Friday, March 27, 2009

Desmond Tutu en die Dalai Lama

Op die televisie is daar ‘n onderhoud met Desmond Tutu oor die weiering van ‘n visum aan die Dalai Lama. Die verontwaardiging lê swaar oor sy gesig. Met die erns van ‘n profeet vat hy die regering aan. By name loop Trevor Manuel deur. Elke profetiese woord drink ek soos koel waters in ‘n woestyn in.

Ek onthou ‘n besoek, omtrent twintig jaar gelede by Tutu in sy ampswoning in Bishopscourt. Ons het met hom oor die opleiding van predikante gesels. Hy het met aandag na ons geluister. Maar wat ek meer onthou is die spontane manier waarop hy vertel het dat hy soggens vroeg op sy eie sy geestelike oefening hou. Hierdie besig man, aartsbiskop, toe al reeds ‘n geestelike vader van die wêreld, wat elke oggend by God in stilte verkeer.

Ek onthou hoe ek my ma kort daarna geneem het om in Grahamstad se katedraal ‘n diens van hom by te woon. Ook in die katedraal het die innerlike aanraking van Bo na buite gestraal. Ons was almal diep beÏndruk deur sy skalkse en lekker humor. Miskien daarom dat my ma, self nie altyd op haar gemak buite die N.G. erediens nie, so bietjie stiller was, met sagter humor vertel het hoe hy haar by die deur sowaar gegroet het.

Ek het soms nie met hom saam gestem nie. Ek dink hy het nog iewers wel ‘n skewe beeld dat Afrikaanse mense diep in hul hart rassisties is. En hy wil hulle daarvoor verantwoordelik hou. En hy is ook iewers reg om dit te dink en om verantwoording te vra. Maar ek dink nie Afrikaanse mense is meer rassisties as ander nie. En sy manier van verantwoording vra was een of twee keer vir my te taai.

Ek staan nietemin al die jare en veral na die onderhoud vandag opnuut weer in diepe dankbaarheid voor God dat daar nog profete in die land is. En kwaaies ook. Want soos ‘n kwaai oordeelsprofeet waai hy aan die einde van die berig ‘n vinger voor die regering: onthou julle is nie God nie, sê hy twee keer. En julle sal nie die mag vir altyd hê nie.

Soet-bitter profetiese woorde.

In die koerant lees ek allermooiste aanhalings van die Dalai Lama: o.a. dat hy gesê het ons moet nooit ons teenstanders skade aandoen in ons opposisie nie. In al ons kritiek teen mekaar moet ons steeds ontferming uitstraal.

In Tibet word mense dood gemaak, hulle vryheid ontsê, verdrukkende strukture in stand gehou deur ‘n brutale Chinese hegemonie. Die magskloue versmoor nie net ‘n klein, weerlose gemeenskap nie, maar strek sy tentakels duisende kilometers verder om enige vorm van meelewing met die weerloses te keer.

Dis inderdaad om van naar te word.

En as Trevor Manuel, een van die suksesvolste ministers in die wêreld, soos almal hier rond graag oor hom praat, hierdie situasie goed praat, is dit ‘n teken van hoe laag ons gedaal het – soos Tutu inderdaad in die onderhoud sê. Iemand wat in die loopgrawe van ‘n bitter stryd van jare teen rassistiese magsvergrype baklei het, buig die knie voor geld. Daar was Iemand wat lank terug hieroor gewaarsku het dat ‘n mens nie twee Here kan dien nie. Jy sal moet kies tussen Mammon en die God van geregtigheid.

Dankie, Desmond Tutu. Dankie Barbara Hogan. Julle dapper en uitdagende verwerping van onreg getuig nie net van ‘n innderlike diepte nie, maar laat my besef hoe nodig dit is om steeds weer in stilte voor God te bly – sodat ons nooit vergeet dat God teen onreg is en die magshebbers wat onreg perpetreer soos kleikruike stukkend sal breek nie. En hieruit leer ek weer hoe belangrik ontferming is.Want 'n mens kan jou lewe opgee om verbrand te word vir die saak van geregtigheid, maar tog nog self op 'n keer weer 'n instrument van onreg word. Dis nie maklik om altyd aan die kant van geregtigheid te wees nie.

Uiteindelik moet 'n mens naby aan God bly, sodat 'n mens gedurig God se wil vir wat reg is, jou eie kan maak. Van die vroegste oomblikke van die dag tot die laaste sekondes voor jy insluimer. Maar dit moet 'n mens altyd met kompassie, met ontferming bly doen - al beteken dit dat jy soms hard sal praat, selfs met jou naaste mede-stryders.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive