Tuesday, March 22, 2011

Die uitverkoping van God. Bybelstudie oor Openbaring (22)

Die middelste van die sewe briewe aan die kerke in Asië, geskryf aan Tiatira, begin mooi (Open.2:18-29). Die gemeente word geprys vir ‘n hele paar mooi eienskappe, het ons in die vorige blog gesien. Vers 19 maak die lysie: liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding.

Maar dan kom daar die minder mooi kwessie in vers 20. “Ek het dit teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan”.  Johannes se taal word skerp. Die gemeente kom kwaai onder skoot.

Johannes raak meer spesifiek oor sy klagte: Isebel is die profeet wat die gemeente "onsedelikheid" laat doen en "afgodsoffers laat eet". Om afgodsoffers te eet is min of meer ‘n sinoniem met onsedelikheid. Die twee is ook in Openbaring 2:14 met mekaar gekombineer. Dit vertel albei van ontrouheid, dubbelhartigheid en selfgerigtheid.

Om onsedelik te wees, is die Ou-Testamentiese beeld vir iemand wat afgode in sy of haar lewe duld. Isebel was die heidense vrou van Koning Agab (1 Kon.16-22). Sy was die profeet Elia se vyand. Sy was berug daarvoor dat sy Israel tot afgodsdiens verlei het.  Sy het daarin geslaag om ‘n hele volk agter haar aan te verlei.

In die heidense konteks van die Nuwe Testament was daar ryk Christene wat dit kon bekostig om vleis te koop wat aan afgode geoffer is. Die vleis was normaalweg te duur vir arm mense. As ‘n mens vleis geëet het, was dit ‘n teken dat jy welaf was.  Ryk mense was boonop gewoond aan ‘n algemene gebruik in hulle tyd: deur vir die afgode en hul tempeldiens geld te gee, kan ‘n mens verwag dat jy deur die gode geseën sal word.

In die gemeente van Korinte, weet ons uit Paulus se eerste brief aan hulle, was daar hieroor probleme. Want terwyl sommige gedink het ‘n mens het vryheid in Christus en die afgode kan daardie vryheid nie bedreig nie, was ander minder seker. Vir hulle eet ‘n mens die vleis en deel dan ‘n geestelike verhouding met die afgode aan wie die vleis geoffer is. Dit is nie maar net ‘n kwessie dat jy hulle ‘n bietjie geld gee en dat jy jou godsdiens nog getrou beoefen nie. Nog meer, wanneer 'n mens betaal, met al die verwagtinge wat daarmee gepaard gaan, word 'n mens se verhouding met God aangetas.

Paulus was hieroor nie so liberaal as wat hy lyk nie. Hy sê vir sy gemeentelede in Korinte dat hulle wel die vleis kan eet, solank as wat hulle ander nie laat struikel nie. Sommige mense is sterk. Hulle verhouding met God word nie bedreig nie. Ander weer, waarsku hy egter, struikel maklik – en dan volg die punt: hulle struikel as gevolg van die voorbeeld van mede-Christene wat meen daar is geen probleem om vleis van afgodsoffers te eet nie. (1 Kor. 8).

Diep in hulle houding oor afgodsoffers skuil daar in die gemeente van Tiatira ‘n stuk selfsug. Isebel en haar groep wil die beste van alle wêrelde hê. Hulle soek om van die Evangelie te getuig. Maar hulle wil ook nog by die godsdiens van hulle tyd inkoop.  Iewers geld God se wil nie meer vir hulle in alle omstandighede nie. Daar is perke, darem: ‘n mens dien wel graag vir God. En tog, as dit by jou eie voordeel kom, is daar ander gode wat vir jou sorg en vir wie jy ook ‘n gebaar van erkentlikheid laat blyk.

Op die manier stel ‘n mens godsdiens op jou eie voordeel in. Wat saak maak, is jou geseënde, gemaklike, lewe en voorspoed.

Hierteenoor vra Johannes dat gelowiges nie net aan hulle self sal dink nie. Hulle moet aan God bly dink – aan wat God van hulle vra, aan geregtigheid, aan gelykheid, aan omgee, aan onwrikbaar getuig. Hieraan moet hulle vashou. Dit is al wat hy vra. Geen ander verpligting wil hy op die gemeente van Tiatira lê nie (Open.2:25).

Wie dit doen, sal die môrester ontvang (Open.2:28). Hulle sal by die Lam as die Môrester (Open.22:16) wees, as sy bruid. Hulle wat tronk toe is, in hospitale ingestap het, klere weggegee het, kos uitgedeel het. Hulle wie se lewens ingestel was op ander.

Hulle sal getooi word in bruidsklere en sal aansit by die bruilofsfees.

Monday, March 21, 2011

Calvinistiese spiritualiteit


Calvinistiese spiritualiteit sal vanselfsprekend verbind word met Johannes Calvyn wat in die eerste helfte van die sestiende eeu leef (1509-1564).

Calvyn se spiritualiteit reflekteer iets van sy eie persoon. Hy het ‘n broertjie dood gehad aan enige hiërargiese strukture in die kerk. Juis daarom ken Calvinistiese kerke nie die Rooms-Katolieke verdeling tussen die gewone “leek” en ‘n priesterskap nie. En nog minder is daar sprake van ‘n hele orde van priesters, biskoppe, aartsbiskoppe, kardinale en pouse nie. Die kloosterlewe het uit sy visier verdwyn. Monastieke spiritualiteit het in sy denke nie plek nie. Daar is nie ‘n “hoër orde” wat na bo spits en al hoe belangrike word nie.

Elke mens staan direk voor God, sonder tussenkoms van ‘n bemiddelende priester of die kerk. Die hoogste amp is die amp van die gelowige. Dit is ‘n spiritualiteit wat die reis van die gelowige hoog aangeslaan het.

Saam hiermee het hy ook afgesien van allerhande formele bykomstighede. Vir hom was die geestelike lewe gevoed in die erediens. In die erediens het dinge heel sober verloop. Sentraal was die ontmoeting met God– veral deur die prediking. En dit is tot in die argitektuur van kerke uitgebeeld. Die preekstoel staan sentraal in die liturgiese sentrum, nie die altaar nie. Dit gaan dus om ‘n spiritualiteit waarin God die inisiatief neem en na almal uitreik. God se stem word gehoor in die Skriflesing, wat ‘n belangrike moment in die erediens is. Die welkomsgroet, die voorlees van die tien gebooie, die lees van ‘n Skrifgedeelte wentel almal om God se spreke tot die gemeente En die prediker se groot taak is om te sorg dat die gemeente begryp wat die Woord beteken. Die hoogtepunt van die erediens is daarom nie die mis nie. In die Woord en die prediking word God teenwoordig.

In die Woord het ‘n mens God se volmaakte wil. Reeds in die Ou Testament gee God die wet, gefokus in die Tien Gebooie. Die Wet bied riglyne vir heiligmaking. Die prediking en die erediens roep dus mense op om die geestelike reis prakties in ‘n rein lewe na te jaag. Wierook rondswaai, liturgiese klere uitstal, goue altare bou, prosesse hou, kerse opsteek en ander uiterlike dinge bring ‘n mens nie veel in die sak nie – het Calvyn eintlik gesê. Wat tel is dat God se wil gehoor word, dat God gehoorsaam word, dat die mens dieper in ‘n verhouding met God ingroei en dat alles uiteindelik tot eer van God gaan.

Sy spiritualiteit het ‘n duidelike mistieke trek. Heiligmaking was vir Calvyn ‘n sleutelbegrip.  Maar dit was nie ‘n soeke na prestasie nie. Vir hom was heiligmaking ‘n reaksie op die liefde van Christus. Calvyn het veel gemaak van die unio mystica. Dit was vir hom die besondere intieme verhouding tussen Christus en gelowiges.Dit is ‘n liefdesverhouding wat tussen God en mens ontwikkel. Sekerlik bring God die mens tot berou. Wanneer die mens na die wet luister, besef hy sy eie onmagtigheid om liefdevol te leef. Maar tog, wanneer ‘n mens met berou sy of haar eie onmag besef, ontdek ‘n mens ook met verwondering God se liefde. ‘n Mens leer God “ken” Dit is ‘n liefde wat inspireer, roep, bekragtig om die geestelike reis te bly loop. Soekend gaan die mens dus op reis, vertrouend op God se liefde. Op die manier word ‘n mens deur God nadergetrek. Dit is ‘n reis in verwondering, want ‘n mens kan God in die liefde nie werklik peil nie. God, onderstreep Calvyn, is ver verhewe bo en totaal anders as die menslike verstand. Menslike taal kan nie God se liefde vir die mens verduidelik of vasvat nie.  

As ‘n mens só na Calvinistiese spiritualiteit kyk, sou ‘n mens dit as Bybelse Spiritualiteit kan beskryf.

Sunday, March 20, 2011

Bernard van Clairvaux se oorlogspraatjies

In ‘n artikel oor monastieke geweld, skryf Pranger oor Bernard van Clairvaux wat in die twaalfde eeu beroemd was vir sy prediking. Hy was ook een van die mees invloedryke kerkleiers in Frankryk en sou later groot invloed op Reformatore soos Luther en Calvyn hê.  Hy was verder bekend as ‘n hervormer van die kloosterlewe wat voor sy tyd sleg verval het. En sy geskrifte het ‘n groot innerlike vernuwing by baie mense en groepe tot gevolg gehad. Boonop was hy ‘n begaafde mistagoog wat mense op ‘n besondere manier pastoraal begelei het.

‘n Man van deugde en iemand om geprys te word, was Bernard.

Maar daar is nog meer: Bernard was bekend daarvoor dat hy nooit toegelaat het dat sy besige lewe sy omgang met die Bybel sou belemmer nie. Hy het ‘n besondere kennis van die  Bybel gehad. Sy werke is deurspek met Bybelse verwysings en hy skryf in Bybelse taal. Meer nog, een van die belangrikste werke was vir hom Hooglied, wat vir hom die besonder intieme verhouding van God met die mens beskryf het.

Pranger skryf sy artikel oor Bernard en geweld, wat nogal ‘n verrassende titel is – gegewe Bernard se bekendheid as die skrywer en mistikus van liefde. Eers vertel Pranger dat ‘n vaste voorskrif vir die monastieke lewe was dat ‘n mens vir altyd aan ‘n klooster verbonde bly.  Dit is uitgedruk met die frase stabilitas loci. Hierdie reël het veral gegeld vir Bernard, want hy was die ab van sy klooster.  Van hom sou ‘n mens juis verwag dat hy hom in sy klooster sou afsonder.

Maar Bernard, skryf Pranger, het hom nie by die reël gehou nie. Hy het nogal dikwels die klooster verlaat en op allerhande reise gegaan. In 1146 gaan hy weer op so ‘n reis, maar hierdie keer om mense aan te spoor om aan die Tweede Kruistog deel te neem. Op versoek van die pous reis hy deur groot dele van Europa om mense tot deelname aan te vuur.

Voordat hy verder op sy onderwerp ingaan, wys Pranger eers daarop dat "Jerusalem" in die Middeleeue verskeie betekenisse gehad het. Eers was dit, soos gebruiklik, 'n historiese verwysing na die letterlike stad in Palestina. Allegories is dit voorts as die Kerk uitgelê. Volgens die derde, mistieke betekenis was Jerusalem ook die hemelse stad en in tropologiese/etiese sin was Jerusalem die menslike siel.

‘n Mens sou dus verwag dat Bernard, vanuit sy monastieke bestaan, hoër oor Jerusalem sou gedink het.

Toe Bernard mense tydens sy rondreise aanspoor om teen die Moslems in die letterlike Jerusalem in Palestina te gaan baklei, het hy, volgens Pranger, skoon vergeet van die mistieke betekenis van Jerusalem as die hemelse stad. Trouens, hy preek vurig teen die heiligskennis dat die stad Jerusalem op lasterlike manier verontheilig word. Die Here ly weer op dieselfde manier as die eerste keer in die heilige stad, preek hy vurig. Die Here roep weer uit: Ek is op pad na Jerusalem om nog ‘n keer gekruisig te word. Hier gebruik Bernard die frase “vox claimanti” – Latyns vir ‘n stem wat roep. En hy gebruik dit om op te roep tot oorlog: Die swaard van die wêreldlike en geestelike magte moet getrek word om Jerusalem deur die kruistog te gaan bevry.

In Bernard se gebruik van die frase – vox claimanti (“Nou word ‘n stem gehoor van hom wat roep: Ek kom na Jerusalem om weer gekruisig te word”) sou vele van sy luisteraars besef het dat Bernard hier met taal van Hooglied vir mense oproep om te gaan oorlog voer. Die man van die klooster, wat hom afsonder om die hemelse stad op te soek, is op reis buite die klooster terwyl hy al wat leef en beef oproep om te reis na die letterlike stad Jerusalem om te gaan oorlog voer. En hy gebruik die Bybel en Bybelse taal om hierdie oorlogstaal so effektief as moontlik te maak.

Dit terwyl Bernard tog goed geweet het van Hooglied as liefdesboek.

Wat dit soveel gedenkwaardiger maak is die konteks van Hooglied: dit is ‘n liefdesverhaal waarin die bruidegom sy liefde vir sy bruid verklaar. Die bruidegom het die kamer van die bruid verlaat om in die veld te gaan rus, voordat hy sal terugkeer na haar. Maar in Bernard se prediking word die liefde uitgelaat en vervang met geweldstaal: die bruidegom is op pad om oorlog te maak, om dood en verwoesting te saai. Onskuldige liefdestaal word geweldstaal.  

Die kruistog wat Bernard aangevuur het, was ‘n mislukking – al het Bernard voorspel dat dit sou goed gaan en dat die oorlog suksesvol sou eindig. Duisende het gesterf. God het hulle oorlog nie geseën nie.

Bernard het nie te kenne gegee dat die geweld en oorlog hom pla nie. Hy het Bybelse taal netjies omgekeer om sy oorlogspraatjies gesag te gee. Dit was maar die manier waarop mense soos hy met die Bybel gewerk het.

Waarom praat Pranger nou van “mistieke geweld”. Hy verwys na die manier waarop Bernard op ‘n “wrede” manier die oorspronklike, historiese konteks van Hooglied ignoreer vir sy oorlogspraatjies. Wanneer ‘n mens dinge uitlaat, belangrike dimensies eenvoudig ignoreer, tree jy gewelddadig op – en dit gebeur selfs onder die vroomste van vromes.

Hierdie artikel van Pranger bring my voor belangrike hermeneutiese vrae te staan. Die belangrikste daarvan is om te vra wanneer spirituele eksegese gewelddadig raak. Nie soseer omdat dit oorlogspraatjies maak nie, maar veral omdat dit beslissende insigte weglaat en ignoreer.

Dit is nogal iets wat na baie kante toe sny. Dit is nou iets om te bedink: monastieke geweld. Tekstuele geweld.

Maar: afgesien van hierdie monastieke geweld of tekstuele geweld, bly ‘n mens verslae staan oor die maklike manier waarop mense deur ‘n mistikus tot oorlog aangestig is. Dit is om van benoud te word.

Saturday, March 19, 2011

Hoe God vra dat 'n mens moet vas (7)


Ek het al in ‘n vorige blog oor Jesaja 58 geskryf. Dit is ‘n ryk teks, met interessante, maar ook belangrike inligting. 

Jesaja 58 laat blyk duidelik hoe belangrik vas in die godsdiens van Israel was. Dit was duidelik 'n gewilde gebruik in Jesaja se tyd. 

En dit was 'n gebruik wat mens op die oog af heeltemal reg gedoen het: In die gedeelte word vas op ‘n boeiende manier verbind met die soeke na God se wil. En dit het mense dikwels gedoen. Wanneer hulle vas, het hulle vertel, wou hulle God se wil vir hulle lewe ontdek. 

Baie mooi.

‘n Mens kry die prentjie van werklik vroom mense. Hulle soek nie net God se wil nie, maar doen ook al die ander dinge: Hulle hou by God se voorskrifte en soek om te doen wat reg is (vers 2). Van God soek hulle regverdige uitsprake. “Hulle vra elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag.” ‘n Mens kan jou in hierdie tekening van gelowiges goed inleef: vroom mense, wat graag die regte dinge wil doen.


Daar is byna 'n stuk mistiek in hul gewoonte om te vas: Dit lyk asof hulle dikwels ingestel was op God se teenwoordigheid:  "Hulle vra My wel om regverdige beslissings asof hulle van my teenwoordigheid hou."

Maar wat loop dan verkeerd? 

Uiteindelik doen hulle nie God se wil nie, maar hulle eie wil. Hulle lewens weerspreek alles waarna hulle so mooi verlang. Hulle baklei onder mekaar en slaan mekaar. En dit alles terwyl hulle so getrou vas.... 

Meer nog, hulle laat hulle werkers nog harder as normaalweg swoeg en sweet. Om te vas sonder om ‘n mens oor ander te ontferm, kos te gee vir die hongeriges, klere vir die naaktes, blyplek vir die dakloses, maak van die vas ‘n bespotting.

‘n Mens kan volgens Jesaja 58 nie God se teenwoordigheid vind sonder om na jou naaste uit te reik nie. Matteus 25:42-43 is Jesus se lectio divina van Jesaja 58. 

Die Ou en die Nuwe Testament praat uit een mond: om te vas, is om God se teenwoordigheid te soek. En dit bring jou by jou naaste. Vas is asof jy die voedsel wat jy nie inneem nie, uitdeel vir ander....  

God vra ‘n sekere tipe vas, sê die slotverse 6-7 in hierdie gedeelte.

Die vas van ontferming – dit is die vas wat God vra.

Hier is die gedeelte weer:

Die Here sê: Roep uit volle bors, moet niks verswyg nie! Laat jou stem hoor, duidelik soos 'n ramshoring! Wys my volk op hulle oortredinge, die afstammelinge van Jakob op hulle sondes. 2 Hulle vra wel elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag. Hulle gee voor dat hulle 'n nasie is wat doen wat reg is en hom aan die bepalings van sy God hou. Hulle vra My wel om regverdige beslissings asof hulle van my teenwoordigheid hou. 3 Hulle vra: “Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?” Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil en die mense wat vir julle werk, nog harder laat werk. 4 Julle vasdae loop uit op twis en rusie, julle dam mekaar met die vuis by. Julle kan nie op hierdie manier vas en dan verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie. 5 Is dit ál wat Ek op 'n vasdag wil hê: net dat 'n mens homself verneder, dat hy sy nek buig soos 'n biesie en in sak en as sit? Noem jy dít 'n vasdag, 'n dag waarvan die Here hou? 6 Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? 7  Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses 'n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?

Friday, March 18, 2011

Vas maak 'n mens ryk (6)


In tye dat ‘n mens vas, is dit goed om steeds weer wyer te dink as bloot net die organisasie van die vastyd. Dit gaan lank nie net om wanneer ‘n mens weer eet of wat presies jy in die vastyd moet eet, waarvan jy jou onthou nie en hoe jy jou afsonder nie. Al hierdie praktiese dinge is die beginpunt van ‘n tyd van afsondering waarin ‘n mens jou geestelike reis in al sy rykheid en in al sy baie dimensies raaksien.

Dit is dus tyd om te kyk hoe vas ‘n mens se visie verbreed. Dit is ‘n tyd om te ontdek waar egte rykdom te vind is.

Wat my opval met vas, is hoe min ‘n mens nodig het om jou honger te versadig. ‘n Stukkie brood is genoeg om ‘n mens weer aan die gang te kry. En, vreemd genoeg, as ‘n mens gevas het, moet jy juis eenvoudig begin eet. Jou liggaam vra voedsame kos. Dit is nie dan tyd om ryk dinge te eet nie. En jy ervaar ook hoe goed jou liggaam voel as jy gesond geëet het.

Daarmee verbreed ‘n mens jou visie om te kan besef hoe oorlaai, eintlik gulsig en uitspattig ‘n mens se lewe kan raak. Jy raak los van aardse, materiële dinge. Meer nog, jy begin besef hoe onvry hulle jou eintlik maak. ‘n Mens begryp ook hoe jy eintlik ‘n hele rykdom van ervaringe misloop omdat ‘n mens so ingestel is op dinge wat jy nie eintlik regtig nodig het nie.

Verlede Sondag was daar ‘n televisie-insetsel oor ‘n 82 jarige non in Aliwal-Noord wat al haar hele lewe lank in Suid-Afrika sendingwerk gedoen het. Op ‘n stadium wys sy haar rondawel waar al haar aardse besittings staan. Sy haal ‘n skotteltjie uit waarin haar daaglikse kwota water skaars hand-diep is. Dit is vir haar genoeg. Sy was haar daarmee, sê sy en sy bly ordentlik skoon. Sy is dol-gelukkig in haar skoon, eenvoudige, netjies rondawel. Sy wil niks meer hê nie.

Dit is die soort lewensstyl wat ook in vas na vore kom. Wat saak maak is nie wat ‘n mens het of nie het nie. Wat tel is hoe jy God dien met wat jy het of doen. Ook daarom is in die vas nie belangrik presies hoe ‘n mens dit doen nie, maar hoe dit ‘n mens in jou afsondering en gerigtheid op God help.

Maar dikwels terwyl oor hier vas skryf, kom een gedagte herhaaldelik by my op. Terwyl ‘n mens vas, het ek gevind, dink ‘n mens dikwels aan mense wat honger ly en nie water het om te drink nie. Vir die eerste keer, ervaar jy wat hulle deurgaan. En dit skok jou eintlik. Des te meer omdat jy weet: jy kan weer begin eet en weer begin drink. Maar daar is baie mense wat nie die keuse het nie. Hulle het nie kos nie en hulle kan nie eers so iets soos water in die hande kry nie.

In ‘n mens se instelling op God, werk hierdie bewussyn van ander se nood om brood en water ook mee. Sulke gedagtes maak van ‘n mens iemand wat hom of haar oor ander ontferm. Vastyd is dus ook ‘n tyd van gebed waarin ‘n mens nader aan God, maar veral ook nader aan mense wat ly, kom. Op die manier wen ‘n mens deur los te raak van alles wat jou vasbind en deur uit te reik na hulle wat honger en dors het.

Thursday, March 17, 2011

Hoe om te vas (5)

Daar is verskillende maniere om te vas. Dit hang dikwels af van die kerklike tradisie of van die gebruike van die groep waartoe 'n mens behoort. 
Die rede vir die baie vorme is eenvoudig: Daar is nie duidelike voorskrifte oor vas in die Bybel nie.

Die algemene beginsel is darem heel duidelik. Dit is 'n tyd waarin 'n mens jou eet en drink van voedsel/drank verminder, om, in gebed en afsondering jou in te oefen in die geestelike reis en in te stel op die verhouding tot God..

Vir sommige mense beteken vas om vir ‘n dag lank of vir ‘n deel van die dag nie kos te eet nie. Soms sluit dit ook in dat 'n mens nie eers water drink nie. Dit is 'n totale vas en beteken totale onthouding. Ander, weer, sal wel matig water inneem, soms met 'n bietjie suurlemoen daarin.  

Daar is 'n verdere, ligter vorm van vas. Op minder ingrypende manier, skakel mense groot maaltye uit. Hulle verminder hulle voedsel inname tot een ligte ete per dag, veral as die vas oor ‘n klomp dae strek. 

Nog ‘n ligter variasie is om te bly eet, maar dan nie sekere soorte voedsel soos vleis te gebruik nie, of om geen alkohol te gebruik nie. Dit gebeur veral in die lydenstyd.

Dan is daar ook verskil in die duur van die vas. ‘n Vas word dikwels vir een dag volgehou, maar dit kan ook veel langer wees. 

‘n Daglange vas beteken meestal totale onthouding van alle voedsel en meestal ook drank. Dit begin met sonsondergang en duur dan tot sonsondergang die volgende dag.

Mense wat nuut is met gebruike van vas, begin gewoonlik met ‘n vas wat 24 uur lank is.

Met verloop van tyd ontwikkel sommige die begeerte om langer te vas. In sulke gevalle het mense ‘n behoefte om vir drie dae of selfs tot sewe dae lank te vas. Maar in geestelike begeleiding word sulke mense aangeraai om die vas stadig te begin deur al hoe minder te eet en dan weer teen die einde van die vas stadig te begin met die inneem van voedsel. 

Deesdae beklemtoon geestelike leiers veral dat onthouding van voedsel gedoen moet word in die lig van iemand se gesondheid. Vas mag onder geen omstandighede 'n mens se ligaam skade aandoen nie. Daarom word mense wat siek is, afgeraai om te vas. Of gevra om 'n vorm van vas te kies wat deur hulle dokter goedgekeur word en wat nie hul gesondheid benadeel nie. 

Die manier van vas is sekerlik nie in wette en regulasies vas te vat nie. Wat wel boeiend is, is dat mense wat vas steeds weer verwonderd is oor die heilsaamheid daarvan. Hoewel dit nie maklik is nie en dit 'n stuk dissipline vra, is dit 'n geestelike oefening wat duidelike voordele het. Mense vertel dat dit 'n gewoonte is wat 'n spesiale effek op 'n mens se liggaam het. Deur minder te eet kan 'n mens reeds goed voel. Maar dit is nie soseer die minder eet wat werk nie. Sommige praat van 'n ligtheid wat 'n mens ervaar.

As 'n mens eers een keer gevas het, is daar 'n begeerte om dit weer te doen - nie net weens die geestelike waarde daarvan nie, maar ook omdat 'n mens jou liggaam soveel beter leer ken. Die merkwaardige is hoe 'n mens 'n lewe lank met jou liggaam kan saamleef sonder om te besef wat dit behels. En deur die vas kry 'n mens nuwe liefde vir wat God fisiek aan jou gegee het. Ook deur die liggaam ontdek 'n mens God se goedheid.

Daarom is vas nie 'n wegvlug van die liggaamlike nie. Dit is juis ook 'n herontdekking van die skoonheid wat God aan ons in die skepping gegee het.

Wednesday, March 16, 2011

Vas as verlange (4)

‘n Mens kan vas met allerhande motiewe. Dit kan ‘n vaste gewoonte wees. Daardeur oefen ‘n mens jou in die dissipline wat vir die geestelike weg nodig is. Maar vas kan ook dikwels ‘n teken van vroomheid wees. Dit is dan ‘n reaksie op die wil van God dat mense ‘n lewe van toewyding leef. Immers vra Jesus in die Bergrede van sy dissipels dat hulle nie hulle lig onder ‘n maatemmer moet sit nie. Hulle moet hul lig in die wêreld laat skyn.

Die eie vroomheid kan egter iewers ‘n poging wees om ‘n houvas op God te kry. Vas word dan ‘n prestasie. Dit is die soort vas waarteen Jesus gewaarsku het: Hy het die Fariseërs vertel dat hulle vas om deur mense gesien te word.


Vas het nie so ‘n magiese werking nie, asof ‘n mens deur vas God se hand kan draai om gunste en beloning nie.


Vas is daarom ‘n stil dissipline. Dit is ‘n persoonlike saak tussen God en die mens. Daar is, vir Jesus in Matteus 6:16-18 niks uitstallerigs omtrent vas nie. ‘n Mens hou jou netjies, asof jou lewe sy gang gaan, vertel Matteus 6:17. Dit is iets wat niemand aangaan nie. Net die Vader sien dat die mens vas.


Uiteindelik is vas ‘n teken van ‘n gespanne verlange om by God te kan wees. Dit is ‘n manier om met gefokusde aandag die begeerte na God se teenwoordigheid aan te wakker. Dit vertel van ‘n besef dat mense weet dat hulle nie in hulself rus kan vind nie. Dit is die teken van afwagting – op God, op die vervulling van dit waarna die mens se hart intens verlang.


Die vroeë Christene het dikwels, daarom, kort hartsgebede gesing:


Kyrie eleison.  Maranatha.


Dit, die gebed om die koms van die Here – in Grieks (Kurie eleison) en Hebreeus (maranatha), is ook gebede wat by die vas pas. Eenvoudige gebede. Hartsgebede.


Dit is belangrik om vas en verlange te verbind. Dit gee ‘n heeltemal ander kleur aan vas. Dan is dit nie ‘n pligpleging nie. Dit word ‘n tyd waarin ‘n mens in gebed afgesonder is. Maar steeds weer met een doel voor oë: om op die Here te wag.

Tuesday, March 15, 2011

Vas en vreugde (3)



Wanneer ‘n mens vas, is ‘n mens se gedagtes in self-ondersoek besig met dinge wat in ‘n mens se lewe skeefgeloop het en waaroor ‘n mens spyt het. Dit is ‘n tyd van berou – vandaar Aswoensdag, het ons gesien, waarin ‘n mens as te ware in “sak en as” is en die as op ‘n mens se voorkop gemaak word.

Dit is soos wanneer ‘n mens in die lydenstyd die lydensweg van Jesus volg met die bewussyn hoe daardie lyding vertel van die mens se harde verset teen die geskenk van die Liefde. ‘n Mens kan maklik op hierdie menslike verwerping bly fokus. Jesus se lyding kan dus meer ‘n skuldgevoel oor die mens se verset teen God wakker maak, as wat dit die dieper moment – die Liefde wat die verset oorwin, na vore bring.

In die praktyk kry ‘n mens hierdie reaksie nogal dikwels wanneer mense byvoorbeeld weier om die nagmaal te gebruik oor iets wat verkeerd gaan in hulle lewe. Hulle kyk vas teen hulle skuld of ander se skuld, en eien nie die genade toe wat juis ondanks die skuld geskenk word en ‘n mens bekragtig om nuut te leef en te vergewe.  

Vas, ook die berouvolle nadenke oor Jesus se lyding, bied juis die oomblik om die “afgod” van eie sonde-besef te deurbreek. Die lydenstyd moet mense help om hulle op God se genade te beroep. Dieselfde gebeur wanneer ‘n mens vas. Deur vas word die aandag sterker op God as God van liefde gerig as op ‘n mens se eie ervarings waaroor ‘n mens berouvol nadink. Nouwen skryf dat vas mens eerder moet bring by die punt dat ons besef God se barmhartigheid is groter as ons skuld. Waar anders ontdek ‘n mens God se goedheid as in die liefdesgawe van die Seun – die Een wat sy lewe afgelê het vir sy vriende?

Dit is waarom vas saamloop met die lees van Bybeltekste, nadenke daaroor, gebed, stil wees en gedurige afsondering tot God. Die gedagtes word opgetel, juis verby alle konkrete, aardse dinge na die Bron van die Liefde.

Om te vas bring dus vreugde. Dit kom nou wel nie maklik nie. En tog, vele vertel hoe hulle tydens ‘n vas, ten spyte van die ontbering, of miskien juis deur die ontbering, ‘n ligte gevoel oor  hulle voel kom. Dit is meer as net ‘n ligtheid omdat ‘n mens in afsondering is. Dit is meer as net die afskud van al die onnodige laste wat ‘n mens dra, of die toeëienig van God se vergifnis. Dit is ‘n dieper ligtheid wat te doen het met die wete dat ‘n mens in God se wil leef, meer nog, dit is die nuwe krag wat ‘n mens voel as iemand wat op God wag.

Blog Archive