Wednesday, March 18, 2009

Oor vervreemding tussen God se kinders

Uit sy eie vertel hy my van ‘n vriend van hom wat by sy pastor raad gaan soek het. Vol innerlike angs, gevoelens van self-verwerping, onsekerheid oor eie identiteit het hy vertroulik gaan praat met die man van die Here. Om klaring te kry, op soek na heling. Hy het sy hart uitgestort en die gordyn oor die diepste deel van sy verborge binnekant oopgeskuif . Niemand het nog ooit ‘n kykie gehad op sy binnekant soos die pastor, die herder, die man van God nie.

Daardie aand, op pad huis toe, is hy aangeval deur ‘n groep kinders wat hom spottend en tartend van sy fiets afgeruk het en stukkend geslaan het. “Jou vuil gemors,” het hulle agter hulle maskers gesis terwyl hulle sy diep geheim lasterlik aan hom terugvertel het.

Een van die kinders wat hom so genadeloos geslaan het, het hy herken. Hy het geweet waar die haat vandaan kom en toe ook besef hoekom dit so vinnig die rondte begin doen het. Een van die aanstigters van die haters wat hom half bewusteloos agtergelaat het, was die pastor se seun.

Stilweg het sy vriend vir my hierdie storie vertel. Ek is ingeskuif in die rol van ‘n pastor: sy oë, vol vriendelikheid en sagtheid, was die oë van ‘n verslae jong seun. Hy was een van my studente wat met niemand anders hieroor kon praat nie, wat nêrens sy ongeloof kon deel oor wat met sy maat gebeur het nie.

Ek kon verstaan waarom hy predikant wou word. Hy gee om vir ander, is ingestel op mense, is gevoelig vir lyding en wil swaarkry beveg. Hy verafsku geweld – fisieke geweld, maar veral ook die geweld wat gerig is teen die swakkes, die eenvoudiges, die verwondbares, die innerlike gekwetstes. En wat dikwels., te dikwels, in die naam van die Here as ‘n heilige oorlog teen die kwaad gevoer word. Hy was skerp genoeg om dit te kon aanvoel en raaksien en vir homself uitspel: hierdie aanslag in die naam van die goeie op die wat minder krag het, op hulle wat soek na heling, na erkenning en na menslikheid. En hy kon ook al weer in nuwe tye raaksien dat al die ou sondes wat ons so netjies gekatologiseer het, niks anders was as ons regverdiging vir geweldsgrepe teen mense wat anders as ons is nie. Die geweldsgreep wat in die naam van uniformiteit en hegemonie oor ander uitgeoefen word.

Hy was ‘n jongmens, vol ideale in daardie vriendelik blik van hom. Ek het ook geweet van die kolle in sy eie lewe, die onvriendelike kante, die harde woorde, soms die seermaak-dade wat hy op sy beurt vir ander aangedoen het. Ons misreken ons met apokaliptiese denke: daar is nie net goeie of slegte mense nie. Openbaring leer ons daar is goed en sleg. En mense, ook die kerk, word handlangers van die kwaad of die goeie – al gelang na hul besluite in reaksie op God se aanbod van liefde. Ook hy dus, hierdie jong seun met sy skerp intellek, sy omgee vir ander, het, dit weet ek, my teleurgestel met sy eie tekortkominge.

Dit is nie ‘n vinger wat ek wil wys nie. Ek maak myself bewus van hoe nodig dit is om in my eie lewe konsekwent die kant van die goeie te soek. Die verhouding tussen God en mens, die raamwerk van spiritualiteit, is nie altyd duidelik nie.Mense van God kan ook satanies optree. Dus moet ‘n mens egte transformasie soek – transformasie wat mense heel maak en nie afbreek nie. En dit is nie maklik nie – dit is ‘n lang proses waarin ‘n mens foute maak. Die pastor wat sy skaap aan die wolwe uitgelewer het en die student met sy eie feilbaarhede.

Ek het kontak met hom verloor na sy studie. Tot nou onlangs.

*

Ek was lank sy predikant – deur moeilike tye, toe hy in sy werk deur troebel tye gegaan het. Hy was ‘n ervare professionele mens wat met toewyding sy werk gedoen het. Ons het ure saam deurgebring omdat ek op meer as een manier by sy instelling betrokke was en dikwels daar moes uithelp met komiteewerk. Ek onthou van hom een groot storie wat my diep beïndruk het. Onpretensieus vertel hy my hoedat iemand hom jare gelede van iets beskuldig het waaraan hy geen aandeel gehad het nie. Hy het die skuld op hom geneem en daarvoor vir lang tye daarna verwyte ontvang. In die opsig was hy vir my amper ‘n Christus-figuur wat lyding vrywillig op hom geneem het om ‘n bose kringloop van geweld tot ‘n einde te bring. Ek was, ten spyte van al sy gebreke, ja, dié het hy ook gehad, altyd verseker van sy integriteit en het hard baklei om hom te ondersteun vir ‘n belangrike aanstelling.

Die afgelope twee jaar is hy deur ‘n vernietigende krisis waarin hy dit wat vir mense die kosbaarste is, sy dierbares, verskriklik wreed verloor het.

Hy is nie meer ‘n kind nie. En hierdie houe lê soos etterwonde oor sy lewe geslaan. Jy kan sien sy oë het leër geword. Die binnekant is maar dor, die lewensverwagting is min, die lyding diep en pynlik. Dit is een van daardie situasies waarin ‘n mens byna nie meer getroos kan word nie. Jy kan maar byna net oorlewe.

*

Ons praat oor sy nuwe dominee in die nuwe dorp waar hy gaan bly het. Dit is ‘n jong outjie, vertel hy my nadat ons al die nuus oor die ou dinge ingehaal het en stilweg oor sy innerlike rouheid begin gesels, vol ideale en woelig. Hy wil allerhande dinge nuut doen en baie probeer verander. Hy bedoel dit goed om mense uit hul groef te kry, om nuwe lewe in die kerk te blaas.Maar, sê hy vir my, hy kan dit nie meer meemaak nie. Dit is fieterjassies. Oppervlakte dinge. Dit skuif die meubels net na ander plekke sonder om werklik iets te verander. Die hart bly roep na dit wat oor die eeue heen getroos het – die boodskap van die evangelie, die ou-ou tyding.

Sy nuwe dominee is my oud-student, besef ek toe hy die naam vir my sê.

*

Spiritualiteit kan nie gemaak word nie. ‘n Mens wag op God se aanraking. En geen nuwighede of fieterjassies gaan dit aanhelp nie. Maar spiritualieit kom ook weer altyd op nuwe maniere: wat gewerk het vir ‘n vorige geslag moet somtyds deur ‘n nuwe briesie opsygewaai word.

Twee mense na God se hart. Maar die vervreemding tussen hulle, so totaal onbegryplik, het 'n duidelik spoor op hulle albei gelaat.

My hart huiwer: die jong, ywerige, vriendelike, goedbedoelende, sagte outjie wat met blink verwagtinge alles wil regmaak wat die kerk altyd verkeerd gedoen het. Die ouer, lewensmatte gelowige wat deur die driwwe gaan en wat wil vashou aan alles wat altyd vir hom sekerhede was. Hoe kom hulle bymekaar? Het die teologie daardie arme outjie ook in ‘n wolwe-pastor begin vorm, die donker kante van hom laat groei? Het die verlies die ouer mens met die rou binnekant se hart met te dik rowe van rou en donkerheid te flou laat klop?

Daar is nie resepte nie. Daar is net die een uitkoms – die weg van egte spiritualiteit. Om op die Here te wag, biddend, afwagtend, tastend, nederig. Miskien selfs nie eers dit nie: eerder om die ander een te gaan haal – daardie stukkend geslaande een en by hom of haar te wees in sy pyn, voor die Here.Dus is die proses, die lewensreis eintlik om saam op reis te gaan.

Dit het ek tog baie gesien: al die aande wat ek gedink het ek mors tyd, menslik gesproke, as ek by ‘n huis ingestap het en oudedoos, die Bybel uitgehaal en gebid het – vir die Here dat die huis waar ek was God se liefde sal ervaar, maar ook vir mense, dat hulle heel sal word, by God genesing sal soek, in afwagting nooit die hoop sal opgee nie en veral in liefde sal vashou. Aan mekaar, maar bo alles aan God.

*

As ek maar net hierdie twee mense bymekaar in een kamer kon kry sodat hulle hul lewensverhale vir mekaar kon vertel en kon agterkom hoe onmiskenbaar God gewerk het in hulle geskiedenisse.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive