwels neem ek die uitdraaipad, is ek verdwaal, verval ek in onreinheid.

Na U kom ek om genees te word, om troos te ontvang, om die lig te sien.

U wat alles ken, tot U bid ek. U ken my van binne uit. U alleen kan my vertroos en bystaan.

U ken my gebreke. U weet hoe arm ek is aan die goeie. Ek staan voor U, arm en naak, terwyl ek smeek om genade en om ontferming.

Verkwik my, ek wat ‘n bedelaar is. Verdryf die kilheid in my, laat my baai in die warmte van U liefde. Laat my blindheid wyk voor die helderheid van U teenwoordigheid in my lewe.

Neem van my my bitterheid. Laat my met geduld my teenspoed ervaar. Gee dat ek nie meer sal dink aan alles wat my terughou en vasbind aan aardse ellende nie.

Laat my hart woon  by U in u hemelse teenwoordigheid, vry van alle aardse sorge. Wees U vir my so soet soos heuning, my ewige spys en drank, my liefde en my blydskap, my soetigheid, my alles.

Laat my hart totaal ontvlam deur U teenwoordigheid. Neem my vir U, omvorm my vir Uself. Dan sal ek een gees met U word, wanneer U genade my aan U bind en U my laat deel in U brandende liefde.

Laat my nie honger en dors van U weggaan nie, maar bly in ontferming besig met my – soos U deur die tye heen in verwondering U heiliges lief gehad het.

As ek maar tog aan die vlam van U liefde sou kon deel en aan myself sterwe! Is U dan nie die Een wat altyd in liefde brand nie, wie se liefdesvlam nooit uitgedoof word nie? Is U dan nie die Een wie se liefde die hart suiwer en die verstand verlig nie?

Saturday, January 22, 2011

Dit is hulle skuld.... Oor nugterheid


As ander maar so simpatiek teenoor ons is soos wat ons teenoor onsself is. As ander maar net so geduldig en positief teenoor ons is soos wat ons onsself opsom.

Die waarheid is eerder: die individu neig om sy of haar eie sonde te minimaliseer en om die ander persoon s’n op te blaas.

Daarom projekteer ons: In ‘n mens se denke is skuld vir wat verkeerd loop, altyd ander mense s’n. Alles, dink ‘n mens,  sou tog anders gelyk het as ander mense nie so hatig, onverdraagsaam en vyandig sou wees nie.

Dit gebeur wanneer ‘n mens só op ander se swakhede fokus dat ‘n mens jou eie swakhede nie raaksien nie.

Vrede kom tot ons wanneer ons na onsself kyk en die diep afgronde van vooroordele en hatigheid raaksien.

Nugterheid is wesenlik aan die geestelike reis – en dit beteken dat ‘n mens nugter na jouself en jou eie demone kyk.

Die balk en die splinter…

Friday, January 21, 2011

Vingerwysing, vooroordele en veroordeling. Oor Johannes 8:9.

Ons klap ywerig hande vir sprekers met wie ons saamstem. En hulle wat verdag is, wat anders as ons dink, wat “vreemde leringe” verkondig – vir hulle is ons applous flouerig. En ons klap ook maar net flouerig hande vir hulle wanneer ons na hulle moet luister.

Nog liewer sal ons hulle nie wil aanhoor nie, hulle nie uitnooi om met ons te praat nie. Ons is onverdraagsaam teenoor hulle wat nie dieselfde as ons dink nie.  Hulle is eintlik ons “vyande”.

Op die manier word mense dikwels gedemoniseer tot “vyande”  -  tot vyande van die volk, van die kerk, van die evangelie, van die waarheid en van die gemeenskap.

Sommige sien in hierdie demonisering en onverdraagsaamheid ‘n weggesteekte geestelike onvolwassenheid of selfs ‘n geestelike siekte-toestand. Hulle waarsku: Agter onverdraagsaamheid skuil dikwels angs vir die ander. Die ander een word as ‘n bedreiging ervaar. Hulle word gevrees omdat hulle ‘n mens herinner aan wat in jou innerlike leef. Die ander word tot ‘n sondebok gemaak vir die swakhede wat ‘n mens in jou eie lewe nie wil erken nie. Veroordelings en beskuldigings is soms projeksies van ons eie skuldgevoelens is. Die kwaad wat daar in ‘n mens self is, word weggepraat deur ander te demoniseer.  Of: Die kwaad wat uitgewys word, is ‘n manier om eie kwaad te probeer verdoesel.

Daar is ‘n dieper en donker kant aan ‘n eiegeregtige, veroordelende en verwerpende lewenshouding. Wie die ander oordeel, doen dit immers met die eiewaan dat hy of sy “reg” is, die waarheid ken, nie foute maak nie en dus vinger kan wys en die dwalendes kan uitwys.

Die klassieke voorbeeld is die owerspelige vrou in Johannes-Evangelie. Vir hulle wat haar wou stenig, was sy die sondebok. En Jesus kyk diep in hul innerlike met die opmerking dat die een wat sonder sonde is, maar heel eerste moet  begin met die steniging.

Asof hulle blaamloos lewe, nie owerspel pleeg nie. Asof owerspel nie reeds in die begerende blik te vinde is nie...

Geestelike volwassenheid impliseer hierteenoor ‘n besef van eie feilbaarheid. Elke dag weer, in die geestelike reis, word die soekende gekonfronteer met eie demone, met die donkerte in sy of haar eie bestaan. 

En ook: Die geestelike reis is immers ‘n ontdekkingstog – om steeds weer meer en meer kante van die waarheid te ontdek. Daarom sal die geestelike mens in die woorde van die ander ook soek na wat sin maak, wat ook die waarheid helderder belig.

In die episode van die owerspelige vrou is dit juis die vromes wou Jesus wou vastrek. Die waarheid was duidelik aan hulle kant en teenoor die vrou. Beskaamd moes hulle uiteindelik van Jesus, die “vyand” van die volk en van die geloof, leer. Hy het hulle aandag omgedraai – weg van die vrou, na hul eie innerlike demone.

Watter merkwaardige slot is daar tog in Johannes 8:9: Dit moet ‘n mens die skrifgeleerdes en die fariseërs ter ere nagee: Jesus, wat hulle wou versoek (Joh.8:6), Jesus, hul opponent, het hul “gewete bestraf”.  Só het sommige van die vroegste manuskripte (sien die Ou Vertaling) die teks weergegee. Maar selfs die oorspronklike teks (sien die Nuwe Vertaling) vertel dat hulle een vir een, stilweg, van die oudste tot die jongste, weggegaan het. Die simboliek is duidelik: Jesus se kriptiese antwoord het hul stilgemaak.

Op die manier word die leiers bewus gemaak van die Bergrede-uitspraak: Moenie oordeel nie (Mt.7:7).

Dus: Nie te gou verwerp nie. Nie te gou vinger wys nie. Nie te veel raas nie.

Veral na binne kyk. Hoe meer ‘n mens na binne kyk, hoe meer heken ‘n mens die diep afgronde in jou eie bestaan en hoe meer begrip kom daar in ‘n mens se eie lewe vir die ander en die manier waarop die ander sy of haar geestelike reis moet loop.

Thursday, January 20, 2011

Die mense van Jesus se tyd.... Wanneer ons so ywerig hande klap.

Mense ervaar dieselfde gebeurtenis op baie verskillende maniere.

Wat vir die een irriteer, maak die ander een opgewonde. Wat vir die een oppervlakkig is, is vir die ander een nuut en oorspronklik.

Dit bedink ek terwyl ek luister na die referate wat tydens die konferensie aangebied word. Die een toehoorder prys 'n spreker uitbundig aan. En langs hom sit iemand anders met 'n frons op sy gesig, duidelik minder beindruk.

Dit is soms nie wat iemand voordra wat die op die gehoor 'n indruk maak nie, besef ek weer eens. Dikwels is dit wie die persoon is en aan watter instelling hy werk. En nog meer: dikwels is die applous beskore vir iemand wat "ons" taal praat, wat "ons" oortuiginge bevestig, wat "soos ons" dink en "soos ons" voel.

Die applous is maar flou vir die een wat "anders" dink en praat.

Opvallend is die rol van vooroordele in waardering van ander mense.

Daarom is dit steeds goed om negatiewe gevoelens en gedagtes oor mense te relativeer. Dit kan gebeur dat 'n mens se vooroordele 'n mens afsluit van gedagtes wat nuwe lewe kan gee en skep.  

Maar miskien is die teenoorgestelde waar: dit is ook belangrik om entoesiastiese applous vir die ander goed te bedink. Dalk is die applous nie so welverdiend soos wat 'n mens dink nie. 

Geestelike groei word bedreig waar iemand maar net oppervlakkig aanprys en alleen maar die bekende en gevestigde dinge wil hoor.

Die mense van Jesus se tyd....

Monday, January 17, 2011

Reg en liefde....

Wie na reg en liefde strewe
aan hom of haar word 'n vol lewe 
en eer geskenk.

Dit is al wat 'n mens nodig het, vertel hierdie stil, eenvoudige vers in Spreuke 21:21

Wie dit het, het 'n vol lewe.

Maar dan kry 'n mens ook nog 'n bonus: eer sal aan jou geskenk word.

Reg en liefde....

Wat meer kan 'n mens soek.

Saturday, January 15, 2011

Om met vriendelike mense in vrede te leef is nkis.....

Thomas van Kempen skryf in sy Navolging van Christus 2.3.15-16:

Dit is nie 'n prestasie om met goeie en saggeaarde mense reg te kom nie. Dit kan elke mens van nature maklik regkry. Elkeen het tog vrede met en hou van mense met wie hy simpatie het.

Nee: om met harde, slegte mense in vrede te leef of met opstandige mense of met mense wat heeltemal anders as ons is, dit is 'n groot genade en 'n prysenswaardige, heldhaftige prestasie.




Friday, January 14, 2011

Wat 'n mens vry maak in 'n tyd van skandale....

In Nederland is daar vandag ook deur die Wikileaks- onthullinge vertroulike inligting wat Nederlandse politici raak, bekend gemaak.


Daar is oor die televisie 'n paar onderhoude met sommige van die belangrikste politieke leiers. 

Maar hulle is lakoniek oor die saak. Hulle verwag geen skandale nie. Want, vertel die Nederlandse eerste minister Rutter, 'n mens moet maar 'n gewoonte daarvan maak om niks van mense te sê wat jy nie voor hulle kan kwyt raak nie. 

En, voeg die vorige Minister van Buitelandse Sake by: Hy het niks vertel wat hy nie ook in die Parlement gesê het nie.

So ken ek nogal die kase. Eerlikheid is 'n deug in die Nederlandse samelewing.

Lewenswysheid. Die egte lewenskuns. Praat maar altyd die waarheid. Dit is al wat saak maak. Want, leer die Boek ons, die waarheid sal jou vry maak - ook vry van allerhande skandale....


Thursday, January 13, 2011

Om alles te verloor, om God te vind.


Onpeilbaar is die vers in Job 15:13, gebid deur iemand wat nie God se dade begryp het nie.

Die ou vertaling lui: “Kyk, al wil God my ombring – ek hoop op God.” (Die nuwe vertaling: “Al sou God my doodmaak, ek kan nie wag nie, ek moet my saak vir God stel”, sê Job nadat hy alles verloor het.)

Deur die eeue het vele, vele mense hierdie gebed bekyk, bedink en soms, dapper, dalk ook gebid.

Die Jode in die Nazi-gaskamers, die verkragte vroue in die Boere-oorlog, die ma’s van sterwende kinders in konsentrasie-kampe, mense met ongeneeslike siektes kom by die punt uit dat hulle besef – God verhoor nie hulle gebede nie.

Dit is dan dat hulle vrees hulle gaan alles verloor terwyl God eenvoudig toekyk.

Job was nie die enigste een nie. Jesaja 45:15 sê dit op ‘n ander manier:

“Waarlik, U is ‘n God wat U verborge hou.”

As God nie ons gebede antwoord nie….  As ons God se weë nie begryp nie… As ons na God verlang en soek om God lief te hê, selfs al sukkel ons om ons liefde vir God nog te verstaan, of selfs te voel.

Dit is nie dat ons verkeerd bid nie. God hoor graag ons gebede.

Dit is ook nie dat ons moet afleer om God te wil manipuleer nie.

Ons moet dieper, dieper insak in die groot Verborgenheid dat ons lewe sy gang gaan, dikwels juis groei, wanneer ons in die diepste duisternis is. Dit het die groot mistici vir ons geleer, is die weg wat iemand moet loop as hy of sy smag om een met God te word. Dit is die weg van stroping.

God stroop ons van alles wat ons nie regtig nodig het nie. Die sintuiglike dinge word van ons weggeneem. Dit word die donker nag van die sintuie.

Maar dit is nog maar die begin. Dan volg die verdere reis – die donker nag van die siel waarin die mens verder gestroop word. En ons het net dit nodig: om volledig, sonder enige pretensies, met niks, by God te wees. Dit is harde jare, woestyntye, waarin geloof worstel, liefde ‘n raaisel is, gebed waardeloos voel. Dit is ‘n pynlike proses van suiwering, om só te leer dat al wat ‘n mens werklik nodig het, God is. Dit is die tyd waarin ‘n mens gestroop word van alle afhanklikheid aan uiterlike dinge en worstelend leer om te waag om jouself volledig te verlaat op die Liefde.  Maar dit is ook die tyd van suiwering, reiniging, die tyd dat ‘n mens gesond gemaak word deur pyn heen, om die volledige vreugde te vind van eenheid met God. “Kyk, al wil God my ombring – ek hoop op God.”  “Waarlik, U is ‘n God wat U verborge hou.”

Só het die Een aan die kruis, angstig, roepend gebid – en toe gelowige gesterf met die wete, ten spyte van sy angs is alles volbring. 

Om alles te verloor, om God te vind.

Blog Archive