Tuesday, March 24, 2009

God se transformasie en my pogings - 'n mistieke antifrase?

Hoe gebeur die genade om God se wil uit te leef?

Om God se gesag te aanvaar beteken om ‘n mens aan God te onderwerp en om jou lewe volgens God se wil in te rig. Dit kan so maklik ‘n formele erkenning word: Laat U wil geskied. Maar God se wil moet nie net aanvaar word nie. Dit moet juis ook uitgeleef word. Om te bid dat God se koninkryk kom, beteken ‘n wilsbesluit om volgens God se gesag te leef. (Sien ook Vincent Brummer: What do we do when we pray, p. 61 – ‘n mooi boek, met ‘n fokus op spiritualiteit en die mistiek!)

Ek dink dikwels na hieroor. Omdat dit beteken dat ek ‘n lekker leefstyl moet prysgee om een met God se wil te word, bly dit meestal by die blote, (skynheilige) erkenning van God se wil. Dit is dus moeilik om getransformeer te word. Die weersin is sterk. Iewers moet ek die genade ontvang om hierdie goddelike wil ook en veral uit te leef en bonatuurlik wedergebore word.

Maar hoe ontvang ‘n mens die genade? Deur die Gees, weet ek. Sit jy en wag totdat die Gees eendag besluit om ex machina jou te beset en masjien-agtig te transformeer?

Maar ek het ook al gesien hoedat ‘n poging om die kwaad in jou lewe teen te staan, iewers onverklaarbaar ‘n innerlike vrede in jou bewerk. Dit is vreemd – asof die Gees se genade en jou sweet twee kante van een munt is. Is dit ook ‘n mistieke antifrase? In my fragiele pogings en stryd teen die kwaad kom die Gees fluisterend aan die werk in my en por my om God se gesag in my lewe te herken deur dit ook uit te leef.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive