Thursday, March 19, 2009

Spiritualiteit, mistiek en die liefde.

Ek bly dink aan die Zimbabwiër, Roy Bennett, se vrou wat in ‘n koerantonderhoud vertel hoedat hullle feitlik al hul besittings verloor het. Hulle was welaf, maar met die beslagleggings is hulle verarm.

Sy wil teruggaan, sê sy. Aardse besittings, het sy geleer uit hulle trauma, tel nie regtig baie nie. Daar is ander dinge wat meer saak maak.

In hulle geval het hul lyding hulle gestroop van alle verknogtheid aan die verganklike dinge.

Ek dink aan die geskiedenis van Franciskus van Assisi wat uit ‘n rykmanshuis gekom het en die ideaal van armoede gekies het. Sy keuse het deur die eeue heen ander geïnspireer om verby die tydelike te kyk na wat werklik saak maak.

Wat maak werklik saak?

Verhoudings maak ons nie regtig gelukkig nie. Die baie huweliksverhoudings wat tot niet gaan, die groot getal ongelukkige kinders in gesinne is maar enkele voorbeelde dat verhoudinge selfs vernietigend kan wees.

Ek hoor van iemand wat ‘n rubriek lees van Wilhelm Jordaan oor hoe hy na sy pa verlang. As hy hom weer in die hemel raakloop, sluit hy sy rubriek af, moet niemand hom kwalik neem nie as hy eendag almal oorslaan en eerste gou by sy pa gaan draai om te hoor hoe sy pa vir hom sê: dagsê ou boet. Hoeveel mense het daardie rubriek gelees en gewens hulle kon ook so verlang om by hul pa te wees? Want almal weet dat ‘n liefdevolle pa, ‘n dagsê my boetman-pa ‘n stormvrye hawe is wat jou hele lewe draaglik maak. Wanneer dinge skeef loop, die rat race oorneem, is pa se kalm daar-wees heeltemal genoeg. Dit is nie verhoudings wat tel nie. Dit is liefdevolle verhoudings wat ‘n lewe vol maak.

Het ons dit nie al baie gehoor nie: ons is nie ryk aan aardse besittings nie. Maar ons is ryk aan ons kinders, of ons ouers, of ons familie. Ons is ryk aan hulle liefde.

Wat my laat dink aan daardie rubriek so paar jaar terug, waar weet ek nie meer nie. Maar dit was van die siniese jong lat, pas-gegradueerde wysheid staan oor sy rubriek geskryf, se storie wat hy na kersfees en die vakansietyd skryf. Ja, skryf hy, lakonies, noudat kersfees verby is, die lewe weer sy gang gaan, duik die herinneringe aan die goeie tye by die see met die hele familie kort-kort weer op. Die ooms wat opdaag en op die stoep hul braai gaan braai en vir die soveelste keer hul ou praatjies maak. Oupa en ouma wat om die draai gestrompel kom en die swerm kleinkinders een vir een omhels, druk, bepraat en uitvra. En dan tant Liefie, die een met die snor, wat al wat ‘n man is bydam en ‘n vieslike nat en lang soen op die mond gee (sommiges, veral die jong seuns, vlug vinnig om die draai as tant Liefde met haar tuitlippe sien aankom). Soms, as die stroomversnellings heftig raak, dink hy selfs met nostalgie terug aan daardie nat soen (sê ek het hy geskryf).

Wat maak werklik saak? Spiritualiteit vertel van hoe ons totaal verander word in ons verhouding met God. Dit is nie maklik nie om in God se liefde te groei nie – ons leer dit op die harde manier want ons neig so om vir onsself lief te wees en vir ons in te palm. Soms moet ons deur lyding gaan om God se liefde raak te kan sien, ‘n liefde wat alleen helder voor ons is wanneer al ons verganklike steunpunte uit die pad geneem is. Soms sit ons terug na ‘n dag se werk of na jare se toegewyde sweet en besef wat Thomas a Kempis gesê het bly waar: waar is al die groot manne en vroue van weleer wat so die toneel oorheers het? En ons verstaan waarom hy dan ‘n pragtige lied oor die liefde skryf en homself tuisvoel by die Nuwe Devosie, die nuwe toewyding. Dan besluit ons alles is sommer bol, soos Prediker skryf, al ons sug na roem, rykdom, uiterlike. En ons val terug op die liefde. En ons is spyt dat ons dit nie lankal gedoen het nie. En jammer dat ons weggehardloop het toe tant Liefdie ons ‘n nat soen wou gegee het. Want sy het dit uit liefde gedoen, daardie ou nat soen, die familie-grap. En nou is sy weg. Maar ons gedagtes is ryk aan humor en aan volheid omdat sy die nat-soener was.

Dan gee ons alles wat verganklik is, prys. En dit kom dalk nie so moeilik nie, want ons lees Paulus se liefdeslied wat vra: wat baat dit ons dat ons al ons goed uitdeel en ons het nie die liefde nie? Dit is nie wat ons prysgee wat saak maak nie. Of al ons grade nie. Of ons heldedade wanneer ons berge versit nie of ons liggaam oorgee om verbrand te word nie. Wat saak maak is die liefde, die liefde. Dinge kan nie liefhê en liefde gee nie. Mense kan. En, dalk, veral, God gee liefde en maak ons tot liefde. Daarom kan ons, as ons regtig dieper kyk, ontdek tant Liefie is nie eintlik weg nie. Pa, die ou boet-pa, is nou in God se groot liefdesarms opgeneem. En ek, verlangend na pa wat my op sy skoot tel en vir my ‘n storie vertel, sommer maar net, kan weet, die liefde wat uit hom in my lewe gevloei het, is die goddelike liefde wat ook uiteindelik my deel is. As ek my maar net daaraan oorgee, altyd weer, met toewyding, as ‘n lewensproses, sal ek in God tot rus kom. Daar is niks groter as die Liefde nie. Want God is liefde. Daarmee kom spiritualiteit by sy kern uit: die groot geheim waarvoor ek te staan kom – om volkome een te word met die Liefde, met God sodat dit deur my kan vloei na hulle wat smag na onverganklikheid.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive