Monday, March 30, 2009

Spiritualiteit is nie ‘n oppervlakkige vroom, on-teologiese saak nie. Dit wil juis graag praat oor God en ook diep nadink oor hoe God mense radikaal omvorm tot `n nuwe lewe. Dit vra meer oor wie God is en hoe God die mens in liefde aanraak. Dit wil ook nadink oor wat van die mens word as hy of sy eers eenmaal God se liefdesaanraking ervaar het.

Maar spiritualiteit wil nie net “dink” en “redeneer” nie. Dit wil nie met allerhande slimmighede en met haarkloof-argumente oor abstrakte teologiese onderwerpe of kwessies redeneer nie. Dit probeer ook nie filosofeer oor kerklike leerstelling, oor groot geloofsbelydenisse of heilige aansprake nie, al is sulke sake nie onbelangrik nie. Spirtualiteit is nie bloot maar net nog 'n intellektuele benadering tot God nie.

Spiritualiteit wil in die eerste plek kyk na hoe mense hul geloof ervaar. Op watter manier en hoe word geloof vir mense iets wat ‘n daadwerklike verskil aan hulle lewens maak? Dit wil meer weet oor wat met mense gebeur wanneer God in hulle lewens inkom. Dit kan ook beteken dat sulke mense anders oor God dink as vroeër. Maar so ‘n ontmoeting kan baie meer as mense se brein omvorm. Spiritualiteit gaan dus nie net oor “wat” mense glo en of hulle “reg” glo nie. Dit wil veral ook kyk na hoe mense se geloof op ‘n dag vir hulle ‘n werklikheid word. Wat gebeur met mense konkreet as hulle hierdie mistieke oomblikke beleef waarin God in hul lewens kom en hulle oorweldig met ‘n goddelike teenwoordigheid? Hoe gebeur dit dat hulle op ‘n sekere tyd of plek bewus raak van ‘n goddelike aanraking? Hoe ervaar hulle God? En hoe dink hulle na die tyd oor hulleself? Wat gebeur met hulle as hulle eers eenmaal die onbegryplike ervaring van God gehad het? Wat voel hulle? (Pascal is drie uur lank in ‘n staat van verrukking) Hoe vergelyk dit met wat hulle voorheen ervaar en beleef het? Hoe beïnvloed dit hulle geestelik reis? Watter besluite neem hulle daarna? (Franciscus van Assisi volg die ideaal van armoede). Hoe kyk hulle na mense rondom hulle? (Merton loop in die straat en voel meteens ‘n oneindig liefde vir die wêreld). Hoe dink hulle oor hulleself? Wat was vir mense belangrik en wat word vir hulle belangrik as hulle op ‘n dag deur God verander is?

Spiritualiteit vra dus wat vir mense werklik saak maak. Wat is dit waarna hulle in hul diepste hart verlang? Wat is vir hulle die belangrikste in hul lewe? Waarvoor sal hulle alles opoffer? Wat is vir hulle regtig op die spel in hul lewens?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive